Dit is in 2024 al vyf jaar sedert Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief van stapel gestuur is. Uitvoerende Trustee Zahn Hulme kyk terug op ’n halwe dekade se positiewe ingrype in ’n nuwe generasie

Hoe het MOI en sy verrigtinge oor die afgelope vyf jaar by Atterbury Trust s’n aangesluit, en is dit min of meer waar julle gehoop het dit teen vandag sal wees?
MOI is gedurende 2020 geloods – soos ons almal weet die jaar waarin die Covid 19-pandemie die hele wêreld verander het. Ek glo dat die impak wat MOI sover op 82 hoërskoolleerders op die beursprogram gehad het, ook hulle wêrelde vir altyd ten goede verander het. Met Francois van Niekerk se Carmi-trust se finansiële ondersteuning van bykans R40 miljoen oor die afgelope vyf jaar en die MOI-projek wat sedert die tweede helfte van 2022 onder die vaandel van die Atterbury Trust se Stellenbosch-kantoor bestuur word, beleef ons daagliks die waarde van gehalte moedertaal-onderrig aan goed-funksionerende skole – soveel anders as die prentjie wat in groot dele van ons land afspeel.

Ons is tans verantwoordelik vir alle aspekte van die MOI-program, waar dit in die verlede meer gefragmenteer was – die MAD Foundation was betrokke met werwing en keuring en dele van die administrasie en Mergon was deels betrokke met die span wat vanuit hulle kantoor gefunksioneer het. Daar is in die afgelope twee jaar ’n struktuur geskep waarmee ons presies weet wat die program elke jaar kos en behoorlik kan beplan en begroot. Ons span doen die besoeke aan laerskole en die werwing self en dan is kandidate onderhewig aan ’n streng keuringsproses wat psigometriese toetse asook wiskundige en taalvaardighede insluit. Die akademiese en emosionele welstand van leerders word deeglik gemonitor en blootstelling aan kultuur en hul erfenis is ’n kerndeel van die holistiese program.

Daar is vanjaar 20 matrieks in die program en baie tyd en aandag is die afgelope twee jaar bestee aan die skep van loopbaanbeplannningsgeleenthede asook die nodige mentorskap vir MOI-leerders. Tersiêre studie is die volgende stap vir leerders wat Graad 12 voltooi en Atterbury Trust se netwerk en ervaring is ingespan om hulle te bemagtig. MOI-leerders is blootgestel aan universiteite en ons was ook behulpsaam met die hele aansoekproses wat ’n heel nuwe ervaringsveld is, gesien die agtergrond waaruit ons leerders kom. Hulle is in baie gevalle die eerste een in die gesin om Graad 12 te voltooi en dis ’n voorreg om hulle te kan begelei op die volgende belangrike tree in hulle loopbane. Ons is ook baie dankbaar vir die groter Atterbury netwerk wat ons bystaan in die proses. Vanjaar was onder andere Mediclinic, Hungry Lion, Babylonstoren en Moore Ouditeure betrokke om aan ons leerders werksblootstelling te gee. Mentorskapgeleenthede is gefasiliteer met Atterbury Trust beursalumni en huidige studente wat van onskatbare vir ons MOI-leerders was.

MOI Programbestuurder Jenene Petersen en MOI Projekkoördineerder Simonet de Villiers is geïntegreer in die Atterbury Trust Wes-Kaapspan en lewer ’n waardevolle bydrae om die Atterbury Trust voetspoor in die Wes-Kaap te vergroot.

Kan jy vir ons (net) 2 of 3 van jou hoogste MOI hoogtepunte opnoem?
Die onlangse “Kuns van MOI-Wees” beeldhou-uitstalling by die lieflike Dylan Lewis Beeldetuin tydens Woordfees moet beslis een van die hoogtepunte wees. Om die leerders se kunswerke te sien en hulle dan te hoor praat oor die impak van die hele skeppingsproses op hulle lewens, het my opnuut laat besef hoe lewensveranderend MOI is. Nie net vir die leerder in hul brose tienerjare nie, maar ook vir hulle uitgebreide familie. Dis vir ons belangrik dat ons leerders besef hulle talent is waardig om by so ’n ikoniese plek in Stellenbosch uitgestal te word en weer staan ons dankbaar teenoor mense soos Jacques Buys, Rudolph Gouws en Dylan Lewis wat dit moontlik gemaak het.

Die tuiskoms van ons Graad 8s na hulle bergskoolkamp saam met Deon Meiring en die span van InVia het ook my hart aangeraak. Om die 13-jariges in ’n hegte groep voor in die kapel te sien staan en te hoor wat die ervaring vir hul beteken, voor hulle ouers en naby familie, het byna soos ‘n heilige oomblik gevoel. Dit het my opnuut laat besef watter enorme impak al hierdie geleenthede op ons leerders het het en wat ’n verantwoordelikheid dit is om met jongmense te werk.

Wat sou jy sê is die belangrikste lesse wat julle oor die afgelope 5 jaar van MOI geleer het?
Dit was vir ons belangrik om behoorlike finansiële bestuur toe te pas, aangesien MOI ’n omvattende beursprogram is waar leeders ten volle holisties ondersteun word – skoolfonds, koshuisgelde, skoolklere, sportklere en -toerusting, buitemuurse aktiwiteite, berading, mediese dienste, uitstappies, kampe en tablette. Daar moet dus behoorlik begroot en beplan word – as ’n leerder in Graad 7 met die voorbereidingsjaar begin, moet daar beplan word vir die koste van ’n volle hoërskoollopbaan – indien die leerder in die koshuis is, beloop dit gemiddeld R750 000 per kind oor die vyf jaar. Daar rus dus ’n geweldige verantwoordelikheid om bo en behalwe emosionele ondersteuning wat gebied word, finansiële verpligtinge ook te kan nakom.

Ons is hard besig om na maniere te kyk om die projek volhoubaar te maak en een van die alternatiewe wat ons ondersoek, is die moontlikheid van buitelandse befondsing. Tydens my besoek in Swede vanjaar was dit een van die hoofprojekte waaroor ek in my voorlegging gepraat het.

Die uitdaging van finansiële bestuur klink enorm. Kan jy meer vertel oor jul planne om volhoubaar te word?
Soos ek bo genoem het, is dit ’n baie duur program, omdat dit intensief en holisties is. Leerders woon van die top Afrikaanse hoërskole in die wynlande by en ons wil graag aan hulle al die geleenthede bied wat hulle mede-leerders het. Ons moet befondsers oortuig om van hulle befondsing na MOI te kanaliseer. Na vyf jaar is die resultate en impak duidelik. Dis ook ’n model wat maklik gedupliseer kan word vir ander moedertaal-sprekers in tale soos Xhosa en Noord-Sotho. Ons het al letterlik (en figuurlik!) ons skoolgeld betaal en lesse geleer die afgelope vyf jaar!

In die teorie klink dit eenvoudig – as mens na die woonbuurte en luukse landgoedere kyk wat die voedingsareas van ons skole is, plekke soos Val de Vie in die Paarl, De Zalze in Stellenbosch, Mostertsdrif, sou mens dink dat die oorwegend welvarende gemeenskap in daardie areas finansiële ondersteuning sou bewillig om gehalte-leerders na hulle skole te bring. Diversiteit in ons land is so belangrik en om leerders uit minder gegoede woonbuurte rondom jou te ondersteun en hulle ook die geleentheid van gehalte onderwys te bied, spreek ook die sosio-ekonomiese uitdagings aan. Daarom is bewusmaking belangrik – om leerders se stories te vertel, die “Kuns van MOI Wees”-uitstalling tydens Woordfees, onderhoude op televisie en radio en sosiale media. Hopelik raak ons hartsnare en beursies aan…

MOI kan nie bestaan sonder die mense wat op alle vlakke bydra om die program dinamies te laat voortstoom nie. Wil jy enigiemand uitsonder vir hulle rol?
Atterbury medestigter Francois van Niekerk, gebore op ’n plaas buite die Paarl, is die visioenêr wat besluit het dat hy wesenlik gaan belê in die opvoeding van jong bruinmense, wat eers in die ou bedeling en nou weer gemarginaliseer word. Bruinmense is die grootste deel van die bevolking in die Wes-Kaap en Francois is oortuig dat gehalte opvoeding in Afrikaans, hulle moedertaal, die beste geskenk is wat kinders kan ontvang ten einde ’n goeie matriek te behaal en loopbaanmoontlikhede vir hul oop te sluit. Francois se Carmi trust is betrokke as hoofdonateur en raadgewer en daarvoor is ons oneindig dankbaar.

Julle maak dit maklik vir mense om betrokke te raak, en MOI se suksesverhaal te bou. Hoe kan mense wat omgee, help om die program te laat groei?
MOI word vanuit die Atterbury Foundation NPC bedryf en bydraes kwalifiseer vir ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat. B-BSEB sertifisering kan ook uitgereik word.

Skenkers kan bydra deur Donasiewinkel of kontak ons op [email protected]