Atterbury Trust beursfonds-alumni Casper Claassen se ondersoekende brein en diepgaande belangstelling in hoe regeringsbeleid sosiale opheffing en ontwikkeling teweeg kan bring, het hom in sy jare na Tukkies op ’n groot wêreldavontuur geneem. Op 32 is hy tans besig met die finale afwerking aan sy doktorsgraad in Suid-Korea. Hy deel die storie van sy opwindende reis.
Vertel ons meer van jou vroeë lewe?
Ek is in Rustenburg gebore, en het later in Sibasa (Venda) en Potchefstroom, en toe as hoërskoolstudent vir ’n paar jaar in Seoul (Suid-Korea) gewoon. Ek het tuisonderrig gedoen en in Seoul ’n Amerikaanse hoërskooldiploma behaal by ’n aanlynskool. Daarna het ek die SAT voltooi (’n gestandariseerde toets wat vereis word vir universiteitstoelating in Amerika). Ek was van 2006 tot 2010 op Tukkies en het BPolSci Internasionale Studies (2008), BA Hons Internasionale Verhoudinge (2009), BA Hons Filosofie (2011) behaal.
Waar het jou Atterbury Trust beursjare ingepas en hoe het jy deel van die program geword?
My skoolhoof het my aangespoor om aansoek te doen by Atterbury Trust en ek het die beurs vir drie jaar ontvang – vanaf 2008 to 2010.
Jy is tans besig met ’n doktorsgraad by ’n universiteit in Duitsland… gee vir ons ‘n vinnige opsomming van die interessante draaie waarop die lewe jou geneem het sedert jy ’n Atterbury Trust beursstudent was?
Tydens my studies by Tukkies was ek ’n deeltydse lektor in die Departement van Politieke Wetenskappe. Na Tukkies het ek na die Verenigde Arabiese Emirate verhuis om my studielening te kan afbetaal. Ek het vir 18 maande by ’n skool in ’n afgeleë dorpie, Ruwais, in die Emiraat van Abu Dhabi skoolgehou, baie ver van die blink liggies van Abu Dhabi of Dubai!
In Augustus 2012 is ek terug na Suid-Korea om met ’n meestersgraad in Koreaanse Studies (Koreaanse Geskiedenis en Kultuur) te begin by die Akademie vir Koreaanse Studies (AKS). Ek was die eerste Suid-Afrikaner ooit om by die AKS aanvaar te word. Afgesien van toelating het ek ook ’n volledige studiebeurs ontvang wat klasgelde en ’n maandelikse toelaag ingesluit het vir ’n tydperk van twee jaar. My navorsing het gehandel oor Korea se ondervinding met grondhervorming en landelike ontwikkeling met die hoop om ’n bydra te kan lewer tot die landelike ontwikkeling in Suid-Afrika. Tydens my navorsing het ek die Koreaanse taal aangeleer, goed genoeg om ook akademiese artikels in Koreaans te kan lees.
Ek het die meestersgraad in 2014 verwerf en na afloop daarvan besluit om ’n tweede meestersgraad in ontwikkelingsbeleid (volhoubare ontwikkeling, publieke finansiering en sosiale ontwikkeling) te doen. Dié MA het ek by die Korea Ontwikkelingsinstituut se Skool vir Publieke Beleid en Bestuur (KDI School) gedoen. Weereens was ek so gelukkig om ’n volle beurs te kry. Volgens die Universiteit van Pennsylvania se “Go to Think” indeks, is die KDI die 20ste op die ranglys van dinktenke in die wêreld, die beste in Asië, en die wêreld se top dinktenk vir internasionale ontwikkelingsbeleid.
Tydens my studies in Korea het ek Suid-Afrika drie keer besoek (2014, 2015, 2016) as lid van KOICA (Korea International Cooperation Agency). Die doel van die besoeke was om ’n landelike ontwikkelingsprogram te inisieer. Tydens my navorsing by KDI was ek ook die medeskrywer van ’n artikel oor landelike ontwikkelingsbeleid. Die artikel is geskryf onder die vaandel van die World Bank Group-KDI School Global Delivery Initiative projek.
Na ek my tweede meestersgraad voltooi het, het ek in 2016 vir bietjie meer as ’n jaar by ’n universiteit in Suid-Korea gewerk. In hierdie tyd het ek by Duitsland se Hertie Skool in Berlyn aansoek gedoen vir hulle PhD-program met ’n navorsingsvoorstel oor sosiale entrepeneurskap in Korea. Hertie Skool ag die London School of Economics and Political Science, Sciences Po, Columbia Universiteit, Bocconi Universitet en die Universiteit van Tokyo as hul vennootskole. Daar was min of meer 350 aansoeke en ek was een van die gelukkige 12 om aanvaar te word, asook een van net twee studente om ’n volle PhD-beurs te ontvang. Ek was die enigste Afrikaan in die groep, en was vir ’n jaar in Berlyn om my PhD kursuswerk te voltooi.
Ek doen tans veld-navorsing in Suid-Korea. Ek het in 2019 ’n volle veldnavorsingsgenootskap by die Department van Buitelandse Sake-geaffilieerde Korea Foundation gekry om navorsing te doen by Seoul Nasionale Universiteit – Korea se top-universiteit – en nog een by die Department van Onderwys-geaffilieerde Academy of Korean Studies in 2020. Sover ek weet is ek die enigste Suid-Afrikaner wat beide genootskappe ontvang het. Ek het voor dit ook ’n navorsingsbeurs van die Duitse Akademiese Uitruildiens ontvang om navorsing te doen in Korea.
Gee ons ’n bietjie agtergrond oor jou gesin, en wanneer jy laas tuis was.
My ma en my jonger suster bly beide in die Arabiese Emirate en werk by dieselfde internasionale skool. My mees onlangse besoek aan Suid-Afrika was in April 2019 om my oupa en ouma te besoek. My pa is oorlede toe ek ’n peuter was.
Hoe het jy destyds op jou studierigting besluit, en hoe het dit jou voorberei vir waarmee jy vandag besig is?
Ek was gretig om ’n bydrae tot die samelewing the lewer and het gedink die beste manier om dit te doen was om beleid na te vors. Verdere studies in Suid-Korea was dus ’n natuurlike stap, gegewe die spoed waarmee Suid-Korea van een van die armste lande ter wêreld tot ’n toonaangewende ekonomiese en kulturele mag ontwikkel het. In 1960 was Suid-Korea een van die armste lande ter wêreld, maar vandag het hulle die twaalfde hoogste bruto binnelandse produk (GDP) en word gereken as een van die wêreld se mees innoverende lande. Ek het baie gou besef dat Suid-Korea ’n onontginde goudmyn van inligting is. Ek het deelgeneem aan die uitvoer-deel van Korea se ontwikkelingsondervinding met my bydrae tot die KDI se Knowledge Sharing Program deur my deelname aan die World Bank Group-KDI School Global Delivery Initiative projek, wat ek reeds genoem het.
Navorsing oor hoe Korea landelike armoede oorkom het teen die einde van die 1970’s was baie relevant vir Suid-Afrika. Dit het my nuuskierigheid geprikkel oor hoe Korea deesdae onsekerheid en ongelykheid hanteer. Dit het alles gelei tot my intense belangstelling in die manier waarop die Koreaanse regering sosiale entrepeneurskap aanmoedig.
Jy het genoem dat jy ook aan Stanford Universiteit in Kalifornië PhD navorsing gedoen het – hoe het dit gebeur, en hoe waardevol was dit?
My hoof-adviseur is geaffilieerd aan beide Stanford Universiteit en die Hertie Skool in Berlyn. Sy het voorgestel ek doen aansoek om navorsing te doen by Stanford se Center on Philanthropy and Civil Society. Die Duitse Akademiese Uitruildiens het my studies daar gefinansier. My tyd daar was dit deur en deur werd vir ’n paar redes. Ek het teoretiese insae gekry wat grootliks tot my navorsing bygedra het. Ek was ook bevoorreg genoeg om van die briljantste mense in my navorsingsveld te ontmoet. My verblyf daar het die teoretiese struktuur van my navorsing grootliks beinvloed. Dit het ook die fondasie gelê vir toekomstige samewerking.
Vertel ons meer oor jou PhD, en wat die veld van sosiale entrepreneurskap behels. Waarheen mik jy met die onderwerp en wat hoop jy om met hierdie studie te bereik? Wanneer sal jy die PhD voltooi?
My tesis verduidelik hoe die Koreaanse regering sosiale innovering aanmoedig deur sosiale ondernemings (private ondernemings met beide ’n sosiale en ’n winsmotief) te bemagtig, ten einde die onsekerheid asook ongelykheid in werksverskaffing te konfronteer. Welvaartstate verkeer onder toenemende druk. Met my navorsing wys ek hoe regerings tekorte in sosiale dienslewering en werkloosheid, op ’n innoverende wyse aanspreek wat nie groot druk op die nasionale begroting plaas nie. In teendeel, in Korea soos die ondernemings minder afhanklik geraak het, het die regering hul ondersteuning stelselmatig verminder. Met my navorsing wil ek poog om beginsels te formuleer wat universeel toepaslik is en deur regerings elders gebruik kan word om armoede en ongelykheid te elimineer deur werksverskaffingskemas gebaseer op bemagtiging van sosiaal-georienteerde privaat ondernemings wat nie grootliks op die regering se finansiering en subsidies steun nie. Ek wys hoe ’n regering nuwe private welvaart-ingestelde organisasies wat winsgewend is in werking kan stel en wegbeweeg van konstante subsidies. Ek dink dit maak my navorsing baie relevant in ’n tyd waarin werkloosheid ’n algemene verskynsel is en regerings sukkel om al hul sosiale dienste en hulp te kan nakom.
Ek sal my PhD in Julie vanjaar voltooi – in rekord tyd, minder as drie jaar nadat ek daarmee begin het.
Hoe affekteer die groot wêreldkwessie van Covid-19 jou daar waar jy is? Het dit enige impak op jou studies?
Ek is tans in Suid-Korea en ek voel dat die Koreaanse regering die krisis besonders goed hanteer. Die lewe het na feitlik normaal teruggekeer en almal kan vrylik rondbeweeg. Die Koreaanse regering het nooit ’n inperking afgedwing nie, maar het eerder gratis grootskaalse toetse uitgerol. Mense wat positief getoets het vir Covid-19 is almal onder kwarantyn geplaas. Die Koreaanse regering se reaksie op die pandemie was regtig indrukwekkend.
Uiteraard het dit my navorsing beïnvloed, maar was nie onoorkombaar nie. Ek moes net my benadering tot my navorsing verander.
Wat dink jy gaan die langtermyn globale impak van hierdie pandemie wees?
Meer werkloosheid en ongelykheid. Baie lewens is totaal geruïneer hierdeur en die samelewing se mees brose lede gaan die grootste koste betaal. Regerings gaan sukkel om die gevolge van die pandemie te hanteer. Ek dink my navorsing kan ’n bydrae lewer tot hoe regerings die rampspoedige gevolge kan hanteer.
Wat is jou planne wanneer jy die PhD behaal het – waar sien jy jouself oor vyf jaar?
Ek beplan om in die akademie te bly en sal graag in die toekoms verder met Stanford Universiteit wil saamwerk. Ek hoop om binne die volgende vyf jaar ’n assistant professor te wees en ook voort te gaan met navorsing wat sosiaal relevant is.
Wat het Atterbury Trust se beurs vir jou beteken? Watter boodskap het jy vir potensiële skenkers om hulle te motiveer om by te dra sodat die Trust meer studente kan bystaan?
Die Atterbury Trust beurs het verseker dat ek die broodnodige fondse gehad het tydens kritieke tye in my voorgraadse jare aan Tukkies. Met die wete dat ek geen finansiële bekommernisse gehad het nie, kon ek al my aandag aan my studies wy. As ek tydens my voorgraadse studies moes werk ook om myself te probeer onderhou, sou ek nie naastenby gewees het waar ek vandag is nie.
Met jou donasies kan ons meer briljante jong studente die geleentheid gee om hul volle potensiaal te bereik en ’n verskil aan ons wêreld te maak. Atterbury Trust se beursfonds is afhanklik van openbare steun, en ’n Artikel 18A-sertifikaat word uitgereik vir elke skenking. Vind meer uit deur hier te kliek.