Liewe omgeevriende
Dis Julie, maar ‘n vreemde gevoel van “dis KRISMIS” het kom plek maak in die koue vakansietyd.
Na ‘n baie rowwe Junie maand tov Jackie se gesondheid en gemoedstoestand, het daar weer ‘n kalmte op ons neergedaal.
Vakansietye het die vermoë om my bietjie meer angstig te maak. Almal maak reg om te gaan asemskep in die wildtuin of by die see. Dis ‘n tyd waarin die seuns net kan “chill”, lekker eet, en die tyd geniet.
En skielik is dit Krismis. Weer ‘n wonderwerk!
Deur die Lynnies omgee-mammas kry ons lekkernye en kruideniersware, vriendinne maak kas skoon en ek kry die wonderlikste winterklere, omgeevriende maak ‘n vakansie vir die seuns in Stilbaai moontlik, en Jackie word deur sy Headway vriende genooi om ‘n week saam met hulle in Sabiepark deur te bring.
Ek moet werk, maar my hart juig en my gemoed is so vol dankbaarheid.
Ek besluit om my Kersfees blog vir julle aan te stuur. Want dit voel soos Kersfees in Julie!!! Dankie liewe omgeevriende vir dit ALLES!
My Huisgenoot.com blog van 17 Desember 2013
“Stadig maar seker word die Fouries gewoond aan hul lewe saam met hul breinbeseerde pa en eggenoot, en die abnormale word die nuwe normale”, skryf ons blogger Michelle Fourie in die laaste aflewering van haar aangrypende weeklikse blog.
Dit voel of ons ook tuis ’n plato bereik het wat betref ’n gesonde gesinslewe. Die abnormale word deel van ons normale bestaan.
Jackie se onsamehangende gedrag wat wissel van onaktief (wanneer hy net op sy bed sit en voor hom uitstaar) tot ’n oorreaksie op ’n onbenulligheid, lei tot konflik – veral met Jacques, nou ’n tienerseun met veel meer verantwoordelikhede as wat hy op sy ouderdom behoort te dra. Ek kom ook agter dat ek my nou na hóm wend vir raad en leiding.
En dan gebeur ’n wonderwerk. Jacques kry ’n beurs deur die Atterbury Trust om koshuis toe te gaan. My kind kan weer net kind wees.
Vir my voel dit of ek weer deur ’n verlies moet worstel, en Ruben mis sy broer, maar stelselmatig besef ek dat hierdie trust waarskynlik my kind se lewe gered het. Hy lag weer!
My vriendinne dra my en die Danville-hulpprojek sorg dat ons nooit honger gaan slaap nie.
Maar ek sal plan moet maak wat terapie en stimulering vir Jackie betref. En dan hoor ek van Headway, ’n nie-regerings organisasie wat terapie en steun gee aan mense met breinbeserings.
Sophie, eens ons huiswerker, is nou Jackie se versorger en sal saam met hom klas toe gaan terwyl ek werk. (My grasdakbesigheid klou nog vas aan oorlewing.)
En so word Headway Tshwane deel van Jackie se nuwe lewe. Die terapiesessies, wat wissel van spel, fisio-oefeninge, musiek en kuns tot geheue-oefeninge, is uitputtend en goed vir hom. Die terapeute en vrywilligers wat met soveel deernis en respek ons geliefdes met breinbeserings hanteer, is vir my ’n openbaring. Maar meer as die terapie, word die kennismaking met mense wat dieselfde pad stap ’n groter deel van ons genesingsproses.
Nuwe vriende word deel van Jackie se lewe. Pierre, wat hom en Sophie oplaai vir klas en hom saamneem na die Wilgers-hospitaalbediening, word vir Jackie ’n rolmodel. Hy was ’n baie bekende internis wie se lewe in ’n oogwink verander het weens ’n breingewas. En so ontmoet ons ander superhelde by Headway, mense wat Jackie aanvaar soos hy nou is. Mense wat beroertes, ongelukke en ander siektes wat hul brein aangetas het, oorleef het.
Hulle is bly om mekaar te sien en hegte vriendskappe ontwikkel namate die tyd verloop. Dit word nou twee keer per week Jackie se hoogtepunt. Ek besef dat ons hierdie pad nie alleen hoef te loop nie. Daar is hulp … ook vir ons wat saam met ’n breinbeseerde geliefde die pad stap. En so loop ons voort. Die pad is steeds vol kronkels en draaie en baie keer, veral snags, kruip die angs en spoke nader.
Maar ek het al ’n paar lesse op hierdie pad geleer.
- Vertrou op God
- Glo aan wonderwerke
- Waardeer jou familie
- Kyk na die wêreld deur jou kind se oë
- Wees eerlik met jouself
- Wees dankbaar en koester kosbare vriendskappe
- Sien ook ander se pyn raak en gee om vir ander
- Moenie jou humorsin verloor nie
- Sien die wonder van die natuur elke dag raak
- ’n Mens hoef nie geld te hê om goeie herinneringe te skep nie
- Lag baie, en moenie die trane inhou nie
- Waardeer jou werknemers, hulle is goud werd
- Geniet jou kinders
- Probeer elke dag fokus op die positiewe dinge wat gebeur het
- Hou dagboek, veral as dit swaar gaan, dis goeie terapie
- Glo in die krag van gebed
- Dankie dat julle deel is van my reis saam met Jackie
Baie liefde
Michelle
xxx
Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy het verlede jaar vir 11 weke vir Huisgenoot geblog oor hoe haar en haar twee seuns se lewe verander het sedert haar man, Jackie, ’n ongeneeslike breinbesering in ’n motorongeluk opgedoen het. Sy het deur die blog baie mense ontmoet wat haar ondersteun en wie se verhale haar inspireer.