Net soos dit al vir 27 jaar die geval is in Pretoria, het Atterbury Trust oor die afgelope drie jaar diep spore begin trap in die pragtige Bolandse dorp Stellenbosch met steeds-groeiende gemeenskaps- en welwillendheidswerk in die omliggende gebied. Uitvoerende Trustee Zahn Hulme vertel meer in deel een van hierdie storie in twee dele.
Toe jy destyds Wes-Kaap toe getrek het om die Atterbury Trust Wes-Kaap kantoor te vestig, het jy gedink julle sou in so ’n kort tyd soveel kon bereik? Wat was vir jou van die hoogtepunte van die laaste drie jaar?
Ons was gelukkig om die Atterbury Trust kantoor by La Gratitude te vestig waar die Atterbury Property-span onder die bekwame leiding van Gerrit van den Berg reeds vir ’n hele aantal jaar werksaam was. Ons was dus dadelik deel van ’n groter Atterburyspan met toegang tot netwerke en besigheidsvennote. Versnit by Rust en Vrede word reeds sedert 2012 aangebied, so daar is heelwat bewustheid in die Boland van die geloofwaardigheid en goeie werk wat die Atterbury Trust reeds oor die afgelope 27 jaar verrig. Dit het verder bygedra om die trust se voetspoor in die Wes-Kaap te vestig. Ons het ook hande gevat met bestaande welwillendheidsnetwerke in die groter Stellenbosch- en Paarl-omgewing om seker te maak dat ons nie bestaande liefdadigheid dupliseer nie.
Hoogtepunte wat vir my uitstaan is dat ons die aantal beursstudente wat in die Wes-Kaap studeer amper verdriedubbel het oor die afgelope drie jaar. Mentorskap, gereelde kontak met en ondersteuning van studente het ’n groot impak op hul sukses en welstand. Die Atterbury Trust se betrokkenheid by die Startwell voedingsprojek wat fokus op die bekamping van groeibelemmering en die sukses met die uitbou daarvan oor die afgelope drie jaar maak my hart bly. Die bewustheid en sukses van die GROOTSwem by Robbeneiland wat ook ten bate van Startwell aangewend word, lê my as een van die 19 deelnemende swemmers persoonlik baie na aan die hart. Daar is met vanjaar se GROOTSwem meer as R1 miljoen ingesamel wat verseker dat meer as 1 000 kinders elke dag vir die volgende jaar daagliks al die noodsaaklike voedingstowwe inkry.
Ons betrokkenheid by die Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI) het ook heelwat hoogtepunte opgelewer. Om die hoërskoolleerders te sien floreer, die eerste matrikulante van die program wat universiteit toe kon gaan asook verlede jaar se kunsuitstalling by die Dylan Lewis beeldetuin staan alles uit!

Wat dink jy maak die groot verskil in as dit kom by Atterbury Trust se benadering, en hoe speel dit toenemend in die Wes-Kaap uit waar die Trust nuwer is as in die noorde?
Ek dink een van die groot redes vir die sukses van die Trust is dat ons ’n klomp doeners is wat ons roeping met groot passie en toewyding aanpak. Ons neem verantwoordelikheid en maak projekte ons eie. Ons glo hart en siel in die krag van geleenthede en die potensiaal van mense wat ’n kans kry. Ons hande word sterk gemaak deur ’n netwerk van weldoeners wat die Atterbury Trust vertrou met hulle donasies.
Dit is ook vir ons belangrik dat Atterbury Trust-projekte lewensvatbaar moet wees – beurslenings word terugbetaal wat weer toekomstige beurse befonds. Terugploeg deel geskenkte landbouprodukte verantwoordbaar uit, maar begunstigdes van organisasies werk by Terugploeg; Triomf Kliniek se vrywilligerdokters skenk hulle tyd, maar daar word van behoeftige pasiënte verwag om ook ’n klein bydrae te maak tot byvoorbeeld brille wat vir hulle gemaak word.
By Atterbury Trust Wes-Kaap is ons tans besig om opnuut te fokus op ons netwerke en daar word einde Junie ’n bymekaarkoms by La Gratitude gehou waar ons mede-huurders en ander professionele spanne uitnooi om drie jaar van Atterbury Trust Wes-Kaap te vier en
blootstelling aan ons Wes-Kaapse projekte te gee ten einde nog meer mense betrokke te kry.
Is daar aspekte/projekte van Atterbury Trust in Pretoria wat julle nog beplan om ook Wes-Kaap toe te bring, of is daar aspekte wat uit die aard daarvan net werk in die noorde?
Ons probeer hard om ’n paar boere aan boord te kry wat op ’n gereelde basis landbouprodukte skenk om Terugploeg ook ’n deel van ons gereelde aktiwiteite in die Wes-Kaap te maak. Ons het tans die Carinus-boerdery buite Stellenbosch aan boord wat bloubessies en nartjies skenk en het al heelwat voelers uitgesteek na ‘n hele paar ander vrugte- en groenteboere. Ons het agtergekom dat hier in Stellenbosch ook gevestigde liefdadigheidsnetwerke is en meeste boerderye is reeds betrokke by welwillendheid en fokus ook eerstens op hulle eie werknemers se welstand. Maar ons hou aan probeer!
Waar sien jy die Wes-Kaap se grootste behoefte wat inskakel by die Atterbury Trust se oorwegings?
Dit sal wonderlik wees as ons die reeds gevestigde netwerk verder kan uitbrei met gereelde donateurs wat passievol is oor opvoeding, voedselverskaffing en hulp aan die mees weerlose mense in ons gemeenskap.
As jy wil bydra tot die werk wat Atterbury Trust in die Wes-Kaap doen, kontak gerus vir zahn@atterbury.co.za of surisa@atterbury.co.za.