MOI2024-01-31T11:00:29+02:00

Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI)

Bestuur deur Atterbury Trust

MOI is ’n hoërskoolbeursprogram wat gerig is op omvattende ondersteuning aan behoeftige, bruin Afrikaanssprekende leerders met sterk leierseienskappe, goeie karakter en die wil om te leer en presteer.

Alle aktiwiteite en interaksies word gebou op die kernwaardes van MOI

Nederigheid Om ander hoër as jouself te ag.
Waagmoed Om in geloof te leef, ongeag omstandighede.
Vennootskap Samewerking met ’n gemeenskaplike doel.
Uitnemendheid Om te strewe om deurgaans jou eie verwagtinge te oortref.
Rentmeesterskap Verantwoordelike bestuur van my gawes en hulpbronne deur self daarmee te woeker en te fokus op ‘my verantwoordelikheid’ eerder as ‘my reg’.

Leerders kommunikasie met koördineerders

Kommunikasie met die koördineerder(s) is van kritiese belang sodat hulle die nodige ondersteuning aan leerders kan bied. Dit is belangrik dat die koördineerder(s) ten alle tye die korrekte kontaknommers van leerders het. Daarom is dit raadsaam om seker te maak dat leerders gereeld met hulle koördineerder(s) in aanraking kom en enige verandering in kontakbesonderhede spoedig deurgee.

Ons koördineerders van die Leerderondersteuningseenheid en Mentorskapprogram ondersteun leerders om enige struikelblokke wat hulle teëkom die hoof te bied. Ons wens beurshouers alle sukses toe met hulle studies met die vertroue dat elkeen in die komende jare hulle volle potensiaal sal bereik.

MOI nuus

Loopbaanvoorligting- en beplanning

Die belangrikheid van vakkeuse- en loopbaanvoorligting

Loopbaanvoorbereiding behels baie meer as net om die regte werk te kies.

Die beginpunt is om te weet ‘wie ek is’ en dan ’n gepaste loopbaan te kies wat die beste by my menswees en drome pas. Talle faktore speel ’n rol in die proses om ’n suksesvolle beroepskeuse te maak. Een van die eerste oorwegings is ’n realistiese en ingeligte vakkeuse vir graad 10 tot 12. ’n Leerder se vakkeuse is belangrik vir ’n gegewe toekomstige loopbaan en moet daarom deeglik oorweeg word. Jou vasberadenheid en prestasie in elk van jou vakke sal bepaal tot watter tersiêre studieveld jy toegang sal verkry. Spesifieke loopbaanvelde het minimum toelatingsvereistes wat jy in gedagte moet hou wanneer jy jou vakke kies, want die verkeerde vakkeuse kan in die toekoms implikasies vir jou studies inhou.

Dit is nie ongewoon om op hierdie ouderdom nog onseker te wees oor jou moontlike loopbaan nie en as dit die geval is, is dit belangrik om vakke te kies wat jou in staat sal stel om verskillende moontlike loopbane te kies. Voordat jy jou vakke vir graad 10 tot 12 kies, moet jy jou belangstellings in ag neem, jouself leer ken, loopbaangeleenthede verken, inligting versamel oor beskikbare opsies en uitvind wat die vakvereistes vir die verskillende loopbaan- /studierigtings is.

Voorbereiding vir ’n loopbaan vereis dat jy voortdurend jou kennis oor jouself moet uitbrei en loopbaanverwante inligting moet evalueer, terwyl jy die breër konteks van verandering in ag neem.

As jy jou voorberei om ná skool verder te studeer, is beroepsvoorligtingsevaluering belangrik, aangesien die uiteindelike doelwit is om ’n loopbaan te vind wat die beste by jou pas. Dit is ’n deurlopende proses wat vereis dat jy na moontlike kursusse en loopbane kyk wat by jou persoonlikheid, belangstellings, en dit waarvoor jy aangelê is, sal pas.

Psigometriese toetsing sal jou help om meer helderheid oor jouself te kry wanneer jy vakkeuses en loopbaankeuses moet ondersoek. Die resultate van so ‘n assessering sal jou help om meer bewus te wees van jou sterkpunte, leemtes, voorkeure en prioriteite. Op sy beurt bemagtig dit jou dan om ingeligte en doeltreffende keuses te maak.

Voordele van vakkeuse- en loopbaanvoorligting

Beroepsvoorligters hanteer die aanlegtoetse en interpreteer dit om jou aanlegte en leemtes te identifiseer. Jy kan dan die inligting in gedagte hou wanneer jy jou loopbaankeuse maak.

Beroepsvoorligters hanteer assessering van jou belangstellings wat op sy beurt jou belangstellingsvelde bevestig en jou help om beroepe te vermy wat jy nie sal geniet nie – dit brei jou kennis oor jouself uit en herbevestig jou belangstellings.

Talle skoliere maak klaar met skool sonder enige hulpbronne of voorligting oor werksgeleenthede en het net ’n vae kennis daaroor. Hulle het min insig oor die geskikste loopbaanrigting wat by hulle vermoëns, belangstellings en persoonlikheid sal pas en word uiteindelik gefrustreerde en onvervulde werknemers.

Beroepsvoorligters rus jou toe met kennis en hulpbronne sodat jy ’n ingeligte loopbaanbesluit kan maak. Hulle kies nie ’n spesifieke loopbaan vir jou nie, maar bied aan jou keuses wat jy moontlik al oorweeg het of dalk nie, en bied jou hulpbronne en ondersteuning sodat jy ’n ingeligte besluit kan neem. Onthou dat MOI deurentyd daar is om jou te ondersteun en by te staan met jou vakkeuses en loopbaanvoorligting- en beplanning. Dit is iets om na uit te sien.

Leierskapsontwikkelingsprogram

Ons fokus is nie net om jou akademies te ontwikkel nie, maar om jou in ‘n toekomstige leier met ‘n sterk geestelike onderbou te ontwikkel. As toekomstige leiers van ons samelewing, wil ons toesien dat ons leerders erkende leiers word wat met integriteit die leiding neem op plaaslike, nasionale en internasionale vlak. Ons leierskapsontwikkelingsmodel is op drie pilare gegrond: ‘Lei Jouself’, ‘Lei Ander’ en ‘Lei die Samelewing’.

Ons streef om deur hierdie program goed aangepaste, invloedryke en leergierige leerders te ontwikkel wat in Christus geanker is as hul persoonlike Verlosser.

Ons wil hê dat jy jou leierskapsvaardighede deur hierdie program uitbou en betrokke raak by die geleenthede wat deur die program vir leerders beplan word. Jou betrokkenheid is verpligtend vir alle geleenthede soos mettertyd gekommunikeer sal word.

Holistiese welstandsprogram

By MOI streef ons daarna om omvattende ondersteuning aan ons leerders te bied en fokus dus nie net op jou akademiese prestasies nie, maar ook op jou holistiese welstand. Welstand is ’n aktiewe proses waartydens jy bewus word van die moontlikheid tot ’n gesonde, gebalanseerde en vervulde lewe, en leer om die regte keuses te maak om daardie lewe te lei.

Die welstandsprogram wat deur MOI geskep is, is ’n selfonderhoudende en graadgerigte program om ons leerders met hulle holistiese welstand te help. Hierdie program sluit emosionele, fisiese, sosiale en geesteswelstand in. Die welstandsprogram word deurlopend gemonitor en aangepas om in die huidige skoliere se behoeftes te voorsien.

Dit bied vaardighede en wenke waar nodig, aktiwiteite, die skep van kleiner fokusgroepe, moontlike werkswinkels en verwysing na ‘n multifunksionele span indien verdere ondersteuning benodig word. Die doel van die program is om leerders buite hulle akademiese vorming te bemagtig sodat hulle ‘n selfbewussyn kan ontwikkel om hul holistiese welstand self te kan bestuur.

MOI voorsien alle leerders op die program met mediesefonds deur Compcare op die NetworX-opsie. Compcare NetworX is spesifiek ontwerp met jongmense in gedagte en bied noodsaaklike dekking deur bepaalde netwerk-diensverskaffers. Vir meer besonderhede, raadpleeg die brosjure soos aan u verskaf en gesels gerus met jou koördineerder vir enige vrae.

Compcare: 0861 222 7777
Beradingslyn: 0800 390 003

Verpligte interaksies met MOI leerders/ouers/skole

Werkswinkels Twee uitreike saam met Mergon vennote
ZOOM Weeklikse ZOOM sessies per Graad
Leierskapsnaweek Langnaweek gedurende die September vakansie
Blootstellings Kuns/Kultureel en PRET
Tuisbesoeke Kwartaalikse tuisbesoeke per Graad
Skoolbesoeke Gereelde kontak met Graadhoofde
Telefonies Gereelde kontak met leerders, ouers en skole/koshuise

Leerder ondersteuning

Finansies

Elke student ontvang ’n begroting vir die jaar wat vir die koste van items soos skoolfondse, handboeke, skryfbehoeftes, skooluniform, sport, kuns & kultuur en vervoer voorsiening maak.

Alle versoeke vir betalings moet jy met jou koördineerder kommunikeer. MOI is nie verplig om enige betalings te maak, as daar nie vooraf goedkeuring daarvoor gegee is nie.

Daar is ’n betalingsprosedure wat gevolg moet word. Vir betalings word die volgende dokumente benodig:
Faktuur vir betaling moet aangevra word;
Bevestiging van bankbesonderhede (gekanselleerde tjek, gestempelde bankstaat of brief van die verskaffer moet verkry word vir alle betalings die bank).

Betalingsproses

Betalingsversoeke/eise moet minstens vyf werksdae voor betaaldatum ingedien word.

Alle betalingsversoeke/eise moet duidelik die datum van betaling aandui. Bevestiging

van bankbesonderhede by wyse van gekanselleerde tjek of bankbrief.

Tegnologiese toestelle

Jy het in jou kontrak ingestem om goed na die tegnologiese toestel (tablet) te kyk wat jy van MOI ontvang het. Dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak dat jy dit in ’n goeie toestand hou, op ’n veilige plek bêre en die sagteware gereeld opdateer soos nodig. Jy moet ook ten alle tye beskikbaar wees op jou tablet en daarom verseker dat jy dit gereeld herlaai. As jy enige probleme met jou toestel het, moet jy jou koördineerder daarvan in kennis stel sodat hy/sy jou kan help.

Jy mag nie jou toestel vir persoonlike vermaak gebruik of sagteware en lêers aflaai wat nie vir opvoedkundige doeleindes is nie. Jy het hierdie toestel ontvang om jou te help met jou skoolwerk en ook om met jou koördineerder in kontak te bly. Jy is verplig om jou toestel na geleenthede te bring sodat dit hersien en opgedateer kan word.

Ons neem elke jaar tydens die beraad die tegnologiese toestelle terug om dit na te gaan. Dit is baie belangrik dat jy gehoor gee aan hierdie proses en jou tablet saambring.

Akademiese sake

Indien jy enige vakveranderinge maak, moet jy ons raadpleeg sodat ons die proses kan ondersteun en jou van leiding en raad kan voorsien. Jy moet eers vir MOI raadpleeg voordat enige wysigings aan jou akademiese sake gemaak word.

Mentorskapprogram

MOI leerders word aangemoedig om aansoek te doen, middel van Graad 10, om aan die Mentorskapprogram deel te neem, aangesien dit verseker dat daar persoonlike eienaarskap tot hul ontwikkeling is.

Terugvoer is ’n kritieke deel van die moniteringsproses en mentors word gevra om een keer per kwartaal formele terugvoering te gee.

Die programkoördineerder maak hierbenewens ook een keer per maand informeel kontak met alle mentors en hulle leerders, ten einde die verhoudings noukeurig te monitor en om enige sake waaroor hy/sy besorgd is onder die organisasie se aandag te bring sodat dit betyds hanteer kan word. Mentors word ook versoek om oor prestasies verslag te doen sodat dit ook gevier kan word en erkenning gegee kan word.

Heraansoeke

en handhawing van vereistes

Daar word van leerders verwag om jaarliks weer vir die omvattende beursondersteuning aansoek te doen deur ’n aansoekvorm en stawende dokumente in te dien. Dit stel MOI in staat om op hoogte te bly van jou nuutste inligting. MOI leerders hoef nie weer die psigometriese toets en onderhoudprosedure te doen nie.

Afsluiting

MOI is opgewonde om jou by ons familie te verwelkom en jou aan te moedig om jou oorwinnings, suksesse en beproewinge met ons te deel. Ons wil die reis saam met jou meemaak – die suksesse sowel as die teleurstellings daarvan. Ons moedig jou aan om die kommunikasiekanale oop te hou en in kontak te bly met die koördineerders en ondersteuningspan wat by MOI tot jou beskikking is.

‘Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou?

Deur hom te hou aan U woord!’
Psalms 119:9

Tatum Ferrier

Stellenbosch Hoërskool
Graad 10, 2de kwartaal: 96% gemiddeld
Graad 9, eind eksamen: 95% gemiddeld

Tatum is ’n goeie voorbeeld van ’n diensbare leier. Tatum word beskryf deur haar opvoeders as ’n puik leerder met ’n pragtige gesindheid. Tatum is stil, maar dinamies en sy laat jou in verwondering wanneer sy haar mond oop maak en haar opinie lig. Sy is ook deel van die Redenaars en word as ’n puik kandidaat beskryf.

Tatum het ’n passie vir kinders en om ’n verskil te maak in hulle lewe en daarom die roeping vir onderwys na skool. Tatum help reeds laerskoolleerders met wiskunde tutorklasse by ’n gemeenkskap organisasie buite Stellenbosch.

Tatum is ’n verslaggewer vir die skoolkoerant “Stelloskoop” en Tatum het ’n uitstekende en verbeeldingryke skryfvermoë.

Tatum, wat is jou doelwitte en ambisie vir die toekoms?

“Ek wil graag eendag onafhanklik wees en op my eie voete staan. Ek wil ’n verskil in ander se lewens maak. Ek wil ’n onderwyser word wat kinders help en motiveer om hulle leiereienskappe te ontwikkel. Ek wil reis en soveel lande as moontlik besoek. Ek wil my kennis verbreed en soveel moontlik leer sodat ek ander kan adviseer. Ek wil mense en kinders help besef dat as hulle praat en vir hulp vra daar altyd iemand is wat sal uitreik. Met harde werk en toewyding kan jy hoër hoogtes bereik.”

Jayte Christiaans

Stellenbosch Hoërskool
Graad 10, 2de kwartaal: 75% gemiddeld
Graad 9, eind eksamen: 86% gemiddeld
Graad 8 eind eksamen: 81% gemiddeld

Jayte is ’n fantastiese leerder met self-dissipliene, wedywer en hy bly gefokus met elke besluit wat geteiken is op sy doelwiite.

Jayte “MOI motiveer my om altyd te streef om my beste te gee in my akademie en om ander rondom my positief te beïnvloed. MOI is ’n familie wat omgee vir mekaar. Mergon kom van twee Griekse woorde af “nome”-wat beteken die area waar die kudde wei en “ergon”- wat effektiwiteit beteken, het ek by Mnr. Francois van Niekerk, MOI se stigter by ons orienteringsdag gehoor. Ek glo dit is wat die beurs van my vra, om effektief te wees in alle areas van my lewe en om ander ook te beïnvloed om dieselfde te doen.”

Title

Go to Top