Daar is groot behoeftes in grondslag-onderwys in Suid Afrika, en daarom het Atterbury Trust betrokke geraak by ’n program wat remediërende klasse by vier laerskole in Pretoria-Wes aanbied. Die Trust stap reeds ’n lang pad saam met Laerskool Westerlig, Generaal Nic Smit (waar baie huidige en alumni Atterbury Trust beursstudente permanente- of assistent-onderwysers is), Laerskool Tuine en Eden Akademie en hierdie nuwe projek beoog om ’n fundamentele verskil te maak. Finansiële en operasionele bestuurder Ananja Koen vertel meer van Leersaam
Hoe het Atterbury Trust se betrokkenheid by die Leersaam-projek gebeur?
Die Progress in International Reading Study (PIRLS) in 2021 het aangedui dat 81% van leerders in Graad 4 in Suid-Afrika nie met begrip kan lees nie, en dat slegs 50% van Graad 1-leerders tot in matriek vorder. Dit is veral ’n reuse-uitdaging by skole in Pretoria-Wes wat met uiters beperkte hulpbronne leerders moet ondersteun. Atterbury Trust is deur Terugploeg nou betrokke by Kerksondermure, wat ‘n baie suksesvolle remediëre program by Olievenhoutbosch ingestel het, en ons toe genader het om vennote te word in ‘n soortgelyke program by Afrikaanse skole. Die skole in Pretoria-Wes waar ons betrokke is, kan ongelooflik baat by remediërende klasse, en dis ‘n manier hoe ons onderwysers wat reeds onder geweldig druk is, kan ondersteun. Die projek maak dit ook vir ons moontlik om van ons Atterbury Trust onderwys-beursstudente te betrek as tutors en hulle die geleentheid te gee om ekstra inkomste te verdien.
Hoe is daar besluit om met Missio Dei Education saam te werk?
Mission Dei het met groot sukses die program by 26 skole uitgerol en bereik ongeveer 1700 leerders daagliks. Hulle werk ook baie nou saam met die Departement van Onderwys, wat die program ondersteun. Alle data word aan die Departement deurgegee met die hoop dat hulle ook die erns van die saak sal sien en die impak besef van ’n program soos hierdie.
Watter skole word gehelp en hoe is hulle gekies?
Ons ondersteun vier laerskole met die projek – Laerskool Generaal Nicolaas Smit, Laerskool Tuine, Eden Akademie en Laerskool Westerlig. Dit was vir ons belangrik dat daar hulp gegee word by behoeftige skole waar daar Afrikaanse klasse aangebied word, en waar die skole se bestuur inkoop in die program. Sonder die skole se ondersteuning is so ’n program nie moontlik nie.
So wat presies behels die program?
By elk van die skole is 60 Graad 3-leerders wat akademies swaartrek, geïdentifiseer. Dié leerders word gedurende skooltyd in klein groepies onttrek uit die gewone klas om individuele aandag te kry om leesvaardighede en wiskundebegrip te verbeter. Die program fokus op die aanleer van klanke, en gepaste begripstoetse op die leerder se vlak. Hulle word gehelp met konkrete wiskunde-oefeninge in die eerste termyn en vanaf die tweede kwartaal is daar formele assessering in wiskunde. Die leerders word kwartaalliks getoets en ’n digitale platvorm is geskep waarop die kinders en hul tutors gemonitor word. Die tutors kry self weeklikse opleiding van ‘n gekwalifiseerde onderwyser, en daar word daagliks klasbesoeke afgelê om te verseker dat elke leerder gehalte-onderrig ontvang.
En hoe gaan dit met die program – kan julle enige statistiek deel?
Die program is in Januarie 2025 geloods en sedert die aanvangstoetse in Januarie het die deelnemers se leesvaardigheid verbeter van ’n gemiddeld van 22.5 woorde per minuut na 39.55 woorde per minuut. Ons is baie dankbaar vir die groot verbetering wat hierdie program tot dusver in die leerders se leesvermoë gemaak het, en is vol vertroue dat dit net beter en beter sal gaan met die gefokusde hulp wat gegee word.
Beoog julle om program uit te rol na ander skole?
Ons wil die program sal baie graag teen volgende jaar uitbrei na behoeftige Afrikaanse skole in die Wes-Kaap, en is juis op soek na nog vennote wat met ons kan hande vat. Die leerders wat baat by hierdie projek is juis dié wat in matriek aansoek doen vir ‘n Atterbury Trust beurslening en sonder hulp is die kanse dat slegs maar die helfte van hulle hoegenaamd matriek sal voltooi. As ons nie ingryp en probeer om ’n verskil te maak nie sal so baie van hierdie kinders nie die kans hê om matriek te skryf en verder te gaan swot nie.
Hoe kan mense wat van die idee hou, betrokke raak?
’n Program soos dié kos ongeveer R15 000 per maand per skool , om 60 Graad 3-leerders remediërende ondersteuning te gee, wat beteken dit is maar R250 per kind per maand. Ons nooi mense wat wil betrokke raak om via ons Donasiewinkel ‘n skenking te maak, of hulle kan ook ‘n EFT betaling na die volgende rekening doen:
Atterbury Trust
Bank: FNB
Rekening nommer: 63006546238
Verwysing: Naam + LS
Atterbury Trust is ‘n geregistreerde NWO en alle bydraes gemaak aan Atterbury Trust kwalifiseer vir ‘n Artikel 18A-sertifikaat wat aftrekbaar is vir belastingdoeleindes.