Hy is ’n korporatiewe en kommersiële prokureur, ’n briljante sportman, en ’n mentor vir jong krieketspelers met sy eie stigting sodat hy aan sy medemens kan teruggee. Vir die mense by Atterbury Trust is Mmako nie net ‘n alumna van die beursprogram nie, maar ook ’n jarelange vriend en inspirasie.

Ons het laas in 2018 met jou gesels toe jy nog ’n student by Tukkies was, nou is jy al 28. Waarmee hou jy jou deesdae besig?

Sjoe, so lank gelede! Ek het sedertdien my klerkskap by Adams & Adams se kantoor in Lynnwood Bridge voltooi en na afloop daarvan dien ek nou as ’n “associate” in die geskillebeslegting-span by Alchemy Law, ’n kommersiële regsfirma in Sandton, en ek woon in Irene. Krieket is natuurlik steeds deel van my lewe!

Waar kom jou liefde vir krieket vandaan, en hoe het dit gekom dat jy begin speel en presteer het?

My liefde vir krieket het op ’n jong ouderdom begin, ek kan nie presies sê wanneer en waar nie, maar wat ek weet is dat ek as kind meer toets-krieket as WWE en Dragon Ball Z gekyk het, toe toetskrieket nog op SABC3 uitgesaai is. Ek het uiteindelik vir Tuks en Northerns gespeel voordat ek besluit het om voltyds op my klerkskap te fokus. Ek het dus tot op ’n provinsiale vlak gevorder as speler.

En nou het jy ook ’n stigting om jong spelers te ontwikkel. Vertel ons meer.  

Die Dalen Mmako Foundation is vroeër as verwag gevorm—wat eers oor tien jaar sou gebeur, is nou alreeds in sy tweede jaar. Die inspirasie kom van die besef dat daar enorme talent in ons land is, maar nie almal het altyd toegang tot die regte geleenthede of blootstelling nie. Ek het al in my hoërskooldae by Hoërskool Menlopark krieket by Laerskool Menlopark afgerig vir ekstra sakgeld. Ek wil iets teruggee aan ’n sport wat my deur die jare gedra het. My visie is eenvoudig: ek wil kinders die geleentheid gee om die beste weergawe van hulself te word, individue wat betekenisvolle bydraes kan lewer tot hul gemeenskappe en die samelewing as ’n geheel. Oor vyf jaar wil ek hê dat ons program 30 spelers per ouderdomsgroep insluit (o/9 tot o/13).

Hoe werk die Mmako Foundation– ek verneem jy het drie krieketspanne in wie jy belê? Wat beteken dit in praktiese terme?

Ek het in 2023 begin met een o/9-seunspan. Daardie span het nou o/10 geword en is hierdie jaar aangevul met twee nuwe o/9-spanne – een vir seuns en een vir meisies. Die spanne se name is Roses, Daisies en die Proteas. Die program groei geleidelik met ’n fokus op volhoubare ontwikkeling en mentorskap.

Hoe is hierdie spanne gekies en aanmekaar gesit, op watter vlak speel hulle, en hoe vaar hulle?

Ons projek is tans beperk tot Soshanguve en dien as ’n loodsprogram. Die meeste kinders kom uit die laerskole in die area. Die kinders speel reeds met harde balle. Al is hulle nog jonk, glo ek die span se vaardighede en spelpeil sal oor tyd verbeter. Dit gaan net oor aandag en genoeg oë en hande wat na hulle sal omsien.

Jy is ‘n veelsydige sportman wat ook presteer op die hokkieveld en padlangs – vertel ons van jou planne vir die opkomende Comrades marathon?

Min mense weet dit, maar ek het op laerskool landloop gedoen totdat krieket en rugby die oorhand gekry het. Hoewel ek nie genoeg oefen om die Comrades-ultramarathon te “hardloop” nie, beplan ek om dit te gaan draf – dit is meer genotvol en bied geleentheid om vriende te maak op die pad. Hierdie jaar neem ek vir die derde keer deel, maar dié keer hardloop ek met ’n hoër doel voor oë: om fondse in te samel vir die Foundation. Dit bied vir my veel meer motivering as die vorige twee pogings. Dit is waar my fondsinsameling-inisiatief van R89 vir 89km vandaan kom.

Wat is jou droom vir jou krieketspelers?

My droom is dat elke speler hul eie drome sal volg. En selfs al is krieket nie hul uiteindelike pad nie, wil ek hê dat die sport hulle die dissipline, dryfkrag en selfvertroue moet gee om enige ander loopbaan of droom met oortuiging na te jaag. Nie almal sal ’n Protea wees nie, maar almal verdien ’n regverdige kans om hul volle potensiaal te bereik en hulle drome na te jaag.

Wat het die Atterbury Trust beurslening vir jou beteken?

As ek filosofies mag wees: die beurs het my laat besef dat daar mense is wat in jou glo, selfs voordat jy self daarin glo. Mense wat wil hê jy moet suksesvol wees, sal jou ondersteun en lei. Ek het tannie Zahn reeds in my Graad 10-jaar by Hoërskool Menlopark ontmoet waar die Atterbury Trust ‘n pad met my begin stap het. Tannie Leonie was deurentyd betrokke as lewensafrigter en ek het soveel sessies deur die jare met haar gehad, waar sy my bemoedig het as ek dalk moedeloos begin raak het. Dis mense soos hulle wat my gewys watter soort mens ek graag wil wees—iemand wat weer in ander belê.

As mense wil betrokke raak en die Foundation wil ondersteun, wat kan hulle doen?

Ons verwelkom enige persoon of organisasie wat wil betrokke raak. Besoek gerus ons webtuiste waar ons kontakbesonderhede beskikbaar is. Belangstellendes kan my direk kontak indien hulle graag wil bydra – hetsy deur donasies of die verskaffing van sporttoerusting. Ons grootste doel is om hierdie jaar nog krieketnette te installeer, en hopelik is dit iets waarmee ons kan spog as Krismis kom.