Chloe Blignaut is ’n derdejaar argitektuurstudent aan die Universiteit van Pretoria (UP), wat as die eerste begunstigde van die beurslening befonds deur Atterbury Trust-vriend en weldoener Paul Wolmarans*, verlede jaar vakansiewerk in die VSA beleef het. Sy deel haar storie.
Jy is besig met BSc Argitektuur by Tuks. Wou jy nog altyd ’n argitek geword het, of hoe het jy op die studierigting besluit?
My oupa was ’n argitek, maar ek was al in Graad 11 toe weet ek nog nie wat ek wil swot nie. Ek het wel baie gehou het van wiskunde, en IGO (Ingenieurs-grafika en ontwerp) en al het ek nie kuns as vak op skool gehad het nie, stel ek ook baie daarin belang.
So dinge het alles saamgewerk om my in daardie rigting te stuur – en toe kom die beursleninggeleentheid ook op met die vereiste dat ek in ’n bourigting moes swot. So dit was ’n bestiering dat ek toe reeds op argitektuur besluit het. Ek geniet dit baie en was nog nie ’n oomblik spyt nie.
Wat beteken die Atterbury Trust beurslening vir jou?
Die lening het ’n groot finansiële las van my ouers se skouers afgehaal. Die vakansiewerksgeleentheid wat saam met die beurs gekom het was vir my selfs meer belangrik, want ek het sodoende nuwe programme aangeleer, ’n kans gekry om die werkswêreld te ervaar en ondervinding op te doen; en ek het ook ’n geleentheid gekry om oorsee te gaan en so ’n bietjie van die wêreld te sien. As dit nie vir die beurs was nie, sou my ouers ’n banklening moes probeer kry, wat natuurlik met die ekstra verpligting van rente kom. Die rentevrye aspek gaan my baie help as ek na afloop van my studies begin terugbetaal.
Jou beurs word geborg deur Paul Wolmarans wat by dieselfde skool as jy gematrikuleer het en nou in die VSA woon, en dit is waar jy verlede jaar vakansiewerk gaan doen het. Vertel ons meer van die ervaring.
Ek was verlede jaar vir agt weke die Wolmaranse se huisgas in Apopka, Florida en het vakansiewerk gedoen het by een van Oom Paul se besighede, NRG Cladding, wat buitenste panele vir geboue met rekenaarprogramme ontwerp. Ek het die rekenaarprogramme wat hulle gebruik, aangeleer en twee projekte gekry om uit te voer, waarvan een behels het dat ek vir ’n regte gebou waarmee hulle besig was, ’n deel van die “cladding” ontwerp het, wat gebruik is om koste en hoeveelhede te bepaal.
Dit was my eerste keer oorsee en dit was wonderlik om Oom Paul en Tannie Elfriede beter te leer ken. Hulle het soveel moeite gedoen om my te laat tuisvoel; en daar was soveel hoogtepunte. Die dag nadat ek daar aangekom het, was dit Thanksgiving wat ek saam met hulle gesin gevier het. Ek was nog bietjie verskrik, maar almal het my so tuis laat voel. In my eerste week daar was ons op ’n bootrit na die Bahamas; ek het nooit so iets beleef nie, en dit was so ’n groot bederf! Die Wolmaranse het regtig soos tweede ouers vir my geraak. Hulle het my ook op ’n onvergeetlike besoek na Disney World geneem, saam het hul seuns en dié se vroue – wat ’n “magical” plek! Dit was vreeslik lekker en die hele familie het elke oomblik spesiaal gemaak.
Vertel iets van jou eie gesin – waar pas jy in, is daar ander boeties/sussies?
Ek is die oudste van drie – my sussie, Xeney is 20 en is ’n tweedejaarstudent in Sielkunde en Kriminologie by Varsity College. My boetie, Duncan, is 18 en in matriek by Hoërskool Centurion. My ouers, Pierre en Carine, is albei gekwalifiseerde mediese tegnoloë – Ma werk by Lasec as ’n bestuurder van ‘n verkoopspan, en Pa is ’n entrepreneur wat vir homself werk.
Waarna sien jy uit vir 2025, en langer termyn, wat is jou toekomsdroom vir jouself? Waar wil jy oor 10 jaar wees?
Vanjaar is ’n belangrike een, want dis my laaste voorgraadse jaar, en ek sal waarskynlik in 2026 eers moet werk voordat ek hopelik my nagraadse kwalifikasie kan aanpak. Oor 10 jaar is ek 30 en ek hoop om teen dan al ’n suksesvolle argitek te wees. Ek sal graag ook by internasionale projekte wil betrokke wees, en hopelik is daar geleentheid om dalk saam met KenPat – die groter groep waarvan NRG Cladding deel is – aan ’n projek of twee te werk. Ek sal in elk geval definitief eendag teruggaan Amerika toe om om vir Oom Paul en Tannie Elfriede te gaan kuier.
*Lees ook die onderhoud met Paul Wolmarans, hier.
Maak ’n lewenslange impak in ’n verdienstelike student se lewe deur by te dra aan Atterbury Trust se beursleningfonds. ’n Artikel A18-sertifikaat vir belastingdoeleindes is beskikbaar vir alle skenkings. Sien hier om meer uit te vind.