Die Nasionale Teaterinisiatief (NATi) is die medeborg van die treffer-drama Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran wat eersdaags by die Atterbury Teater op die planke gebring word. Ons hoor by NATi se Cornelia Faasen en die vervaardiger van die produksie, Hugo Theart, hoe dit alles bymekaar gekom het.
Cornelia, vertel ons meer van NATI, wat is julle oogmerke, en wat is julle werksaamhede? Hoeveel produksies borg julle jaarliks?
NATi is ’n befondsings- en ontwikkelingsinisiatief van verdienstelike teater wat ’n perspektief of narratief toevoeg tot die Suid-Afrikaanse narratief. Ons is werksaam in Afrikaans, maar posisioneer Afrikaans as ’n inheemse taal van Suid-Afrika wat gelykstaan aan ander inheemse tale en graag met ander taal- en kultuurgemeenskappe saamwerk. Die hoeveelheid produksies wat ons borg wissel jaarliks afhangend van die aanbod. Ons werk nou saam met die groot vervaardigende feeste en teaters in die land om die regte produksies in ’n jaar te identifiseer om die teaterlandskap te dien (ons ondersteun jong en ouer kunstenaars, nuwe, innoverende werk, maar ook klassieke werk, ons ondersteun ook werk wat genre-vernuwend is en ook werke wat ons weet by ons meer tradisionele gehore aanklank sal vind). Ons probeer dus leemtes aanspreek, maar ook grensverskuiwend te wees. Ons wil graag gehore uitdaag om opnuut te dink oor die politieke situasie in die land en oor die stand van die wêreld en die rol van “Afrikaner”. Maar ons wil ook graag teater maak wat gehore opgewonde maak en sal laat terugkeer na die teater.
Die waarheid is dat ons maar bietjie van ’n “mixed bag” is en konstant moet aanpas by die bedryf en die behoeftes van die onderskeie rolspelers. Ons feeste is ons grootste vennote en elke fees het sy eie karakter en unieke gehore, en ons moet hierby aanpas en dit respekteer.
Hoe het NATi by hierdie produksie betrokke geraak; en presies wat is julle rol?
Cornelia: Ons rol wissel van produksie tot produksie. Ons is soms meer betrokke in ’n vervaardigende hoedanigheid en soms minder. Die rede vir ons betrokkenheid wissel ook van projek tot projek en produksie tot produksie, maar dit word grotendeels bewerkstellig deur samewerking met feeste.
Dramas is duur om op te voer en ons is gewoond dat hulle deesdae meestal maar by kunstefeeste te sien is. Hoe het dit gebeur dat jul besluit het dit moet Atterbury Teater toe kom?
Cornelia: Die Atterbury Trust het ons ’n geruime tyd terug al genader vir ’n moontlike samewerking met die teater en NATi. Monsieur Ibrahim het op die regte tyd en op die regte plek op ons almal se radars verskyn as die ideale produksie om hierdie samewerking te laat materialiseer. Ons is geweldig opgewonde oor die samewerking want dit bring al die regte rolspelers bymekaar vir ’n produksie wat broodnodig is in die tyd van die wêreldgeskiedenis, en wat ook ons Afrikaanse teateraanbod absoluut tot sy reg laat kom. Hierdie is ’n beeldskone produksie wat deur soveel moontlik mense gesien moet word. Philip Rademeyer is ’n ontsettend opwindende jong regisseur wat alreeds baie diep spore getrap het en David Minnaar lewer ’n meestersklas in toneelspel. Die vertaling deur Naòmi Morgan is ook van onskatbare waarde – dit is nie aldag dat ons so ’n internasionale werk in Afrikaans kan hoor nie. Daar is ’n rede waarom die produksie ’n jaar na sy opening nog so in aanvraag is – dit laat niemand in die gehoor onaangeraak nie.
Hugo, vertel ons van jou betrokkenheid – hoe het dit gekom dat jy Monsieur Ibrahim op die planke gebring het?
Naòmi Morgan het my genader oor die stuk. Nadat ek dit gelees het was daar geen twyfel by my dat dit ’n waardevolle en belangrike stuk vir Suid-Afrikaanse gehore sou wees nie.
Ons verneem die stuk is gebaseer op ‘n Franse boek, Monsieur Ibrahim et les Fleurs du Coran, wat in 2003 verfilm is met Omar Sharif in die hoofrol… Het jy die film gesien en hoeveel van ’n invloed het dit op die stuk gehad?
Hugo: Naòmi Morgan het die boek eerste vertaal en daarna die toneelstuk. Ek het nie die film gesien nie.
Hoe het jy jou regisseur en akteur gekies? Hoekom glo jy veteraanakteur Dawid Minnaar is die ideale man vir die rol/le – wat bring hy na die produksie? En het jy ‘n gunsteling-karakter onder die klomp wat hy vertolk?
Hugo: Dawid Minnaar was van die begin my en Naomi se eerste keuse vir die rol van Momo, en hy het ook na die lees van die teks onmiddelik ingestem. Dawid is ’n uitstaande akteur en hy skitter in die rol; hy laat dit baie maklik lyk, maar dit is ’n enorme en uitdagende taak vir ’n akteur. Dit verg van hom om met die kleinste en vinnigste skuiwe karakters te skep van alle ouderdomme en agtergronde. Dawid bring ’n warmte en ’n gestrooptheid wat nodig is vir die stuk. Hy verval nie in die sentimentaliteit nie, maar bring steeds ’n ongelooflike empatie teweeg. Hy het dan ook Beste Akteur benoemings vir ’n kykNET Fiësta 2018 en ’n KKNK Kanna ontvang.
Ek en Dawid het lank gesels oor wie die regisseur moes wees. En uit ’n paar opsies het ons keuse op Philip Rademeyer geval. Hy is ’n besonderse regisseur (en natuurlik ook skrywer) met ’n fyn aanvoeling vir taal maar hy verstaan ook die magiese van teater. Hy het die vermoeë om op minimalistiese wyse die mees komplekse gedagtes uit te beeld.
Met hierdie spesifieke produksie, wat is die uitdagings? Of is dit ’n maklike stuk om mee te reis? Het jy al voorheen ’n opvoering by Atterbury Teater aangebied?
Hugo: Die stuk is minimalisties, maar visueel beeldskoon in sy eenvoud. Die fokus is op Dawid se spel. En Philip het die ontwerp en regie ook van so ’n aard gedoen dat die teks en spel sentraal staan.
Dit is die eerste maal dat ’n toneelstuk waarby ek betrokke is, opgevoer word by die Atterbury Teater. Ek is baie opgewonde!
Hoeveel keer het julle al die stuk opgevoer?
Hugo: Die stuk het in 2017 by KKNK geopen en dit het reeds drie ander speelvakke gehad, maar daar is steeds groot belangstelling en die stuk sal hierdie jaar by van die ander feeste te siene wees en ook in ander stadsteaters.
Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran word op 21 en 22 April by Atterbury Teater opgevoer. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of direk deur die teater.