Die Atterbury Trust het sy skenkingsplatform vereenvoudig om dit vir welwillendes makliker te maak om ’n donasie te maak in die rigting wat hulle na aan die hart lê. Uitvoerende Trustee Zahn Hulme vertel die storie agter Donasiewinkel.
Wat is die konsep agter die Donasiewinkel, wanneer is dit in werking gestel en hoe werk dit presies?
Die Atterbury Trust word deur baie mense gesien as ’n betroubare en geloofwaardige organisasie wat ’n daadwerklike verskil in mense se lewens maak; of dit nou ons 97% sukseskoers met beursstudente is, die kultuurprojekte wat ons ondersteun, die bykans 2 000 pasiënte wat oor die afgelope ses jaar gratis by Triomf gehelp is of ons nuwe Terugploeg voedselverskaffingsprojek. Ons stuur altyd die boodskap uit dat ons, met die bestaande Trust-infrastruktuur, soveel meer kan doen as ons net meer geld tot ons beskikking het. En Suid-Afrikaners se hande is mos altyd oop om te help. Ons wou dit vir mense maklik maak om te skenk vir ’n projek of inisiatief van hulle keuse.
Wat is die verskillende pilare waarvoor donasies ingesamel word?
Opvoeding, kultuur, die bevordering van Afrikaans, en mediese sorg met waardigheid is die vier wiele waarop die Trust loop. Daar is die geleentheid om tot elk van hierdie pilare by te dra. Mense het gewoonlik ’n spesifieke saak wat hulle na aan die hart lê en ons stel skenkers in staat om hulle bydrae te rig op die area waar hulle graag ’n verskil wil maak.
Kan potensiële skenkers ’n student identifiseer wat hulle graag individueel sou wou bystaan – en is daar tans sulke weldoener-student groeperings op julle boeke?
Ons verwelkom individuele betrokkenheid van donateurs by beursstudente. Die Donasiewinkel bied die ideale geleentheid aan ’n donateur wat graag ’n bydrae wil maak, maar nie noodwendig die infrastruktuur beskikbaar het om werwing en keuring van studente te doen of die tyd het om monitering te behartig nie. Die Atterbury Trust het ’n formele terugrapporteringstelsel in plek waar ons gereelde terugvoer oor studente se akademiese vordering asook emosionele welstand aan donateurs gee.
Ons het ’n paar sulke donateurs op ons boeke, soos die groep boere van die Delmasomgewing wat ’n belowende eerstejaar- mediese student uit hulle gemeenskap help asook een van die Trust se ander samewerkende besighede wat ’n behoeftige BCom Rekstudent aan UP help ondersteun.
Daar is beslis geweldig baie behoefte, en Covid-19 het seker ook ’n rol gespeel om alles verder te kompliseer. Hoe bepaal julle die prioriteite?
Die huidige ongeveer 174 beursstudente is ons prioriteit – ons wil hulle beslis deursien tot aan die einde van hulle studies. Studente het in hierdie tyd ook addisionele behoeftes – ekstra data en in sommige ander gevalle sakgeld vir basiese behoeftes en ook geld vir kos.
Ons benodig egter hulp van buite om volgende jaar nuwe beursstudente te kan help en doen ’n beroep op besighede en individue om donasies vir studiebeurse te maak. Al kan iemand net help met boekgeld of ’n deel van klasgelde. Elke bietjie help.
Hoe het Donasiewinkel die insameling van skenkings vergemaklik?
Die feit dat mense kan klik op ’n skakel en direk hulle kredietkaartbesonderhede kan invul, vergemaklik beslis die proses. Die feit dat daar ook ’n keuse van projekte is en dat ons ’n spesifieke projek saam met die skakel na die donasiewinkel kan loods, help beslis om meer mense by ’n saak waaroor hulle sterk voel, te betrek.
Wat is die volgende projek waarvoor julle spesifiek geld wil insamel, ná die Laerskool Westerlig-een?
Ons wil baie graag ’n groentetuin by die Triomfkliniek vestig en daarvoor benodig ons ongeveer R 20 000. Ons benodig ook ’n klomp gebruikte motorbande, plantjies en skadunet.
Terugploeg, ons nuwe voedselverskaffingsprojek, kan doen met donasies van vleis, groente asook vrywilligers wat ’n passie het vir opheffingswerk en mense kan vaardighede aanleer. Maar meer daaroor in ‘n nuwe volgende storie!
Kyk gerus wat is alles beskikbaar by Donasiewinkel.