In Graad 4 is Michelle Volschenk gediagnoseer met aandaggebreksindroom en die terapeut het haar ma aangeraai om haar na ’n spesiale skool te stuur waar sy met haar hande kan leer werk, omdat sy kwansuis nooit êrens in die lewe sou kom nie. Watwo. Danksy harde werk, ’n positiewe ingesteldheid en vasberadenheid om hierdie doemprofeet verkeerd te bewys, swot die 21-jarige vandag deeltyds terwyl sy voltyds werk, en met die hulp van die Atterbury Trust se beursfonds is sy besig om haar eie blink toekoms te bou. As jy soek vir inspirasie, hoef jy nie verder te kyk nie…
Op jou WhatsApp profiel is daar ’n aanhaling van William C Hannan: “I know this transfomation is painful, but you’re not falling apart; you’re just falling into something different, with a new capacity to be beautiful.” Wat is dit hiervan wat tot jou spreek?
Dis ’n aanmoediging vir daardie dae wat ek voel dis net nie my dag nie – sulke tye sê ek vir myself dis net een dag, dis net tydelik, vandag met sy terugslag is net ’n treetjie op my pad na ’n blink toekoms; dinge sal uitwerk.
Wie is Michelle as sy by die huis is?
Ek het grootgeword in Vereeniging saam met my ma en my sussie, wat ’n jaar ouer is as ek. Ons pa is oorlede toe ek 17 was, en dit was maar swaar. Ek het in 2016 gematrikuleer by Destinataskool in Meyerton, wat vir kinders met bepaalde leeruitdagings voorsiening maak. Die klasse is kleiner vir meer persoonlike aandag, hoewel die kurrikulum dieselfde is as in gewone skole, en jy dieselfde eksamens skryf. Ek bly steeds by my ma-hulle, maar trek een van die dae uit – ek het die geleentheid deur my werk gekry om in my eie woonstelletjie in te trek.
Ons hoor jy werk voltyds by ’n hotel terwyl jy nou ook eerstejaar onderwys swot. Dit klink uitdagend – hoe kom jy by alles uit?
Ja dit is! Ek het verlede jaar by die hotel begin werk terwyl ek nog gewag het om te hoor of ek die beurs gekry het. Ek werk skofte, wat soms onvoorspelbaar kan wees. Ek swot deeltyds deur Unisa, so dit is maar ‘n kwessie van tydbestuur… dit verg fyn beplanning, maar gelukkig was ek nog altyd baie gedissiplineerd daarmee. Tussen skofte by die werk, sit ek voor my boeke, en ek maak ook tyd om elke dag vir ’n uur gym toe te gaan en reg te eet, want gesondheid is belangrik. Ek beplan my skedule deeglik… daar is oral lysies in my kamer en op my lessenaar!
Hoe het jou paaie met Atterbury s’n gekruis?
Na matriek was daar nie geld sodat ek kon gaan swot nie; my ma werk in ’n klerewinkel en kry nie ’n groot salaris nie, en my sussie is ’n finalejaar student. Ek het toe maar werk gesoek terwyl ek navorsing gedoen het oor beurse. Ek het ’n werk gekry by ’n hotel in Namibië, en terwyl ek reeds daar was, het ek op Facebook gesien hoe ’n vriendin oor haar Atterbury Trustbeurs skryf. Ek het gaan oplees oor Atterbury, en dadelik aansoek gedoen. En toe word ek genooi vir ’n onderhoud terwyl ek in Namibië werk, en het gedink ek gaan die kans verbeur, maar gelukkig het alles uitgewerk!
Wat sou jy gedoen het as die beurs nie op jou pad gekom het nie?
Die plan was nog altyd om te gaan onderwys studeer, dit is my passie al van jongs af. Ek het altyd skool-skool gespeel! So dit was net ’n kwessie van werk en spaar en vir beurse aansoek doen, en as ek nooit ’n beurs kry nie sou ek aanhou spaar het totdat ek self vir my studies kon betaal. Ek het nog maar altyd gewerk vir sakgeld, so ek is gewoond daaraan – ek het al op skool by die Dierebeskermingsvereniging gewerk.
Hoekom juis onderwys?
Ek het besluit om onderwys te swot omdat onderwysers die mense is wat jou leer en wysmaak oor die lewe. Hulle voed jou op, leer jou wat is reg en verkeerd en berei jou voor vir die wêreld daar buite. Dit is wat ek graag wil doen; dis ’n werk wat soveel impak het en waarmee jy die samelewing kan help ophef en die toekoms van die land positief kan beïnvloed.
Jy is aangesê dat jy nooit iets sal bereik in die lewe nie, omdat jy aandaggebreksindroom het – skokkend dat ’n terapeut so brutaal sal wees! En tog, hier is jy vandag, veelsydig, besig om baie balle gelyk in die lug te hou. Hoe het jy dit reggekry?
Ek het maar gedoen wat ek moes, en met dissipline daarby gehou. Ek het gereeld na my pediater gegaan, sy het vir my werkstukkies gegee om my te leer konsentreer; en ek het my Ritalin gedrink. My ma het my al die pad ondersteun en seker gemaak dat ek as ek smiddae van die skool af gekom het, dadelik my huiswerk doen voordat ek gaan speel. My manier was om hulp te vra as ek onseker was oor goed, en om die ekstra tyd in te sit en altyd harder te werk. Ek het baie hard aan my konsentrasie en fokus gewerk… ek het geleer dat jy baie hard moet werk om mense verkeerd te bewys! En in Graad 8 het ek die pille gelos; net harder gewerk, en myself geleer om daarsonder klaar te kom. Stadig maar seker het ek die aandaggebreksindroom ontgroei, en vandag pla dit my nie. Natuurlik is daar goed wat mens se aandag soms aftrek, maar dit keer my nie om te fokus nie.
Ek kan sien hoekom Atterbury vir jou die beurs toegeken het! Hoekom dink jy het jy gekwalifiseer?
Wel, my finansiële situasie eerstens – sonder die hulp sou ek nie kon bekostig om verder te gaan studeer nie. En dan seker omdat hulle my passie kon sien vir die rigting wat ek graag wou gaan swot; en my positiewe ingesteldheid…
Wat reken jy is die waarde van die Atterbury Trust se beursfonds?
Dit gee kanse vir mense wat dit nie kan bekostig om verder te gaan studeer nie en wat ’n passie het, en iets in die lewe wil bereik. En dit kyk vorentoe na die dag wat dié van ons wat nou hulp ontvang, sal teruggee en ons kennis oordra, en weer ander mense die kans gee… dis ’n sirkel wat aanhou en aanhou en almal ’n kans gee op ’n beter toekoms. Dit sprei opvoeding en geleerdheid wyer, wat die hele land bevoordeel.
Met sulke jongmense bou jy mos ’n toekoms! Atterbury Trust administreer die donasies van ons gewaardeerde weldoeners om tans meer as 600 talentvolle, hardwerkende, behoeftige studente die kans te gee om verder te studeer. Alle bydraes is welkom, en ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat word aan skenkers uitgereik. Kliek hier om maklik ’n donasie te maak.