Madiba se liefde vir die jeug was welbekend, en so ook sy diep geloof in die mag van opvoeding. Vanjaar ondervind opvoeding uiters buitengewone uitdagings, en daarom het ons ons op Mandeladag 2020 spesiale aandag gegee aan ’n skool wat swaarkry. Atterbury Trust Uitvoerende Trustee Zahn Hulme en Adele Hertzog van die Ramble Foundation vertel meer.

Zahn, julle het sakke met skryfbehoeftes volgemaak vir Laerskool Westerlig. Hoe het die idee ontstaan? Hoekom juis Westerlig spesifiek
Atterbury Trust is al vir bykans 20 jaar by Laerskool Westerlig in Danville betrokke. Ons maak maandelikse donasies aan Westerlig om Afrikaanse onderwysers se salarisse te subsidieer en ook waar moontlik te help met infrastruktuurverbeteringe by die skool. Ons filosofie is nog altyd om ’n pad met ’n Atterbury Trust-begunstigde organisasie te stap, dat hulle op die lang duur op ons kan staatmaak. Tydens een van ons onlangse besoeke aan die skool het ons byvoorbeeld opgemerk dat hulle koskaste baie leeg is en het daarom ook dadelik ’n voedselinsamelingsinisiatief vir hulle geloods.

Toe ons kort voor Mandeladag die baie lekker oproep van Adele Hertzog ontvang en sy noem dat sy 300 Ramble-sakke aan die Atterbury Trust wou skenk, het ons dadelik gedink dat dit, in die gees van Madiba se passie vir opvoeding, ’n spesiale Mandeladagprojek kan wees om die skoolsakke vol skryfbehoeftes te maak.

Die realiteit by Laerskool Westerlig is dat baie kinders wat nou tuis moet skoolgaan, nie noodwendig die skryfbehoeftes wat hulle gewoonlik in klaskamers beskikbaar het, by hulle huise het nie.

Hoe het die uitdeeldag verloop – Covid-maatreëls het sekerlik dinge gekompliseer?
Ek moet sê, dit was maar ’n afgewaterde oorhandiging… geen malende kinders wat rondhardloop om hulle blydskap te wys nie. Atterbury Trust se Mandeladagvieringe is gewoonlik ’n groot geleentheid waar baie van die personeel saamgaan. Ons maak gewoonlik ’n lekker kuiergeleentheid met een of ander vorm van ’n braai in eg Suid-Afrikaanse tradisie en ons spandeer ’n bietjie tyd met die kinders en onderwysers. Vanjaar was dit net ’n vinnige oorhandiging aan Erich Cloete, die skoolhoof en twee onderwysers.

In die gees van die tyd, het ons ’n groot Takealot bestelling ingesit wat ook nog oppad is om by die skool afgelewer te word.

Hoeveel kinders kon julle hiermee help?
Op daardie stadium was net die Graad 7- en Graad 6-kinders by die skool. Ons het 300 sakke afgelaai en amper R60 000 se skryfbehoeftes gekoop met al die donasies wat ons van vriende van die Atterbury Trust, Atterbury Trust alumnibeursstudente en Atterbury personeel ontvang het.

Die res van die skryfbehoeftes word aan kinders uitgedeel soos die skool van behoeftes bewus raak.

Die Atterburyfamilie is ook lekker mededingend en julle het hiervan ’n kompetisie gemaak, vir die pret. Vertel ons meer? En wie het gewen….was die kompetisie straf?
Ja-nee, die Atterburymense hou altyd van ’n kompetisie! Die naam van hierdie kompetisie was “Die skrif is aan die muur”. Ons het die personeel in drie groepe verdeel, AttChicks, AttManne en Fatti&AttX met drie insamelingsbokse vir skryfbehoeftes in ons kantoor by Die Klubhuis.

Hoeveel geld kon julle ingesamel kry om mee skryfbehoeftes te koop? Vertel ons hoe Donasiewinkel werk?
Die veldtog wat gerig was op vriende van die Atterbury Trust en alumnistudente het so gelui: “Skryf ‘n nuwe hoofstuk in ’n kind se lewe.”

Ons het net weer onder die indruk gekom van die groter Atterburyfamilie en besigheidsvennote se vrygewigheid, selfs in hierdie uitdagende tye. Hulle het behoorlik gereageer op ons beroep om ’n behoeftige kind se lewe positief te beïnvloed, en weer bewys dat hulle ook saam met ons omgee.

Ons het amper R60 000 ingesamel, bo en behalwe die Atterburymense se skryfbehoeftes. Hierdie was ’n goeie loodsprojek vir die Atterbury Trust donasiewinkel en mense het agtergekom hoe maklik dit is om só te skenk. Kliek hier.

Adele, die rugsakke lyk fantasties en dis ’n trots Suid-Afrikaanse produk! Vertel ons meer oor waar hulle vandaan kom; en die werk wat die Ramble Foundation doen?
Ramble is gebore en getoë in Stellenbosch, en het begin deur skootrekenaar-sakke aan die korporatiewe mark te voorsien in 2009. Nie lank daarna nie het ’n kamerasakreeks gevolg. Vandag is Ramble ’n bekende naam in die kleinhandel en verskaf ook aan bekende handelsmerke soos Canon, HP, Toshiba en Mercer, om ’n paar te noem.

Ons het die skoolmark vyf jaar gelede betree en verskaf vandag sport- en boeksakke aan meer as 400 skole. Ramble is nie net die grootste handelsmerk onder skole nie, maar is ook betrokke met borgskappe by honderde skole, sowel as by premie sport- en kultuurtoernooie landswyd.

Die Ramble Foundation is daar om terug te ploeg by hierdie skole met verskeie inisiatiewe, deur fondse en produkte wat ons self genereer.