Toe Jeanne-Mari Viviers (28) en haar geliefde gidshond, Ebba, onlangs die Noordwes Universiteit se verhoog betree om haar LLBgraad te ontvang, het sy nie die oorverdowende applous verwag waarmee hulle begroet is nie, skryf Leonie Bezuidenhout op Maroela Media se webwerf.
Jeanne-Mari vertel sy en die sesjarige kruising tussen ʼn labrador en ʼn apporteerhond (golden retriever), wat die laaste vier jaar elke klas pligsgetrou saam met haar bygewoon het, was op 19 Maart gereed om net vir haar pa se instruksies te wag oor waar sy vir watter kamera moet kyk en wanneer sy voor die adjunk-visekansellier moet buig, toe die gehoor hulle só uitbundig toejuig dat sy skoon oorweldig was.
“Dit was baie onverwags. Ek het gedink dit gaan net ʼn doodgewone gradeplegtigheidoomblik wees, waar ek wag vir my naam en dan buig voor die adjunk-visekansellier, maar toe die lawaai uitbreek het ek alles vergeet wat ek moes doen. Ek het na die tyd vir my ma gesê sy moenie kla oor hoe die foto’s uitgekom het nie, want ek het nie geweet wat aangaan nie,” lag Jeanne-Mari.
Hierdie uitblinker het nie ʼn enkele toets misgeloop of gedruip nie, en sy vertel dat dit vir haar ʼn persoonlike oorwinning was om uiteindelik met haar graad in haar hand te staan. “Dit is lekker om te weet dat ek die mense wat my bevraagteken het en onseker was oor hoe ek dit gaan regkry, verkeerd kon bewys. Daar was mense wat geglo het ek sal nooit in vier jaar my graad verwerf nie, maar ek het klaargemaak saam met almal wat saam met my begin het. Partykeer het ek, soos baie ander gestremdes, harder gewerk nét om ander mense verkeerd te bewys,” sê sy trots.
Jeanne-Mari skryf haar sukses deels toe aan ʼn Amerikaanse rekenaarprogram, JAWS (Job Access with Speech), wat haar “rekenaar toelaat om met haar te praat”. Sy het ook ses maande voordat haar klasse begin het, al haar boeke elektronies bestel deur Van Schaiks en Juta en na voorlesings op haar rekenaar geluister.
“Wat klasse betref het ek nooit notas geneem of my boeke saamgedra nie. Daar was al ʼn geskerts onder die ander studente dat ek al weer die dag my boeke vergeet het,” lag sy.
“Ek en Ebba het net elke dag klas toe gestap met niks by my nie. Soms het ek ʼn belangrike klas op band opgeneem, maar as ek dit vyf keer in die laaste vier jaar gedoen het is dit baie. Ek is nou al vir 22 jaar blind en het aangeleer om goed te onthou.”
Haar pa, Freek Viviers, het ook gehelp om weekliks die skyfies wat in die klas vertoon is vir haar op ʼn Word-dokument oor te tik en dit vir haar per e-pos aangestuur sodat sy dit kon leer. “Ek het ook ʼn lys van hofsake en wetgewings gekry en dit deurgestuur biblioteek toe waar ʼn dame daar my gehelp het om dit in die hande te kry. Dit was regtig ʼn spanpoging,” sê hy.
Tans werk Jeanne-Mari as ʼn kandidaatprokureur en beplan ook om haar nagraadse regsdiploma in belasting op Stellenbosch te doen. Sy wil ook graag haar meestersgraad in boedelbeplanning verwerf. “Ek moet net kyk watter een ek eerste kan doen, want ek kan ongelukkig nie albei gelyk doen nie, al wil ek hoe graag.”
Sy vertel dat sy by die werk haarself ook deurentyd moet bewys. “Daar is baie onsekerheid oor watter take hulle vir my kan te gee om te verrig, en mense tel hulle woorde om my. Oral waar ek kom, loop mense op eiers om my en weet nie hoe om my te hanteer nie, so ek moet heeltyd goedjies doen om vir hulle te wys ek kán dit doen,” verduidelik sy.
“Op universiteit was mense meer oopkop, hoewel ek nou nie sou sê dat almal my deurgaans met ope arms ontvang het nie. Daar was maar mense wat nie met my wou praat nie en wat gedink het ek en my hond is vreemd, maar my vriendinne het my nooit laat voel dat ek anders is as hulle omdat ek nie kan sien nie, en ons het doodgewone vriendskappe.”
Volgens Jeanne-Mari was klasse gedurende die somermaande Ebba se gunsteling, omdat sy dan in die hitte van Potchefstroom in die lugverkoelde klasse by haar voete kon neerval en salig slaap. “Sy het altyd presies geweet wanneer die klas lekker stil is en het dan haar diepste snork uitgehaal,” lag sy.
“Sommige klasse was maar ook vir ons albei ewe vervelig en dan het sy ook net geslaap. Ebba is baie vriendelik en mal oor mense. Gidshonde mag as ʼn reël nie kwaai wees teenoor mense of ander diere of kinders nie, want hulle sal dan nie kwalifiseer as gidshond of werkhond nie. Meeste van die studente het van haar gehou, want hulle is ook diereliefhebbers, maar daar was ook onsensitiewe studente wat met tye op haar stert getrap het.”
Jeanne-Marie het op Louis Trichardt grootgeword en het op sesjarige ouderdom haar sig heeltemal verloor nadat sy as tweejarige gediagnoseer is met retinale blastoomkanker. Nadat sy onsuksesvol plaatjiebehandeling en chemoterapie ontvang het, is haar linkeroog eers verwyder en daarna haar regteroog.
“My linkeroog is al op tweejarige ouderdom verwyder. Die dokters het later vir my ouers gesê die kanker versprei steeds en dat ek ondanks die chemobehandeling steeds blind gaan word. Toe ek ses jaar oud was, het hulle die moeilike besluit gemaak om eerder my regteroog ook te verwyder.”
Tog laat sy haar nie deur dié terugslag in haar lewe stuit nie. “Jy kan nie jou lewe leef deur elke dag te wonder hoe ʼn dag vandag gaan wees omdat jy kan nie sien nie. Ek wens soms ek kon iets soos iemand se gesigsuitdrukking sien, maar dit is net oomblikke van wensdenkery, ek voel nie die hele dag so nie,” sê sy.
“Mense wat kan sien, sal dink dit is vir my erg, maar dit is hoe ek sal voel oor byvoorbeeld iemand wat nie kan loop nie, want ek kan loop en kan my nie indink hoe dit moet wees om dit nié te kan doen nie. ʼn Mens moet eenvoudig aangaan met jou lewe.”
Dié artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn