Dit was vir Atterbury Trust ’n voorreg om hande te vat met Albert van Wyk, die jongste selfgemaakte miljoenêr in Suid-Afrika, en ’n man op ’n missie om jongmense te leer van entrepreneurskap en finansiële onafhanklikheid. Hy vertel ons die storie agter sy gewilde ViaTV reeks Maak my ’n Miljoenêr.

Waar het Maak my ’n Miljoenêr vandaan gekom?
Ek het baie arm groot geword in die Moot van Pretoria. My ouers was nie entrepreneurs, besigheidseienaars, eiendomsbeleggers of miljoenêrs nie. Ek kon nie die speelgoed kry wat my vriende gehad het nie en moes tweedehandse skoolklere dra. Daarom het ek op skool al klein besigheidjies begin vir sakgeld. In 2012 op 19 het ek my eerste eiendom gekoop met geld wat ek gemaak het vanaf my konstruksiemaatskappy. In 2015 het ek hierdie eiendom afbetaal en het so op 22 my eerste miljoen gemaak.

As ek dit kan doen, kan ander ook, en die boek is daaruit gebore. Ek wou vir ander jongmense van die Moot presies stap vir stap verduidelik hoe ek my eerste miljoen gemaak het sodat hulle dit ook kan doen. Ek het eers ’n klein boekie geskryf en net by die drie hoërskole in die Moot praatjies gaan hou om die leerders te inspireer. Toe ek weer sien het die media van my boek gehoor en oor my berig. Ek het besef dat hierdie “boekie” van my ’n groter impak gaan maak as wat ek verwag het, en het nog bygeskryf totdat dit ’n behoorlike boek was, wat toe in 2019 ’n topverkoper geraak het. My idee met dit alles is nog steeds dieselfde as aan die begin: ek wil jongmense help om finansieel onafhanklik te word sodat hulle ook hulle drome kan bekostig”

Hoe het die projek sedertdien gegroei; en hoe het jou rol verander?
Ek het eers net skole besoek met motiveringspraatjies, maar ek het besef dat dit nie genoeg is nie. Hierdie skoolpraatjies het toe verander in die Maak My ’n Miljoenêr-projek wat ’n volhoubare program is om sukses te waarborg. Ons projek het dus ontwikkel na ’n tweeledige doel:

Eerstens bring ons bewusmaking van entrepreneurskap na skole. Ons bied skoolpraatjies aan om leerders bloot te stel aan entrepreneurskap en dan die bestaande entrepreneurs uit te nooi om in te skryf vir ons kompetisie om die mentorskap te kry wat hulle nodig het vir sukses. Ons besoek om en by 50 hoërskole vir die kompetisie, maar dit groei ook elke jaar. Ons kry jaarliks ongeveer 100 inskrywings vir die kompetisie.

Tweedens bemagtig ons jong entrepreneurs deur mentorskap en ondersteuning. Elke deelnemer kry my boek en kursus as hulle inskryf om vir hulle die basiese boublokke te leer. Daarna kry hulle agt voldag-werkswinkels as deel van ’n agt-maande-lange mentorskap-program waartydens ek en die wenners van 2022, Matthew Blauw, en 2023, Shaniqua Steenkamp, hulle alles leer wat ons van besigheid weet. Gedurende dié tyd is daar uitdun-rondtes vir die kompetisie met uitdagings vir die deelnemers, waartydens hulle ook mentorskap en “coaching” kry by ons borge, van wie Atterbury Trust een is. Dit bou op tot die gala-aand wanneer ons die top entrepreneurs aankondig.

Ons verfilm die hele proses vir ViaTV sodat die res van Suid-Afrika ook geïnspireer kan raak deur hierdie positiewe jong entrepreneurs.

Toe ek op skool was het ek so gewens vir ’n entrepreneurmentor wat my net ’n bietjie touwys kon maak. Daarom mentor ek nou ander entrepreneurs uit dieselfde agtergrond as ek – dis baie na aan my hart en ek het soveel waardering vir ander, soos Zahn Hulme en Atterbury Trust, wat saam met my ’n positiewe impak wil maak sonder om iets terug te verwag.

Hoe het Atterbury Trust betrokke geraak en verduidelik die betrokkenheid?
Atterbury Trust se wortels lê self in entrepreneurskap, en daar is soveel passie vir ons land se jong entrepreneurs. Dit was onmiddellik duidelik vanaf my eerste vergadering met Atterbury Property se HUB Armond Boshoff en van daar het ons met die Atterbury Trust hande gevat vir hierdie projek sodat ons saam die nuwe entrepreneurs wat Suid-Afrika so broodnodig het, kan skep.

Die Trust se werksaamhede bied vir ons betekenisvolle aktiwiteite vir die uitdagingsrondtes van die kompetisie. Die uitdagings by Terugploeg en die Startwell-fabriek het die deelnemers ’n baie realistiese prentjie gegee oor hoe hierdie besighede (soos ’n fabriek, slaghuis, verspreidingsentrum) en die bedryf werk, en hulle het baie waarde gekry uit Zahn se motiverende praatjie. Dit het ook vir die jong entrepreneurs gewys hoe sosiale verantwoordelikheid lyk en hoe groot maatskappye soos Atterbury ’n voorbeeld stel van terugploeg in jou gemeenskap. Ek glo dat dit hierdie entrepreneurs gaan inspireer om eendag dieselfde te doen.

Hoe lyk die ideale wenner van die kompetisie – waarvoor is jy op die uitkyk, en wat was die weneienskappe van die vorige wenners?
Die doel van Maak My ’n Miljoenêr is letterlik wat dit in die naam sê. Ons is dus op die uitkyk vir deelnemers wat graag leer, vinnig aksie neem, deursettingsvermoë het en gedrewe is om sukses te bereik, maar ook die hart het om terug te gee aan die volgende generasie. Om in te skryf moet elke deelnemer reeds ’n aktiewe besigheid hê. Matthew Blauw is ’n goeie voorbeeld – hy het met R50 begin en aan die einde van die 2022 seisoen toe hy wen, het hy al ’n omset van R27k per maand gehad soos hy sy mentorskaplesse geïmplementeer het. Ons stap steeds ’n mentorskappad saam en einde 2023 het hy op R65k per maand gestaan. Nou is sy omset al meer as  R220k per maand – hy is amper by miljoenêr-status. Shaniqua het haar besigheid begin nadat ek by haar skool gepraat het. Sy het teen die einde van die 2023 Maak My ’n Miljoenêr-seisoen meer as R150k ingebring,en is as wenner aangewys. Haar besigheid groei ook steeds met die ondersteuning van ons volgehoue mentorskap.

Wat is volgende vir jou – wil jy aanhou om ’n rol te speel in die skep van jong entrepreneurs?
Dit is my lewensdroom dat elke jongmens in Suid-Afrika die finansiële onderrig kry om finansieel onafhanklik te word om hul drome ook te kan uitleef. Elke jaar word die wenner van Maak My ‘n Miljoenêr ook deel van ons missie om ’n impak te maak, en sodoende raak ons reikwydte al hoe groter. Op my eie kan ek binne drie maande net 60 skole besoek, maar saam met Matthew en Shaniqua kan ons nou al 180 skole bereik. Dit is ons bydrae om Suid-Afrika ten goede te verander.

As Atterbury Trust is ons baie opgewonde oor die toekoms van hierdie projek en om die jong entrepreneurs in Suid-Afrika te bemagtig. Maak seker jy kyk saam met ons die Maak My ‘n Miljoenêr reeks op ViaTV kanaal 147 vanaf 28 Augustus en veral die Atterbury Trust episode wat op Woensdagaand 23 Oktober om 19:30 uitgesaai word. Maak saam met ons ’n positiewe impak.