Soos ons opbou na die 20ste herdenking van die aanvang van Atterbury Trust se beursprogram, het ons van ons eerste uitblinkers gaan opsoek, en kyk met verwondering na waar hulle hulle vandag bevind. Vandeesmaand gesels ons met Carmen Wright, nog een van die Eerste Ses beursstudente, wat in 1999 met die Trust se hulp begin swot het.
Kan jy onthou hoe jy destyds van die beurs te hore gekom het?
Dit is so lank gelede dat die details nie meer vir my duidelik is nie, maar ek dink dit was deur my hoërskool. Ek het ook vir ander beurse aansoek gedoen maar is nie eers vir een ander onderhoud genooi nie…
Hoe lank was Atterbury Trust deel van jou studiepaadjie? Wat het jy geswot?
Ek het van 1999 tot 2002 BCom Rek en toe BCom (Hons) Rek deur die Universiteit van Pretoria geswot, so ek was ook in die heel eerste groep van Atterbury Trust se beursstudente. Ek het ‘n beurs gehad vir die hele tydperk.
En op watter draaie het jou beroep, en die lewe, jou sedertdien geneem? Waar bevind jy jou vandag?
Ek het my klerkskap by Deloitte in Pretoria gedoen van 2003 tot 2005. Daarna het ek by Deloitte Forensic and Dispute Services aangesluit om skelms te vang. Dit was baie opwindend, maar na die geboorte van my eersteling, Jonathan, het al die reis vir werk en ad hoc ure moeilik begin raak. Ek het in 2009 by Unisa aangesluit as ’n senior lektor. Daarna het ek my MCom (forensiese rekeningkunde) by NWU voltooi en leef nou my passie uit as dosent by Unisa en ook mamma. Ek en my man, John, en Jonathan, wat nou nege is, en die sewejarige Julia woon in Magalieskruin in Pretoria.
As jy terugdink, wat het die Atterbury beurs vir jou persoonlik beteken?
Dit gaan eintlik nie net oor die geld nie. Ja, die geld het dinge baie makliker gemaak, maar ek het reeds op hoërskool al deeltyds begin werk en sou probeer het om ander planne te maak. Die waarde vir my lê in die mense en die blootstelling. Die Atterbury-span was my eerste blootstelling aan “besigheidsmense”. Hier het ek gesien hoe vergaderings met gebed begin, hoe ’n dinamiese groep met harte vir mense trots is op hul taal, kultuur en geloof en dit uitleef deur ’n verskil te maak. Dit alles terwyl hulle baie suksesvol besigheid doen! Francois, Louis en Zahn was almal vir my ’n inspirasie en ek was supertrots om met hulle geassosieer te wees.
Het jy nog kontak met mense uit jou beursstudent-dae, hetsy vriende wat jy gemaak het, of die Atterbury mense?
Jip ek het nog kontak met van die ander alumni beurshouers; ek en Jacomien Ehlers sien mekaar van tyd tot tyd by SAICA-funksies. Ek lees ook graag van al Atterbury se prestasies in die Omgeenuusbriewe.
Wat dink jy van Atterbury Trust se idee van ’n gestruktureerde alumni-program om voormalige studente soos jy die geleentheid te gee om betrokke te raak by die huidige studente?
Ja ek dink dit is ’n blink plan! Ek dink ook alumni beurshouers moet betrokke raak by Atterbury se uitreikprojekte en ’n aktiewe rol speel.
Jy staan nou al vir baie jare aan die ander kant van die lesingsaal se banke – in jou ervaring, hoe verskil die uitdagings vir vandag se studente teenoor toe jy ‘n student was?
Sjoe, waar sal ek begin, daar is so baie! Ek dink hulle is gewoond aan “instant gratification” en besef nie altyd die lang ure, toewyding en harde werk wat sukses vereis nie. Selfstandig werk is ook ‘n uitdaging. Hulle sukkel ook om met begrip te lees; ek dink baie van vandag se studente verstaan nie altyd wat hulle lees nie. Vir die Afrikaanse studente is Engels as voertaal ook soms ‘n uitdaging. Baie van die voorgeskrewe boeke is nou net in Engels beskikbaar.
In jou opinie, hoe kan alumni die mees betekenisvolle bydrae lewer tot die Atterbury Trust beursprogram?
Behalwe vir die uitreikprogramme soos ek genoem het, kan ons dalk help met moontlik bemarking van die beursprogram en ook as mentors optree vir studente.