Emosionele welstand is belangrik in hierdie tyd van onsekerheid. Ons wil seker maak dat ons van hulp is om jou te ondersteun deur die bewusmaking van hoe innerlike bewustheid (mindfulness) jou kan toerus om met ’n positiewe gemoed ons gesamentlike uitdagings aan te pak.
Om te help deel ons Ds Natalia Strydom, ’n Atterbury Trust alumnus, se ingeligte opinie oor hoe innerlike bewustheid ons almal kan help.
Sy het haar graad in Teologie in 2010 aan die Universiteit van Pretoria voltooi en toe voortgegaan met ’n Meestersgraad in Teologie in 2012, ook by UP Tuks. Haar skripsie het gehandel oor “Die Verhoudingsintelligensie van Leiers”. Sy is reeds vir die afgelope agt jaar ’n voltydse predikant in Gauteng.
In 2019 het sy ’n tweede Meestersgraad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Sy skryf op ’n gereelde basis artikels vir Intiem-tydskrif oor die Christelike huwelik.
Natalia is getroud met Reuben, ’n IT spesialis. Hulle woon in Alberton saam met hulle drie dogters Marna (11), Ruve (4) en Talita (12).
In haar vrye tyd werk sy ook aan ’n deeltydse beradingspraktyk en het onlangs ’n klein onderneming begin: We Promise Wedding Ceremonies. Sy is ’n geregistreerde huweliksbevestiger en bied ook huweliksafrigting aan. Haar droom is om deur hierdie onderneming paartjies voor te berei nie net vir ’n troudag nie, maar vir ’n huwelik. Die huwelik is die kern van die samelewing en as ons daar ’n gesonde begin kan vestig, sal dit uitkring ook na die kinders se lewens wat later uit hierdie huwelik gebore word.
Sy werk voltyds by NG Alberton-Suid as predikant. Haar roeping en passie is nie net om mense toe te rus om volgelinge en dissipels van Jesus te wees nie, maar ook om verskilmakers te wees in die verskillende sfere van die samelewing waar hulle rondbeweeg.
Sy glo dat daar nie ’n ouderdomsbeperking op dissipelskap is nie en dus is gesinsbediening vir haar baie belangrik. Om die jeug ’n passie te leer vir ander mense is ’n fokuspunt van haar bediening.
Noodverligting is ook vir haar gemeente ’n prioriteit. Hulle het ’n voltydse sopkombuis, voedingskemas by skole en bied gratis beradingsdienste aan lede van die publiek wat dit nie kan bekostig nie. Sy dien op die bestuur van die Christelike Maatskaplike Raad (Tutela) sedert die begin van haar bediening. Sy het ’n groot passie vir die maatskaplike uitdagings wat gesinne teister en wil help om daardie nood te verlig.
Deur al die projekte waarby Natalia betrokke is, wil hulle nie net nood verlig nie, maar ook mense bemagtig, hul identiteit in Christus bevestig en as volgelinge hulle help om hul roeping te ontdek sodat hulle ook hul talente en gawes kan uitleef.
Sy is sedert 2018 betrokke by Atterbury Trust met die berading van studente wat beradingsdienste benodig. Op hierdie manier ploeg sy terug in Atterbury Trust, wat haar gehelp het met ’n beurs.
“Een van die grootste geskenke wat iemand ooit kan ontvang, is wanneer iemand in jou potensiaal glo. En dit is wat Atterbury Trust vir my gedoen het. Ek dink baie aan my bediening as paying it forward. Om enkelinge se lewens aan te raak en te transformeer, bring ons nader aan ’n hele Suid-Afrika wat agente is van herstel.”
“En hoe voel jy daaroor?”
Deur Ds Natalia Strydom
Wanneer ’n mens aan ’n sielkundige dink, dink ons dikwels aan die beeld van een persoon wat in ’n spreekkamer sit in ’n statige leunstoel en ’n ander wat op ’n terapie-bank lê. Die sielkundige of terapeut vra die kliënt: “En hoe voel jy daaroor?”
Hierdie week was dit egter ’n vraag in my eie kop. Dit is ’n vraag waarmee ek myself ondersoek het. Hoe voel ek oor dit wat om my afspeel? Hoe voel ek oor dit wat in my afspeel?
Ons veg baie hard om ’n gevoel van “normaalheid” te handhaaf. Ons probeer werk inhaal of aanhou werk, ons sorteer kaste uit en kom uit by daai goed waarvoor ons nooit normaalweg tyd gehad het nie. Ons probeer kreatief, geroetineerd en georganiseerd wees en dit is goed.
Maar intussen probeer ons, terwyl ons so besig is, ook sin maak van wat om ons en in ons aangaan. Deel van die goed waarmee ons te doen het, is om aan te pas by die nuwe situasie waarin ons onsself bevind.
Onlangs lees ek ’n artikel van Scot Berinato wat sê: That discomfort you are feeling is called grief. In hierdie artikel beskryf Berinato die soeke wat ons het om woorde te vind vir hierdie ervaring. Hy sê tereg: “If we can name it, perhaps we can manage it”. Woorde gee ons ’n voertuig om dinge te verwerk. Om iets te verwoord help ons om dinge bewustelik te begin prosesseer. Dit was die afgelope tyd my strewe… om te probeer beskryf wat in my gemoed aangaan.
Een van my vriende was die derde slagoffer wat gesterf het van die koronavirus. Skielik het hierdie ding baie naby aan my gekom. Dit het ’n naam gehad. ’n Foto in my geheue. ’n Herinnering aan ’n laaste oomblik wat ons saam koffie gedrink het.
Volgens die bekende sielkundige Diana Kubler-Ross gaan ons deur vyf fases wanneer ons rou. Toegepas op die koronavirus kan ’n mens sien hoe hierdie roufases afspeel.
Ek dink daar is ’n klomp mense wat rou beleef maar wat dit nooit voorheen rou sou noem nie. Ek het die afgelope ruk baie te doen met paartjies wat hul troues moes aanskuif of dit moes vervroeg. Ek hoor van swanger vrouens wat nie ’n baba-tee vir die baba gaan hê nie. Belangrike mylpale wat nie saam gevier kan word nie.
Ek hoor van paartjies wat baie uitgesien het na ’n langverwagte vakansie en dit moes afstel. Ek dink aan kinders wat uitgesien het na skooltoere. Sportmanne en vroue wat nie die Epic kon ry nie, ensovoorts. Wat met ’n stuk teleurstelling, maar ook met ’n stuk rou gekonfronteer word. ’n Klomp mense sit met verlies. En hier praat ons nog nie eers van die verlies van menslike lewens nie.
Ons verwerk ons rou deur in hierdie tyd in te duik in ’n frenzy van aktiwiteite. Of om obsessief te wees oor akademiese produktiwiteit, oor my skedule wat ek moet hou om nie agter te raak nie en om my loopbaan steeds voor oë te hou. In sielkundige terme kan hierdie oorkompulsiwiteit om produktief te wees, ook gesien word as ontkenning en ontduiking van die werklikheid.
Wat ons eerder moet doen, is om gereed te maak vir die verandering en dit nie langer te ontken nie. Om ’n balans te kry tussen werk en ontspan. Want dit gaan “hoe ek voel” op die pad sit na herstel.
Kom ons staan stil ’n oomblik by ’n groot en oorweldigende gevoel wat mense op die oomblik ervaar: Angs!
Jou gedagtes is gevul met aanskoulike beelde. Jy verwag die ergste. Jou verbeelding gaan op hol met jou, maar in die verkeerde rigting. Jou liggaam is gespanne en jy sukkel om asem te haal. Dit voel of daar ’n rots op jou borskas rus. Jy voel dalk geïrriteerd en ongeduldig. Jy voel meer tjankerig en jy voel die heeltyd edgy. Jy mag dalk selfs slaapsteurnisse beleef. Te min of te veel slaap. Jy sukkel om gewone take uit te voer.
Dit is alles tekens dat hierdie krisis jou tot angstigheid en stres-gevoelens lei.
En daarom is dit sinvol dat ons hierdie mandjie so bietjie uitpak en probeer om woorde te vind deur die vyf fases van rou vir die ervarings sodat ons daardeur kan werk.
In die eerste fase is ons in ontkenning. Die virus kan my nie affekteer nie. Ek of my naaste familie gaan nie deel word van die statistiek nie. En dit is waar die nuus van my vriend se afsterwe my gevat het. Nou kon ek dit nie langer ontken nie.
In die tweede fase van rou het jy woede. Woede oor mense wat nie die maatreëls ernstig opneem nie. Woede oor ons mense nie beter voorbereid kon wees op so iets nie.
Met die derde fase begin jy onderhandel. Onderhandel ook dikwels met God en met die kosmiese wêreld. “As ek my deel doen om sosiale isolasie toe te pas, dan sal alles vinnig beter wees.”
Dan begin die fases bietjie intens raak. In die vierde fase word jy gekonfronteer met depressie of hartseer. “Ek weet nie hoe hierdie gaan eindig en hoe my lewe ooit weer dieselfde gaan wees nie.”
Gelukkig stop dit nie daar nie. Die laaste fase hou aanvaarding in. In hierdie fase lê die krag en die genade van ons menswees.
’n Medewerker van Kubler-Ross het met haar familie se toestemming ’n sesde fase bygevoeg. Die fase waar mens soek na sin en betekenis.
Dit is te vroeg in die reis van ons ontmoeting met die koronavirus om presies te sien wat die betekenis gaan inhou vir ons elkeen. Maar daar is mense wat alreeds gevoelens deel op sosiale media waar hulle raaksien dat dit ons gestroop het van valse sekerhede en valse sekuriteite. Dit het ook vir ons meer tyd met ons geliefdes gegee. Tyd om herinneringe te maak. ’n Ruimte om net stil te word.
As jy hierdie bogenoemde insigte in gedagte neem: “Hoe voel jy daaroor?”