Soveel as 27% van kinders onder vyf in Suid-Afrika ly aan groeibelemmering, wat hulle lewenslank terughou. Die Inani StartWell Stigting wil hierdie tragedie beëindig, en met ’n bydrae van gedeeltelike saadkapitaal van Atterbury se medestigter Francois van Niekerk, is hulle hard besig met ’n wonderlike inisiatief. Ons hoor meer by die uitvoerende direkteur, Org van der Wath.
Vertel ons iets oor die ontstaan van die Inani Startwell Stigting – waar het die idee vandaan gekom, hoe en wanneer is dit op die been gebring?
Ná my MBA studies in 2016 wou ek iets nuut begin wat ’n betekenisvolle impak kon maak op die samelewing en wat op skaal geïmplementeer kon word. Ek was bewus van groeibelemmering (“stunting”) – ’n kondisie veroorsaak deur wanvoeding wat 27% van Suid-Afrikaanse kinders onder vyf beïnvloed, en wat veroorsaak dat die kind se brein, metabolisme en liggaam nooit behoorlik ontwikkel nie. Sulke kinders het lewenslank probleme wat hulle terughou, van gedragsafwykings tot ernstige gesondheidskwessies. En dit word veroorsaak deur ’n gebrek aan die regte voedingstowwe, veral proteïen, in die kleintjie se dieët in daardie belangrike vormingsjare.
So kom ek toe af op ’n fabriek te koop wat kos verskaf het aan voedingskemas wat daagliks duisende kinders regoor Suid-Afrika voed. Die verkopers het vertel hoe winsgewend die besigheid is, maar toe ons hulle resepte bekyk, het dit geblyk dat die kos weinig voedingswaarde het, met ontbytkos vol mielies, soja en suiker. Ek het my voltydse werk bedank om my volle aandag aan die nuwe projek te gee, en ons eerste prioriteit was om ’n smaaklike gereg te ontwikkel vol van die voedingstowwe wat klein kindertjies nodig het.
Simoné van Niekerk van CFAM Technologies in Potch het die eerste prototipes van die StartWell Grow-gereg in Augustus 2018 gereed gehad. Ons het befondsers in Stellenbosch-omgewing gekry wat die eerste sowat 150 kleuters se kos geborg het, maar ons het besef dat dit nie volhoubaar was nie, omdat privaatmaatskappye altyd hul eie aandeelhouers se belange voorop moet stel. So is Inani StartWell Stigting gebore, een van die heel eerste nie-vir-winsmaatskappye wat self sy eie maaltye in sy eie fabrieke produseer teen die goedkoopste pryse moontlik, met die oogmerk om wanvoeding onder kinders te beveg.
Atterbury se medestigter Francois van Niekerk het van die saadkapitaal verskaf – hoe het julle almal se paadjies gekruis en hoe het hy betrokke geraak?
Theo Geyser van Invia-gemeente op Stellenbosch help al ’n geruime tyd met die werk van Inani StartWell Stigting. Hy is geïnspireer deur ’n praatjie van Barack Obama waarin hy gesê het dat baie van Suid Afrika se tergende kwessies deur die mense op die grond opgelos sal word, eerder as deur die regering. Hy het geloofsgemeenskappe uitgesonder, want hulle is reeds daar is en het nie net die hulpbronne en infrastruktuur om gemeenskappe op te hef nie, maar ook duisende mense wat omgee vir ander.
Theo het ons genader en ons het koppe bymekaargesit oor hoe ons geloofgemeenskappe kon inspireer om betrokke te raak by die voeding van behoeftige babas en kleuters in hulle onmiddellike omgewings. Hieruit is die Villageprojek gebore, onder Inani StartWell Stigting se vaandel, en ons het befondsing nodig gehad om ’n projekleier aan te stel. In 2021 het ons vir Francois in Stellenbosch ontmoet, en hy het ons herinner aan die storie van die barmhartige Samaritaan, wat iemand wat hulp nodig gehad het, eers na ’n herberg geneem het, eerder as om dadelik vir hom te preek, met die veronderstelling dat die tyd vir die preek sal kom wanneer die grond vrugbaar is. Francois het gevoel dat indien kinders voedingnood het, ons moet begin om hierdie nood te verlig, en hy het die saadkapitaal verskaf om ons projekleier aan te stel sodat ons die Villageprojek kon loods.
Presies wat behels die projek op ’n weeklikse basis? Wat is die grootste uitdagings?
Ons stigting se prioriteit is om voedsame maaltye te produseer, en om dit dan by behoeftige kleuters uit te kry. Dit behels samewerking met individue, maatskappy en instansies om befondsing te verseker om kleuters daagliks te voed by hulle skole.
Ons grootste uitdaging is om donateurs te oortuig dat ’n bordjie mieliepap met suiker regtig nie die peuter of kleuter help nie. Babas en kinders in Suid Afrika lei aan stille honger – hulle het dalk kos, maar sonder die nodige voedingstowwe. Ons moet mense opvoed om eerder minder kinders behoorlik te help, en sodoende regtig ’n positiewe bydrae te maak tot hulle toekoms as volwassenes.
Hoeveel kinders help julle met die projek?
Tans verskaf die Village-projek elke skooldag ’n voedsame porsie StartWell Grow-pap aan ongeveer 4 200 kinders. In totaal ondersteun ons stigting maandeliks sowat 7 000 babas, peuters en kleuters.
Een van julle begunstigde organisasies is Olifantjie-crèche in Loxton, en Atterbury Trust is hier betrokke – vertel ons meer?
Die Olifantjie-crèche het 50 kleintjies tussen een en ses jaar oud, en vier onderwyseresse.
Danksy Atterbury Trust wat hulle borg, kry elkeen elke skooldag ’n voedsame StartWell Grow-ontbyt. Die kinders se fisiese groeivordering word ook maandeliks gemonitor om te bepaal wie agter is en dalk ingrype soos ontwurming nodig het. Ons weet dat hierdie belegging in Loxton se mensekapitaal-toekoms vrugte sal dra.
Wat is julle grootste behoefte, en hoe kan mense help?
Heel bo-aan is om ons netwerk van individue, maatskappy, kerke en ander stigtings te groei sodat ons die regte voeding by meer kinders in hierdie belangrike ontwikkelingsfase kan kry. Dit kos ongeveer R70 per maand om ’n kleuter met 22 x 50g porsies te bedien.
Ons verwelkom enige finansiële skenkings, en alle bydraes word dadelik aangewend om kinders te help.
Ons stigting is ’n Vlak 1 B-BBEE instansie en kan Artikel 18(A)-belastingsertifikate uitreik aan donateurs. Kerke, skole en ander stigtings kan ook direk teen fabriekspryse maaltye by ons aankoop as deel van hulle liefdadigheidswerk.
Die “sweet spot” vir ons is, as iemand mense om hulle – byvoorbeeld by die werk, of die kerk – mobiliseer om ’n skooltjie in hulle gemeenskap onder hulle vlerk te neem. Ons lewer maandeliks die pap in emmers by julle adres af. Julle neem een maal ’n maand die kos na hulle toe om kontak te bou en te behou. Soms het ’n skool maar net 10 kinders, en sal dit slegs R700 kos om elkeen ’n volle maand lank elke skooldag ’n voedsame maaltyd te gee. Dis só bekostigbaar en maak só ’n wesenlike verskil.
Wat is julle oogmerke vir 2023, en meer langtermyn?
Ons mik om in 2023 ons fabriek by gelykbreek uit te kry, en daarvoor moet ons 20 000 kinders gereeld voed.
Ons het ook ’n babakos ontwikkel wat ons wil aanbied vir instansies wat met babas bemoeid is.
Ons het baie werk en groot planne om kindergroei-belemmering in Suid-Afrika te stop. Baie meer mense moet van ons weet!
Vir meer inligting oor Inani StartWell en hoe jy betrokke kan raak, besoek www.inaniswf.org, of kontak hulle by [email protected] of 011 362 2300