As deel van Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI) se holistiese benadering, word die nuwe Graad 8-leerders ondersteun in hulle geestelike groei deur die Bergskool by te woon. Ons hoor meer by InVia Gemeente in Stellenbosch se Deon Meiring wat die groep lei.

Wat presies is die Bergskool en waar kom die idee vandaan?

Bergskool is ’n program wat deur Stellenbosch se InVia Gemeente ontwikkel is om kinders gedurende die belangrike lewensoorgang na adolessensie by te staan.  Dit behels ’n jaarlange proses van voorbereiding, gevolg deur ’n kamp en daarna ’n jaar van begeleiding, wanneer ons na hulle verwys as “warriors”.

Berge het ’n besondere betekenis in die Bybel – dit was dikwels op berge waar mense se lewens ten diepste geraak en verander is. Dit kon wees deur ’n roeping, ’n worsteling, ’n naamsverandering of selfs ’n fisiese litteken. Dink maar Abraham, Moses, Elia, Jakob, Petrus en Jesus. Op ’n berg het hulle roeping en hulle missie duidelik geword, en hulle het daar die insig gekry oor wie hulle is en wat hulle moet doen, en hierdie ervaring en nuwe wysheid het gelei tot ’n drastiese lewensoorgang en nuwe begin.

Ons lewe is soos ’n huis met kamers, en ons is die hele tyd besig om deur een kamer na ’n ander te beweeg om te kom waar ons moet wees op ons lewensreis. Die vier grootste kamers wat ons beleef is dié van kind, adolessent, volwassene en wyse gryse, en die deure tussenin verteenwoordig die oorgang van een na die volgende. Met Bergskool probeer ons om Graad 7-kinders te help met hulle belangrike oorgang na adolessensie.

Hoe het Bergskool ontstaan?

InVia het in 2012 ’n kamp by Bergbron in Wellington gehou met die tema “Twee Helftes van jou Lewe”. Dit het diep geraak en ’n gespreksgroep is daaruit gebore om uit te pluis wat dit vir die mense in ons gemeente sou kon beteken. Uit dié proses is die droom gebore om die InVia-gemeenskap te ondersteun deur die oorgange tussen die verskillende lewensfases met die hulp van mentors en fasiliteringstrukture. Die eerste Bergskool is in 2014 gehou nadat ons ‘n span fasiliteerders opgelei het en kinders van Stellenbosch en Perrivale begelei het.

En hoe het MOI betrokke geraak?
Ek is self nog nie eens vir so lank by InVia nie, maar ek het daar ’n hele paar MOI-kinders leer ken wat ook deelneem aan ons gemeente se aktiwiteite. Ek en Theo Geyser (onder wie se leiding Bergskool begin het) is verlede jaar deur Zahn, wat ook deel is van die InVia-gemeenskap, genader om betrokke te raak en daarna het ons met MOI se bestuur begin gesels oor die moontlikheid van ’n Bergskool in samewerking met MOI.

Hoeveel beurshouers is nou deel van die program, en wanneer het hulle begin met die program?
Daar is 11 deelnemers hierdie jaar. Ons het in Januarie al afgeskop met die eerste sessie.

Wat behels die MOI-beurshouers se program in praktiese terme? Hoe gereeld is daar interaksies en watter vorm neem dit aan?

Daar is sewe sessies wat ons so min of meer een keer per maand deur die loop van die jaar hou. Dis in effek ’n gesprekforum – ons sit in ’n sirkel en bespreek elke keer ’n onderwerp wat help om hulle bewus te maak van die oorgang na adolessensie wat ons met Bergskool merk. Die sirkel is ’n spasie wat opregte gesprekke uit die hart fasiliteer. So dit gaan nie net oor die inhoud wat behandel word nie, maar ook die belewenis om in die groep elkeen se stem te hoor en te laat hoor. 

Kan jy met ons deel wat die tipiese onderwerpe is wat aangeraak word met hierdie spesifieke lewensoorgang na adolessensie? Wat is geneig om die groot uitdagings te wees vir die kinders?

Ons werk met onderwerpe soos emosies, maskers en waardes. Bewustheid hieroor help die kinders om te begin ontdek wie hulle is. Een van die belangrikste dinge wat elkeen van ons moet doen is die uitdagende werk om te word wie ons regtig is. Dit klink eenvoudig, maar vat eintlik ’n leeftyd. Een groot uitdaging hiervan is dat dit dikwels aanvanklik moeilik is om in te sien dat dit waardevol is. Bergskool is nie juis gepla met prestasie soos wat almal dit ken nie. Ons wil by Bergskool onthou dat elke persoon se siel iets besonders het om te sê en dit gebeur dikwels op ’n manier wat heel vreemd is vir ’n wêreld wat die een doelwit na die ander najaag.

Hoe meet julle die sukses van die program – waarna streef julle met die MOI-klas?

Soos wat ek hierbo genoem het, is ons eintlik op ’n manier skugter vir konvensionele idees van sukses. Wat ek die graagste wil sien, is dat elkeen wat deelneem gehoor word. Adolessensie is ’n vreemde tyd, maar een van die gawes daarvan is om te begin luister hoe klink jou eie stem en wat jy dalk het om te sê wat anders mag wees as ander se verwagtinge van jou. Dis dalk vir sommige volwassenes ’n skrikwekkende gedagte, maar ek glo ons laat jongmense in die steek as ons nie vir hulle ’n ruimte skep om daardie behoefte uit te leef nie.

Aan die begin van die jaar is daar tipies heelwat gespanne gelag of ongemaklike stiltes, wat verstaanbaar is. Maar nou, teen die helfte van die jaar, beleef ek al hoe meer oomblikke waar iemand onverwags iets betekenisvol uit die hart sal deel. Soms sal iemand na so iets amper hulleself verbaas en dit sal baie keer die groep ook stomslaan om te sien watter diepte daar in hulle midde is. Dit is waarna ons streef.