Elke slag as ons met een van ons beursstudente gesels, kom ons onder die indruk van die onbeperkte jong talent in ons land, en is ons dankbaar vir ons beursskenkers wat dit vir ons moontlik maak om elke jaar nog ’n groep jongmense te help op die pad om hulle volle potensiaal te bereik. Francois van Zyl is so iemand; hardwerkend in akademie in sy finale jaar van BCom Risikobestuur, maar ook betrokke op die PUK-kampus by buitemuurse bedrywighede wat saakmaak.

Vertel ons ’n bietjie oor jou agtergrond en hoe dit gekom het dat jy ’n Atterbury beurshouer geword het.
Ek kom van ’n klein dorpie in die Vrystaat, Riebeeckstad, waar ek in 2016 by die Hoërskool Riebeeckstad gematrikuleer het. My ma is ’n onderwyser en my ouer broer het in haar voetspore gevolg. My ouers is geskei en my pa bly in Kanada. Ek het die eerste keer van Atterbury gehoor by een van my ma se kollegas by haar skool, en is al van my eerste jaar af gelukkig genoeg om ’n beurshouers te wees, so dit is al drie jaar.

Het jy ander planne gehad ingeval jy nié hierdie beurs gekry het nie?
Indien ek nie die beurs gekry het nie, sou ek waarskynlik aansoek moes gedoen het vir ’n studentelening, maar met ’n enkelouer-salaris was die kanse maar skraal…

Ons hoor jy is betrokke by die kampusradiostasie – wat is jou rol daar; en hoe het jy daar beland?
Ek wou meer betrokke raak op die PUK, maar die formele kampusstrukture soos die ASV en KRS was nie vir my nie, so toe het ek in my tweede jaar by PUKfm aangesluit. En ek het regtig my tweede familie by PUKfm gevind. Ek is nou produksie- en ateljeebestuurder en is in my tweede termyn vir 2019/2020.

Vertel ons van julle veldtog om die studente meer “groen-bewus” te maak. Waar het die idee ontstaan en hoe het julle dit toe uitgerol?
By PUKfm is ons slagspreuk “meer as net radio” en ons doen gereeld veldtogte om meer betrokke te raak by die studente. Ons onlangse “Last Straw” veldtog het oor ’n week gestrek en dit het begin toe ons vroeg een Maandagoggend die Calvyn – ’n fontein op kampus – met leë plastiekbottels volgemaak het. Die idee was om mense se reaksie te sien en te kyk of hulle sou saamtrek en die fontein skoonmaak. Later in die week het ons met ’n plaaslike koffiewinkel hul eko-vriendelike koffiebekers verkoop, en dwarsdeur die week het ons verskeie videos op sosiale media geplaas om studente bewus te maak oor plastiek-besoedeling. Die veldtog was ’n groot sukses.

En akademie – hoe het jy op BCom Risikobestuur besluit? Wat wou jy “eendag” geword het toe jy klein was?
Ek het al op kleuterskool gewys ek wou in die sakewêreld ingaan! Ons moes eenkeer vir ’n kleuterskool-geleentheid aantrek soos wat ons “eendag” wou wees, en alhoewel daar baie polisiemanne en resiesjaers was, was ek in ’n pak met ’n koffertjie!

Wat reken jy is die belangrikste les wat jou ouers jou geleer het?
My ma is my groot inspirasie en sy het my al soveel lesse geleer dat dit moeilik is om een uit te sonder. Maar ek sal sê die belangrikste is dat sy my altyd aangemoedig het om my beste te gee en nie net sommer handdoek in te gooi as dinge moeilik raak nie.

Wat is jou droom vir jou toekoms?
Ek maak vanjaar klaar met my eerste graad en beplan om in 2020 my honneurs in Ekonomie en Risikobestuur aan te pak. Ek is nog onseker oor wat ek in die toekoms wil hê; maar ek sal baie graag wil teruggee en sal waarskynlik na ’n rukkie in die privaatsektor óf in die akademie óf in die openbare sektor werk soek.

Hoe sal jy die waarde van Atterbury Trust se beursprogram verduidelik aan ’n potensiële beursskenker?
Hoewel Atterbury baie beteken op ’n direkte manier met hulle befondsing en die GRO-mentorsessies, sal ek sê dat die grootste waarde wat dit vir ’n student bied meer ontasbaar is. Die Trust gee vir baie studente ’n kans om hulself te verbeter, en die vryheid om dit te doen. Die geleentheid om ’n universiteitopvoeding te kry is ’n groot voorreg, en ek wil vir Atterbury Trust en almal wat die Trust ondersteun, uit my hart uit bedank vir hierdie voorreg.