Klik op skilderye om groter te maak [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
‘n Saak van eer
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] Wat beteken dit vir ’n gesin as die vader en hoof van die huis opgeroep word om oorlog toe te gaan? Dit is ’n bevel wat nie verontagsaam kan word nie. Vir die man is dit ’n saak van eer. Die kommer oor die gesin wat hy agterlaat, moet hy voorlopig verberg. Dit is immers nie net hy wat geraak word nie. Meer mense word op ’n praktiese en emosionele vlak hierby betrek. Die gevolge van sy vertrek sal eers veel later verreken word. Die Boer, as hoof van die huis, laat sy vrou, ’n opgeskote seun en ’n baba agter. Hy staan reeds op vertrek. Sy bandolier met koeëls hang om sy skouers. Hy kan nie nou op die weerloosheid van sy vrou en kinders reageer nie; dus omklem sy hande die voorlaaier waarmee hy sy plig moet nakom om sy volk, in hul strewe na vryheid, te verdedig. Die laai van die geweer word ook ’n handeling om sy emosies te onderdruk. Om te kan afskeid neem, moet hy sy gevoelens voorlopig opskort. Hy moet so spoedig moontlik in die veld by sy kommando aansluit. Kan hierdie oomblik tussen ’n man en sy vrou in woorde uitgedruk word? Die jong seun voel die spanning intens aan. Hy verstaan nog nie wat dit alles behels nie, maar hy is bewus van die hartseer wat sy ma ervaar. In hierdie situasie is hy magteloos. Onbewustelik besef hy dat sy pa se vertrek die manlike verantwoordelikheid op hom laat rus om na die plaas om te sien. Tog beleef hy ’n verskeurdheid. Die aanraking van sy ma is ’n ambivalente sein: enersyds dié van troos, en andersyds van die van vrees in homself. Hy vereenselwig hom met sy pa en sou veel eerder met hom wou saamgaan. Op haar beurt besef die vrou deeglik wat man se oproep inhou. Haar liggaam is effens weggedraai om haar onsteltenis vir haar seun te verberg. Hierdie besluit, besef sy, raak hulle almal, behalwe miskien haar baba wat op hierdie stadium niks hiervan verstaan nie. Tog voel die klein kind ’n onrustigheid aan, wat in die gesiggie weerspieël word. Die ma kan nie help om heimlik te wonder of hulle ooit weer as gesin so bymekaar sal wees nie. Die Boer sal binnekort by sy kommando aansluit. Hy is vasbeslote om sy deel by te dra om die vyand te verslaan. Vir hom gaan dit om sy grond en sy land wat beskerm moet word. Dit is sy trots en sy eer. Die feit dat die huis nog ongeskonde is, plaas die toneel in ’n vroeë stadium van die Anglo-Boereoorlog. Hierdie drama word deur elke Boeregesin beleef; dit speel af in elke huis waar iemand vir die oorlog opgeroep word — iets waarmee almal kan identifiseer. [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Rapport
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] ’n Enkele ruiter is op pad deur hierdie uitgestrekte Karoolandskap — in ’n land waar oorlog onvermydelik is, die landskap van dispuut. Daar is haas in die perd se galop. Die man is dalk ’n rapportryer; moontlik op bevel op ’n bepaalde sending. Of miskien is hy onderweg om by ’n kommando of regiment aan te sluit. Hy is nie onmiddellik herkenbaar nie — kan hy ’n Britse gids wees, of iemand op pad om vir hulle te veg? Of is hy ’n Boer op ’n missie tussen kommando’s? Niks verraai die ruiter se identiteit nie. Hy dra nie ’n uniform nie, maar wel ’n hoed. Bes moontlik is hy ’n boodskapper. Wat die sterkste tref, is sy afsondering in hierdie wye landskap. Hy is onbeskerm en weerloos in die onvoorspelbaarheid van ’n oorlogsituasie. Nie net is hy geisoleer binne die landskap nie, maar ook in homself. Sy opdragte en die gevare daaraan verbonde laat hom kwesbaar voel, en uitgelewer aan omstandighede buite sy beheer. Om alleen te wees, is dalk ’n tyd om ver terug te dink; ’n tyd van intense verlange na dierbares wat agtergelaat is, of na ’n huis en wêreld wat ná die afloop van die bitter oorlog op terugkerendes mag wag. Maar in hierdie oomblikke is hy die gevangene van ’n verlate vlakte. Ondanks die verantwoordelikheid en die belangrikheid van sy missie, bly die ruiter ’n eensame figuur. Moontlik is dit slegs onder hierdie omstandighede dat hy hom aan die luukse van intiem persoonlike herinneringe kan oorgee. Maar hy sal ook die vrees vir isolasie en gevaar ken. Hy weet dat hy hom daarteen moet verset, want hy kan die realiteit nie wegwens nie. [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Op die lys
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”]In hierdie opvallend spanningsvolle situasie kan ’n naam op ’n lys iemand se onmiddellike toekoms of noodlot bepaal. ’n Man staan vir oomblikke weerloos, uitgelewer aan die inligting of besluit wat aan hom oorgedra word. Watter soort lys is dit? En is die man ’n verraaier of hensopper wat nou ontmasker is en gekonfronteer word? Buitekant wag die kommandolede. Hulle lyk asof hulle reeds kennis dra van iets wat hierdie man dalk nog nie weet nie. Is dit om sy ontwil dat hulle hier is? Die vergelding van broer teen broer? Of is dit dalk hy wat inligting het oor die naam op die lys? Dit mag inligting omtrent ’n familielid of vriend wees; selfs inligting wat sy lewe op hierdie oomblik op die spel kan plaas. Die man met die papier in sy hande lyk streng, saaklik en ongesteurd. Die toehoorder is onseker en verbouereerd. Moontlik is sy naam op die lys om opgeroep te word vir oorlogsdiens. Sou dit wees dat hulle besig is om hom te oorreed, dalk teen sy sin? In sulke omstandighede, waar ander manne soos hy vir volk en vryheid veg — ook vir syne — durf hy nie ’n draadsitter wees nie. Hy is ’n Boer, en hy het sy eer. Hy het ’n plig om in die oorlog te veg vir die gemeenskaplike strewes van al sy mense. Is hy doodgewoon gekonfronteer met die nuus: “Jy is ’n spioen, kom saam met ons. Daar is geen genade nie”? Moet hy dalk slegte nuus van sy vrou en kinders aanhoor? Dalk is hulle verjaag van die plaas wat voor hul oë afgebrand is. Is die huis waarin daar vergader word, dalk sy eie? ’n Sekere huislikheid is byna tasbaar. Daar is nog portrette aan die muur, en persoonlike besittings wat aan die vertrek die ambiance van ’n tuiste gee. Tog skep die kil, grysblou lug ’n onheilspellende atmosfeer. Is dit ’n tydelike militêre basis van die Boere? Iets wat veronderstel is om ’n gekoesterde huislike ruimte vir die samesyn van ’n gesin is, word nou ’n oorlogsomgewing. Die spel van teenstrydighede laai die toneel met onsekerheid. [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Uit die bloute
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] Drie ruiters kom op ’n stywe galop oor die rant. Hulle ry weg van ’n brand op die agtergrond. Dit is onseker wat daar gebeur het, maar angs en dreiging is uit die situasie af te lees. Wat het in die slag gebly? Die plaashuis, die landerye, of alles? Was dit ’n bewoonde of onbewoonde gebied? Waar is die mense van die plaas? Dit is moontlik dat ’n vrou en haar kinders, bygestaan deur bywoners of werkers, onverhoeds gevang is. Is hulle gedreig, of is die lont vir die onbeheerde vuur bloot aangesteek en op die huis gegooi? Dit wil voorkom asof die huis en landerye reeds vroegoggend afgebrand is. Die mistigheid van die vroeë more lê nog op die gesigseinder. Was die plaasmense se vertrek net so onverwags soos die soldate se verskyning? Kon hulle tog iets van waarde red? Wat het hulle ervaar en waar sou hulle nou wees? Om die plaas af te brand, was ’n besluit wat op hoër gesag geneem moes word. Soldate is gestuur om hierdie opdragte uit te voer. Soldate van verskillende koloniale moondhede was deel van die Britse troepe. Hierdie ruiters, wat nie die kenmerkende Britse helms dra nie, kan waarskynlik Australiese soldate wees. Hulle is toerekenbaar, maar veg in ’n land teen mense met wie hulle geen verbintenis het nie. As Britse onderdane is hul sonder keuse opgeroep om vir die Britse Ryk tot diens te wees. Is hulle alleen, of is daar nog soldate agter die rant? Wat het hulle agtergelaat? Is daar nog iets te redde — op die lande, vir die plaasmense of vir die oorlogspoging? Waarmee ry die mense weg — neem hulle iets as ’n aandenking saam, of slegs folterende herinneringe, soos uit ’n nare droom? [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Einde van die spoor
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] Die klippe op die treinspoor dwing die trok van die spoor af. Dit is ’n beplande daad. Die frenetiese beweging en die vuurlig bo- en onderkant die donker trok beklemtoon die element van angs en verwarring. Wat presies sou gebeur as die trok die spoor verlaat, kan nie met sekerheid voorspel word nie. Dit is onseker hoe die brand ontstaan het waardeur die Britse soldate nou gedwing word om die trein so vinnig as moontlik te verlaat. Dalk is dit die slag van die ontsporing, of dalk was daar ontvlambare materiaal wat deur ’n fakkel getref is. Dalk het die Britte self na die ontsporing ’n brand gestig om te verhoed dat die proviand en ammunisie in die Boere se hande val. Die Engelse is onverwags in ’n verrassingsaanval gekonfronteer. Hul eerste prioriteit is om net uit die vlamme te ontsnap. Hulle moet ook dadelik gereed wees vir konfrontasie. Vir hierdie jong troepe is dit ’n vreemde landskap sonder enige herkenbare eienskappe. Hulle beleef onmiddellike trauma, onder andere die vrees vir verbranding en verwonding, selfs vir die dood. Met die afspring van die trok het hulle beserings opgedoen. Enkels of bene is gebreek. Daar is ook die wesenlike en angswekkende bedreiging dat van die vrag, soos ammunisie, op die trein kan ontplof. Dit sou gewis lewensverlies beteken. Die Boere wat die ontsporing bewerkstellig het, word skielik gekonfronteer met ’n oormag van die vyand. Die twee manskappe is geisoleer deur hul optrede. Dit is nie duidelik of daar Boereversterkings is nie, maar op hierdie oomblik is hulle alleen — die enigstes teen die Engelse troepe wat in groot getalle besig is om die trein te verlaat, en ook bewapen is. Net een Boer blyk gewapen te wees. Die tweede, wat agterhom skuil, lyk kwesbaar. Dit kan ook ’n deeglik beplande hinderlaag wees. ’n Groter konfrontasie Vir die Britte wag dalk net om die draai. In hierdie angsaanjaende oomblikke bevind beide kante — Boer en Brit — hulle in ’n prekêre situasie. Menslike vrese eerder as dapperheid bepaal hoe hier opgetree gaan word. Dié wat die spoorlyn as ’n sleutelpunt beheer, verkry ’n voorsprong in die magspel. Die Boere is ingestel op die ontsporing van treine, sowel as die sabotasie van spoorlyne en brûe om die oorlogstrategie van die Britte te verongeluk. Die treine vervoer troepe, proviand, ammunisie en alles wat nodig is om die binnelandse oorlogstryd te voer. Hierdie ontsporings hou vir die Boere dieselfde gevaar in as vir hul vyande, die Britte. Diegene aan Boerekant wat opgelei is om so ’n opdrag uit te voer, moet uiteraard bewus wees van die risiko’s wat geloop word. Selfs as die poging suksesvol is, is daar altyd die gevaar van onmiddellike konfrontasie deur ’n vyandelike oormag. Dit is ’n opdrag wat onbaatsugtige opoffering vra; selfs die prys van ’n eie lewe. [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Brandtfontein se verlore herinneringe
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] Vlamme is besig om die plaasopstal te verteer. ’n Swart rookwolk hang oor die eertydse bestaanswyse van die Brandt-familie. Wat hier in vlamme opgaan, is meer as net die tasbare. Dit is die herinneringe van ’n familie — die onderlinge verhoudings wat hul intieme verbondenheid verteenwoordig. Alles word deur een enkele daad uitgewis: Skilderye aan die mure, foto’s van geliefdes, meubels, die familiebybel waarin die geboorte-en sterfdatums van die familie opgeteken is, en veel meer. Hiermee verdwyn die familiegeskiedenis as verwysingspunte vir die nageslag. Die toneel verbeeld die verlies van ’n kollektiewe geheue op ’n plaas wat eenmaal die drome, vooruitsigte en samehorigheid van ’n Boeregemeenskap verteenwoordig het. Wat oorbly van ’n familiebestaan kan op ’n enkele perd se rug gestapel word. Dit is maar enkele items wat inderhaas bymekaargeraap is; net die allernodigste wat in die afgryse en skok van die oomblik uit die vlamme gered kon word. Kort voor lank sal die vlamme ook die landerye tot ’n laag vaal as verbrand. Die huis wat in ligte laaie staan, is ’n fokuspunt op die skildery. Dit lê sowel ruimtelik as simbolies gesproke agter die drie figure, en die beklemtoning van die vlamme spreek van die oorweldigende verlies. Hulle is op pad; maar waarnatoe? Drie volwassenes word as gevolg van die Britte se verskroeide-aarde beleid van hul grond verjaag. As daar kinders was, wat het van hulle geword? Die hartseer en verwesenheid van die vrou, teruggetrek in haar drofheid, maak enige kommunikasie op hierdie oomblik onmoontlik. Haar neergeslane oë en geboë liggaamshouding spreek van verslaenheid. Watter woorde kan soveel leed uitdruk? Wat sal van die vrou word as die mans by hul kommando aansluit? Sal sy op die wye velde rondswerf op soek na ’n tydelike heenkome? Lê die konsentrasiekamp vir haar voor? In hierdie oomblikke word sy deur uitsigloosheid omgeef. Haar onmiddellike toekoms is donker. Die jong man kyk met groot besorgdheid na haar. Hy is bewus van haar verdwaasdheid en leed. Hy sou haar wou bystaan en beskerming bied, maar hy kan nie. Hy is, soos Brandt wat voor ry, toegewy aan ’n volksaak, ’n oorlog om die behoud van hul grond. Soos die vrou, lyk hy kwesbaar. Hoekom sou hy ongewapen te wees? Wat is sy verwantskap met die Brandts? Dalk ’n ouer seun of familielid, of is hy ’n lid van Brandt se kommando? Drie persone word met hul rou emosies agtergelaat, maar op hierdie oomblik is dit nie ter sake nie. Die omstandighede van oorlog en oorlewing is dringender as hul persoonlike belewenis van ontreddering en verlies. Brandt durf nie tekens van swakheid toon nie. Die situasie vereis dat hy in beheer bly. Hy moet sterk en heldhaftig optree, selfs al word hy innerlik deur verdriet en kommer verteer. [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Donker skuiling, Brandt-kamp
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] ’n Paar bome bied skuiling aan Brandt en sy jong seun, Pietie, wat die enigstes op die toneel blyk te wees. Pietie, ’n penkop, het by sy pa op kommando aangesluit. Hy wou deel wees van die oorlog en sy kant bring, maar hy wou bo alles sy pa se regterhand wees. Dalk voel hy in sy pa se beskermende teenwoordigheid veiliger as tuis. Sou hy uit die staanspoor by sy pa gewees het, of het hy weggeloop en later by hom aangesluit? Brandt het reeds vroeër sy plaas verlaat. Die tydstip op die skildery is nie presies duidelik nie. Is dit voor Brandtfontein afgebrand is, of dalk daarna? Is die son aan die opkom, of is dit sononder? Die gloeiende horison suggereer die brandende kwessies rondom hul situasie, sowel as die bloeiende harte van die slagoffers. Hul toevlug is die groot, wye vlakte, en snags is die sterrehemel hul onderdak. [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Dood van Pietie Brandt
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] Steeds op die wye vlaktes van die Vrystaat, tree Brandt nogmaals na vore as ’n eensame figuur. Hy is alleen in die veld. Die perd wat hy lei, is dié van sy seun, Pietie, wat gesterf het. Die omstandighede van sy dood is onbekend. Was Pietie, wat nog kort tevore by die vuur gesit het, dalk reeds gewond? Is hy dalk deur ’n sluipskutter op sy perd geskiet? Was Brandt by hom in sy sterwensuur? ’n Mens wonder of hy tyd gehad het om sy seun te begrawe, en later kon onthou waar Pietie se ongemerkte graf was. Wie weet, dalk maal dit in sy gedagtes dat die kind te jonk was vir die blootstelling aan ’n oorlog wat geharde manne, soos hy, kon laat knak. Wat duidelik blyk, is dat hy so vinnig as moontlik van hierdie toneel moet wegkom. Die perd — al teken van Pietie se bestaan — kan nie agtergelaat word nie. Kom dit by hom op dat sy seun se bloed die grond bevlek waarvoor hy met sy lewe veg? Wat hy nie kan toelaat nie, dit is tewens ondenkbaar, is dat die vyand Pietie se perd selfs teen sy eie mense gebruik. Die blink, nat rotse en kronkelende stroompie bergwater weerkaats die son agter die wolke. Die makabere gloed van die uitspansel bestryk die land — die land waarvoor tot die dood toe geveg moet word. Die dag gaan ongesteurd sy gang. Vir Brandt is dit ’n eensame en verdrietige tog. Durf hy dink aan die persoonlike opoffering, en die hoogste prys wat hierdie ongenadige oorlog van hom sou verg? Die lewe rondom en in hom, dit wéét hy, het vir altyd verander. Oop of toe? Sou hy nadink oor hoe hierdie uiterste vorms van verlies ook in die toekoms ingegrif sal staan? Of gaan dit nou vir hom, al is dit net voorlopig, slegs oor persoonlike oorlewing? Wat bly oor van sy drome, en dié van sy gesin? Maak die hemele vir hom oop of toe? Sou hy nadink oor hoe hierdie uiterste vorms van verlies ook in die toekoms ingegrif sal staan? Of gaan dit nou vir hom, al is dit net voorlopig, slegs oor persoonlike oorlewing? [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Agtervolging
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] Twee vegters, moontlik ’n Australiër wat opgeroep is om aan die kant van die Britte te veg, en ’n swart man vlug vir hul lewe. Soos die Boere, veg hulle sonder hul kenmerkende uniform. Hulle is uitgelewer aan die twee Boerekrygers wat hulle te perd agtervolg. Is hulle uit hul skuiling verdryf en agtervolg? Of is hulle dalk op heterdaad in ’n sabotasiepoging betrap? Was hulle, soos die Boere, op perde wat hulle gedwing was om agter te laat, of is die perde onder hulle doodgeskiet? Nou is hulle bloot van hul fisieke krag afhanklik om hul agtervolgers te ontduik. Die onherbergsaamheid van die landskap dwing hulle om elk hul eie weg te gaan. Vir die een is dit ’n onbekende wéreld waarin hy niks van sy eie herken nie. Die ander is ’n voortvlugtige in sy geboorteland. Maar voel hulle werklik deur die landskap bedreig? Dit gaan nou uitsluitlik oor oorlewing. Bied die Boere hulle dalk ’n geleentheid om agtervolging te ontduik, in die hoop dat militêre inligting oor hul makkers se skuilplek ingewin kan word? Die swart man, soos baie van sy landgenote, is deur beide Boer en Brit in die oorlogspoging ingetrek. Neem hy dalk net hieraan deel ter wille van persoonlike oorlewing? Maak dit vir hom saak aan watter kant hy veg? Stoei hy met gedagtes rondom lojaliteit en ’n toekoms wat ná afloop van die oorlog wag? Hy is soos so baie ander swart mense — mans, vroue en kinders —ontwrig deur ’n oorlog wat hulle nie regstreeks raak nie. Wat sou hul toekoms of lot uiteindelik wees? Kan hy dit waag om hieraan te dink? Of sou hy besef dat hy moontlik net ’n syfer in die oorlogstatistiek is? Waar is sy plek in hierdie land van grasvelde, koppies en berge waarin hy gebore is? Die Australiër is opgeroep om as ’n onderdaan aan die kant van die Britse Ryk te veg. Kan hy homself as onbenullige spikkel handhaaf teen die ongenaakbaarheid van hierdie uitgestrekte, onbekende land? Miskien is oorlog vir hom ’n avontuur, maar is dit nog so as hy deur gewapende Boerekrygers gejag word? Die opdraand waarteen hy uithardloop kan gelees word as tekenend van die inspanning wat die vlug van hom eis. Daar is weersin op sy gesig. Gaan daar dalk dade deur sy gedagtes waarmee hy hom later nie meer sou kon versoen nie? Hy vermoed stellig dat hy bloot uitgebuit word ter wille van ’n politieke magspel waarteen hy weerloos staan. Hoe graag sou hy nie net wou ontsnap om na sy huis en sy mense terug te keer nie. As dit maar moontlik was… Die Boerekrygers het die oorhand. Huiwer hulle voordat hulle finaal toeslaan, of voel hulle in beheer? Wag hulle net Vir die regte oomblik om die voortvlugtiges dood te skiet? Twyfel hulle dalk of daar in desperate omstandighede, soos hierdie, genade betoon kan word deur die Britte as prisoniers gevange te neem? [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
‘n Tyd om te besluit
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] Hulle is uiteindelik uitoorlê; die Boere het hulle gevange geneem. Die Australiër en die swart man sit vasgebind op ’n perdewa. Hulle is uitgelewer aan die Boere se genade; oorgegee aan omstandighede waarin hulle geen inspraak het nie. Wat sou op hulle wag? Die jong Australiër staan met sy vasgebinde hande regop in die wa. Sy kop is geboë in ’n houding van verslaenheid, en sy oë is toe. Wat sou deur sy gedagtes gaan? Dink hy aan sy geliefdes? Is om te bid dalk vir hom die enigste uitweg? Probeer hy iets sê of het hy hom volkome oorgegee aan die situasie? Kan daar nog iewers ’n sprankie hoop wees? Sy medevegter en handlanger, die swart man, sit vasgebind op die wa. Hy kyk voor hom uit. Vreesbevange en passief. Instinktief voel hy dalk aan dat hy hom hier in die swakste moontlike posisie bevind. Sy saak lyk onverdedigbaar. Weet hy dalk dat wat tussen die wit mans sal gebeur, ’n wedersydse erkenning tussen teenstanders, hom nie beskore sal wees nie? Vrees hy dat uitsluiting sy lot anders sal laat verloop? Die gevangenes is na ’n opstal gebring, duidelik nog in goeie toestand, wat dalk steeds deur die vrou op die agtergrond versorg word. Dalk dien dit as ’n heenkome vir die verblyf en aanhouding van prisoniers. Wat kan hulle lot hier wees? Moet ondervraging nog geskied, of is dit afgehandel? Wag teregstelling op hulle? Die Boerekrygers se taak is afgehandel. Dit lyk nie asof hulle ’n dreigende houding teenoor die uitgelewerdes aanneem nie. Is dit dalk die laaste krieseltjie hoop waaraan hulle vashou? Is daar dalk vir hulle kos en skuiling? Kan hul lewens nog gespaar word? Is dit wat hier uitgebeeld word — dat alle gevangenes onder sulke omstandighede net weerlose mense word? Die vrou in die agtergrond — is daar by haar ’n tikkie deernis? Of het die oorlog ’n koudheid in haar hart gebring? Oorloë gaan dalk vir haar net om oorwinning. Is hul geloof gevestig in die praktyk dat ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand die enigste ruilmiddel is? Is die ongewapende Boer dalk ’n militêre regter wat die mans gaan verhoor? Of is hy die ondervraer? Is hulle lot dalk reeds beklink, en is hy ’n dominee wat vir hulle ’n geleentheid tot inkeer bied voordat hulle gefusilleer word? Die spel van lig en skadu is veelseggend. [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Die leeukuil
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] ’n Swart man, in hegtenis geneem deur die Britse magte, sit bedees op die grond, in afwagting op ’n finale oordeel voor ’n Britse amptenaar wat as arbiter optree. Vir hom is daar dalk min genade. Sou hy uit die Britse kamp na die Boere gedros het? Was hy ’n verkenner of spioen vir die Boere? Of is daar ’n ander aanklag wat hom as misdadiger sal brandmerk? Sou hy begryp wat rondom hom aangaan en iets verstaan van die taal waarvan hy skaars ’n paar woorde ken? Sou hy hom kon verdedig of verset, of is hy eenvoudig uitgelewer aan ’n situasie buite sy ervaringsveld en begrip? Wat gaan in sy binneste om? Is dit verset? Vernedering? Verwarring? Gee enigiemand om? Sou sy familie hom mis en wag op sy terugkoms? Die militêre kwartier wat ook as impromptu hof dien, is moontlik ingerig in die syvertrek van ’n boerewoning waarvandaan die plaasmense verdryf is. Die meubelment is karig; net die tafeltjie met ’n stoel is tot die Britse amptenaar se beskikking. Deftig geklee in sy ampsdrag, gaan hy elke dag voort om gesag en orde te handhaaf. Hoe lank hy reeds van sy eie gesin geskei is, is onseker. Sy ongenaakbare taak staan in kontras tot die heimlike verlange na sy eie mense en land. ’n Geraamde foto van sy vrou is vir hom ’n daaglikse herinnering van die skeiding tussen hulle. Die soldaat staan gereed met ’n klagstaat om die aanklag teen die swart man te formuleer. Sal hy verder ondervra word of is die oordeel reeds voltrek? Is hy hier om sy vonnis aan te hoor? Die soldaat vervul ’n plig en is, soos die regter, emosioneel verwyderd van die persoon voor hulle. Daar is ’n totale afwesigheid van warmte en betrokkenheid, soos geillustreer deur die kleurlose, oninspirerende ruimte van die kaal vertrek. ’n Geraamde portret van Koningin Victoria, in wie se naam die oorlog geveg word, is die enigste bewys van gesag waarvolgens opgetree word. Tog was dit ’n oorlog wat haar ook sou knak. [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Afrekening
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”]Iewers in die Oos-Vrystaat brand die son op ’n bar en genadelose landskap neer. Hier is die wêreld nie so wyd en uitgestrek nie. Die koppies kan skuiling bied, maar ook ’n hindernis vorm as daar vinnig beweeg moet word. Die waterstroompie is sekerlik ’n bron van lafenis.
Daar is drie Boere op die toneel. Twee sit nog op hul perde, terwyl die derde na ’n oënskynlik noodlottig gewonde soldaat omsien. Wat het presies hier gebeur? Wie is die sterwende, en deur wie se toedoen? Het die Boere toevallig op die toneel afgekom?
Die een Boer bly sit in die saal. Sy lyf is weggekeer en hy kyk stip voor hom uit. Bespied hy die koppie en verwag hy dalk iets, of wil hy net nie meer terugkyk nie? Sou hy reken dat die dooies na hulself moet omsien? Verweer hy hom teen sy eie herinneringe deur doelbewus nie na die toneel te kyk nie? Miskien het hy al genoeg gewondes en dooies gesien. Of is hy dalk die een wat die doodskoot gevuur het? Dit kan ook wees dat die Boere die teiken was van vyandelike troepe wat in die omgewing skuil.
Die ander Boer kyk om na waar ’n lid van sy kommando by die gewonde of sterwende liggaam staan. Miskien wonder hy hoeveel mense nog in hierdie oorlog moet sterf. Hy toon deernis; maar is dit vir die gewonde, of is dit vir sy makker wat met ’n effens geboë hoof voor ’n sterwende staan?
Die Boer het sy hoed afgehaal as ’n eerbetoon. Sy geweer is nog langs sy sy. Pouseer hy om die gewonde te sien sterf, of moet hy die man uit sy lyding verlos deur ’n finale doodskoot te vuur? Is dit vir hom ’n oomblik van besinning?
Dink hy aan die broosheid van die mens? Aan tydelikheid? Aan die nutteloosheid van geweld? Wie is die gewonde persoon? Is hy ’n lid van die Britse troepe wat hom teen die Boere vasgeloop het omdat hy van sy makkers geisoleer is, en was hy ’n simpatiseerder van die Boere? Of dalk ’n Duitser, Hollander of Ier wat deur ’n sluipskutter getref is? Agter die ruwe koppies en rante is daar immers genoeg geleentheid vir so ’n aanval. Die skerpte en hoekigheid van die gedeeltelik getande kliplandskap suggereer aggressie.
Die toneel laat die kyker met baie vrae. Sal die drie Boere net wegry en die gewonde agterlaat?
Sal daar vir hom ’n graf wees — gemerk of ongemerk — wat sy teenwoordigheid in hierdie land boekstaaf?
[/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Verlore In Stof
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] ’n Magistrale Afrika-sonsondergang oorheers die toneel en kleur die landskap goud. Daar is geen leidrade wat lig werp op wat hier kon gebeur het nie. Drie ruiters is gelukkig om lewend weg te ry, en drie bly agter. Dit is onseker wie al hierdie mense is. Kan dit drie Boere wees wat wegry? Hoe onderskei die kyker? Is dit omdat hulle bebaard is? Tog het mans aan beide kante van die oorlog baarde gedra. Of kan ’n mens op grond van hul burgerlike drag aanneem dat hulle aan ’n Boerekommando behoort? Nee, weereens was vegters aan beide fronte in gewone drag; dit was nie ’n kenmerk van slegs een groep nie. Wie sou die gewondes of dooies wees? Britte of Boere? Hoekom word hulle net daar op die kale vlakte agtergelaat? Moes die manne wat die sonsondergang tegemoet ry dalk vinnig wegkom om aan dreigende gevaar te ontsnap? Is hulle afgesonder van die res van hul manskappe? Het hulle nie tyd om die liggame te begrawe nie? Of is daar ’n gevoel van oorlogsmatheid wat veroorsaak dat die dooies aan hul eie lot oorgelaat word? Vir die kyker is dit skrynend dat drie manne hul makkers net daar onder die nagtelike hemel laat lê. Sou hul onseker lot hulle bybly? Sou hulle hul kwel oor die liggame wat in die dae daarna deur die brandende Afrika-son verniel word, of nog dieselfde nag ten prooi kan val van wilde diere en aasvoëls? Kom dit by hulle op hoeveel bloed reeds in die oorlog gevloei het — bloed wat die aarde deurdrenk en bevlek? Of word dit onverskillig afgemaak as die verloop van die oorlog waar ander reëls geld? Drie mense se lewe is kortgeknip — stof keer tot stof. Drie manne, heel moontlik in hul fleur, ry weg terwyl die aandlig die dag verdring, soos die dood self die lewe inhaal. Ook die die eindelose ruheid en onherbergsaamheid van die veld, tesame met die onrustige, vlietende wolkspatsels, dra by tot ’n unheimliche atmosfeer. Sal die beeld van die agtergeblewe liggame lewenslank deel van hul geestelike bagasie bly, of het die skans van verharding reeds ingetree? [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Die terugkeer van De la Rey
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] Generaal Koos de la Rey, die vermaarde Boereheld, het aan verskillende beslissende veldslae deelgeneem waarin die vyand verslaan is. Hy het altyd in kontak gebly met sy vrou, Nonnie, en op sy veldtogte het hy gereeld aan sy ondersteuners terugvoering gegee oor die verloop van die oorlog. Hier keer hy terug van ’n veldslag waar die Boerekommando’s die Britse troepe uitoorlê en oorrompel het. Hy word geesdriftig verwelkom as ’n simbool van hoop — ’n heldefiguur wat sy mense se stryd met waagmoed en durf aanpak. Hy word omring deur ruiters voor, langs en agter hom; manne wat hom vertrou en waarskynlik in ’n soortgelyke formasie in die veld beweeg. Soos hul leier, bly die manskappe op hul perde, oorgehaal om weer te vertrek. Is daar in so ’n oomblik ruimte vir hul eie gedagtes, of is hulle gefokus op die dissipline wat die oorlog van hul eis? Die oorlog is gewen, maar almal het verloor. Alles is tot stof vertrap, maar subtiele tekens van menslikheid en innerlike krag laat tog ’n greintjie hoop dat ’n beter toekoms op ons “wye en droewe land” wag. [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]
Vaarwel my geliefde
[gdlr_accordion style=”style-2″ initial=”0″] [gdlr_tab title=”Lees meer”] Met dagbreek vertrek die jong man om by sy kommando aan te sluit. Hy is gereed om te gaan veg vir die eer van die Boere en die behoud van die land. Hy kan droom oor ’n toekoms op sy plaas met die vrou wat hy liefhet. Die oomblik van vaarwel is pynlik en aandoenlik. Die jong meisie, sy verloofde of jong bruid, onderskraag hom. Dit is vir haar swaar om haar van hom los te skeur. Sy deel sy drome vir ’n gesamentlike toekoms van vrede en voorspoed. Hieraan moet sy bly vashou te midde van die onsekerhede wat oorlog meebring. Sy weet dat dit in eensame en moeilike tye haar enigste fokus en hoop moet wees. Met die jong man se vertrek bly sy alleen agter met ander vroue en kinders. Ook hulle lot is onseker. Hoe lank kan hulle uithou en alleen oorleef? Sal hulle bymekaar kan bly om in ure van verlange en tye van nood aan mekaar steun en bemoediging te gee? Is daar ’n waarborg dat die jong vrou en haar geliefde weer verenig sal word? Geloof moet hierdie twyfel uitwis. Sy weet dat alles met sy vertrek gaan verander. Haar gemoed is swaar; is die groot vrees dat hierdie groet die laaste kan wees? Is dit die rede vir die passievolle groet tussen geliefdes? Die skoonheid van die jong liggame word subtiel beklemtoon. Die lyftaal, veral ook deur die plasing van die hande, is innig en sensueel. Dit is of die oomblik bly hang; asof die kunstenaar die stilte op ’n berekende manier wil vasvang en intensiveer. Hierdie is ’n liefde wat net deur die dood geskei kon word. Aan die houding en oë van die perd lyk dit of hy hiermee meeleef. Die windmeul is prominent en komplementeer die toneel. Dit is ’n ikoon van die boereplaas, en dra ook die simboliese waarde van lewende water en beweging. So sal ook die liefde in hulle harte standhou, asof gevoed uit ’n diep bron onder uit die aarde, te midde van bekommernis en die verloop van tyd. Die jong vrou kan alleenlik voortgaan in die verwagting van ’n weersiens; ’n toekoms waarin hulle sal saamwerk om hul drome te verwesenlik. Maar sou daar tog ’n onuitgesproke wete wees dat oorlog sulke vooruitsigte kan opskort? Sal hy en sy ten spyte daarvan bly vashou aan die klassieke drievoud van geloof, hoop en liefde? [/gdlr_tab] [/gdlr_accordion] [gdlr_divider type=”thick” size=”100%” ]