Atterbury Trust Wes-Kaap is besig met ’n verskeidenheid omgee-aksies, en het ’n uitnodiging uitgereik aan vroue wat wil betrokke raak. Uitvoerende Trustee Zahn Hulme vertel meer.

Waarmee is Atterbury Trust Wes-Kaap alles besig, en watter soort betrokkenheid wil julle graag sien?
Daar is ’n wye verskeidenheid van inisiatiewe, van finansiële hulp aan behoeftige tersiêre Atterbury Trust-beursstudente en MOI-hoërskoolleerders, asook voedselverskaffing en gratis gesondheidsdienste. Ons droom en hoop is vir oop hande en harte om by enige van die inisiatiewe betrokke te raak, op enige van ’n verskeidenheid maniere. As iemand passievol oor ’n saak in die gemeenskap is en wil betrokke raak kan hul met ons hande vat. Letterlik enigeen het iets om te bied – só kan elkeen ’n positiewe impak in ons Suid-Afrika maak.

Omgee Hande was een van julle Vrouemaand inisiatiewe. Waar het die idee ontstaan?
Beide my seuns is nou uit die huis uit, soos verskeie van my vriendinne en kennisse –  almal vroue met middele, talente en omgeeharte. My droom is om geleenthede vir vroue te fasiliteer om in aanraking te kom met mense met minder as ons en te besef dat elkeen ’n verskil in die nood in ons land kan maak – op welke manier ookal.

Wat wou julle graag met juis dié inisiatief bereik?
Ons wou ’n geleentheid skep vir diegene met oop hande en harte om bande en brûe te bou binne die Trust se ondersteuningskring. Ons het vir die vroue genoem dat hulle byvoorbeeld vir ’n student emosionele bystand kan gee met ’n lekker koffie-date, raad en hulp met ’n huisdansrok, moed inpraat met wiskunde of watter van jou talente of gawes jy ookal bereid is om te deel.

Suid-Afrika is ’n land met soveel potensiaal en geleenthede, maar die realiteit is dat dit ook ’n land is waar die gaping tussen dié wat ’n oorvloed het en dié wat letterlik nie weet waar die geld vandaan gaan kom vir hul kinders se volgende maaltyd nie, dikwels geografies in ’n radius van minder as 10 kilometer leef.

Baie mense sluit hul oë vir die swaarkry, want dit voel so oorweldigend dat mense nie weet waar om te begin betrokke raak nie.

Ons wou vroue uit verskillende agtergronde saam aan ’n tafel laat sit en laat besef ons menswees is dieselfde. Ons is almal vroue wat net wil veilig wees in jou eie huis, kos op die tafel kan sit vir jou mense en wil hê dat dit moet goed gaan met jou man en kinders.

Vertel ons meer oor die twee kunstenaars, Frieda vd Heever en Lize Beekman, en hoekom julle juis vir hulle gekies het?
Ek het Frieda leer ken by InVia-gemeente in Stellenbosch waar sy optree as prediker en ook betrokke is by die sang. Frieda se menswees en die manier hoe sy die swaar en die wonderlikheid wat só deel is van menswees verwoord en mense help om dit alles vas te hou, in verwondering, spreek my diep aan. Sy is ook besig om groot opgang te maak in die musiekwêreld met haar onlangse album, Spoorsny, wat baie goed ontvang is. Frieda is eerlik, rou en direk en dan het sy ook hierdie wonderlike stem en manier met die Afrikaanse taal wat haar die perfekte keuse gemaak het vir wat ons wou bereik op die dag.

Wat Lize Beekman betref, is ek al vir amper 20 jaar ’n aanhanger en sy is ook een van ons gunstelingkunstenaars by die Atterbury Teater en ook Versnit. Lize het ’n intense pad met hartseer en verlies gestap en vertel haar storie met soveel eerlikheid en deernis – dit raak mense se harte diep aan. Haar uitsonderlike talent van liedjieskryf, sing en mense se diep emosies aanspreek, verstom my elke keer wat ek die voorreg het om haar te hoor.

Die wisselwerking tussen Frieda en Lize was eenvoudig asemrowend.

Wie was almal in die gehoor by die Oop Hande en was daar die betrokkenheid waarvoor julle gehoop het?
Daar was vriendinne vanuit Stellenbosch, Somerset-Wes, Paarl en Kaapstad. Heelwat vroue van InVia-gemeente in Stellenbosch. Dan ook ’n groep vroue van die Smartietown Womanhood in Cloetesville buite Stellenbosch en ook ons Graad 11- en 12 MOI meisies en hulle mammas en oumas. O ja, en paar van die MOI-seuns se mammas ook. ’n Paar meisies wat tersiêre beursstudente is het ook die geleentheid bygewoon. Daar was 150 vroue in totaal!

Kan jy ’n hoogtepunt of twee met ons deel uit die dag te gebeure? Beplan julle om hierdie Oop Hande ’n gereelde gebeurtenis te maak?
Vir my was die hoogtepunt die spontane samesyn tussen vroue uit verskillende generasies, agtergronde en  ekonomiese omstandighede. En dan natuurlik die verwondering op van die vroue se gesigte wat vir Frieda of Lize die heel eerste keer gehoor het.

Ons sal baie graag hierdie geleentheid jaarliks wil herhaal  – ons dink reeds aan planne vir volgende jaar se funksie!

Wat is volgende op die kalender by Atterbury Trust Wes-Kaap?
Tydens Woordfees in Stellenbosch word 18 van ons MOI-leerders se bronsbeelde in die Dylan Lewis Beeldetuin uitgestal en ons het ’n paar uitgelese gaste en potensiële MOI-donateurs genooi om op 25 en 26 September na die beelde te kom kyk. Van 16 tot 26 September staan die mammogram-trok weer by Atterbury Property se Richmond Corner en met die Trust se bemiddeling bemagtig ons ‘n totaal van 26 vroue uit Atlantis/Richmond Park Treasury Trust en Smartietown in Cloetesville om ook gehalte gesondheidsorg te ontvang.

Vir navrae of meer inligting oor hoe jy kan betrokke raak, kontak vir Zahn Hulme by [email protected]