Atterbury Trust is baie trots op ons nalatenskap in die vorm van honderde bevoegde jongmense wat bydra tot die ekonomie op vele vlakke . Een so ’n alumnus is Felicia Richardson, wat ons meer vertel oor hoe Atterbury Trust se 25-jaar vierings haar geraak het.
Vertel ons op watter draaie die lewe jou geneem het.
Ek het my diploma in bemarking destyds in 2019 by Akademia verwerf, en in Januarie sal ek al 11 jaar by Solidariteit werk. My rol is dié van jeugkurator, en ek is spesifiek verantwoordelik vir Inhoudsontwikkeling en implementering. Ek is ook tans besig met verdere studies in verskillende dissiplines, en sal kwalifiseer as Negative Emotional Therapy Practitioner en Neuro-Linguistic Programming Practitioner tesame met sertifikate in transformation coaching en life coaching.
Ek het oor die afgelope paar jaar besef hoe ’n groot impak my storie al gehad het op ander jongmense se lewens, en dat ek oor en oor dieselfde vraag gevra word: “Maar wat maak jou anders as ander mense wat min of meer in dieselfde omstandighede grootgeword het?” Die antwoord is nie noodwendig net een ding nie. Ek het besluit om ’n life-coaching rigting in te slaan sodat ek ander kan lei om hulself te help om hul eie beste self te ontdek! Ek het ’n gees van “moet nooit opgee nie” ontwikkel en dit is een van die hoof-elemente wat my gehelp het om sogenaamde sukses te behaal.
Hoe sou jy die rol wat Atterbury Trust in jou lewe gespeel het, opsom?
Wow, dit was omtrent ’n journey en ek is Atterbury Trust ewig dankbaar vir hulle deelname aan my storie. Soos Zahn al gesê het, my storie is een groot getuienis van God se genade en goedheid. Ek is een van dié waarvoor Hy die 99 gelos het om my te kom vind.
My hart is dankbaar en dit is my mantra in die lewe: “I just want to be found thankful.” Niks van hierdie kom my toe nie, maar steeds het God my só lief dat hy mense oor my pad gestuur het om die pad vir my gelyk te maak.
Tien jaar terug het ek voor Atterbury se deure gestaan met ’n droom in my hart, en dit was eintlik maar ’n klein droom: ek wou net beter doen en beter wees as dit waaraan ek gewoond was; ek wou net vir my kinders eendag ’n beter lewe kon gee, en was onseker oor presies hoe die “beter” sou lyk of die werk wat dit sou verg. Atterbury Trust het só ’n groot impak gehad en nie net het die droom in my hart realiteit geword nie, maar ek het as mens genees. Ek het besef om beter te doen en beter te wees, verg nie net van jou om te studeer of iets agter jou naam te hê of om ’n “goeie” werk te kry nie. Dit gaan daaroor om jou hart en jou gedagtes te vernuwe en oor te bou aan die grondslag wat daar nie was as kind nie.
Vandag, tien jaar later, sit ek hier met trane in my oë in verwondering oor wat in die afgelope dekade tussen die mure van my lewe gebeur het; die absolute groei wat in my hart en menswees plaasgevind het.
Daar is hoop, baie hoop… al wat ek die nodigste gehad het was iemand om in my te glo. Die feit dat Zahn in my geglo het, het my gehelp om die eerste treetjie te neem tot beterskap – ekonomies, as vrou, as mens.
Ek sal Atterbury Trust ewig dankbaar wees.
Hoe het jy die aand van Atterbury Trust se 25-jaar viering by Atterbury Teater ervaar?
Ek is getref deur die volume van mense wat aangeraak word deur die ongelooflike werk wat die personeel van die Atterbury Trust doen! Min van ons weet wat die omvang is van dit waarmee die Trust besig is, en dit is op sulke geleenthede dat mens werklik besef watter baanbreker-werk hierdie mense verrig!
By watter van Atterbury Trust se projekte vind jy die meeste aanklank?
Definitief die Triomf Kliniek! Ek voel dat elke mens geregtig is op behoorlike mediese sorg, maar ongelukkig is dit nie altyd wat mense ervaar wanneer hul aanklop vir hulp by staatsklinieke en -hospitale nie. Die feit dat daar medici was wat hand opgesteek het, en steeds hand opsteek om ’n verskil te maak waar die nood groot is, veral in ons kwesbare bejaardes se lewens, laat mens se hart warm klop en trots voel!
Wat sal jy vir die huidige groep beursstudente sê, as ’n alumnus wat reeds die paadjie geloop het waarop hulle nou is?
Om te kan studeer is ’n ongelooflike voorreg – gryp die geleentheid met alles in jou aan en maak seker dat dit nou die nommer-een prioriteit in jou lewe is, want dit baan die weg na ’n suksesvolle loopbaan. Maar dan moet jy ook nooit ophou om jou kennis te vebreed nie, ontwikkel ’n gesindheid van “lewenslange leer”. Die wêreld om ons verander teen so ’n vinnige pas, so moenie agterbly omdat jy dink dat ’n drie- of vier-jaar graad genoeg is om op die voorpunt van ‘n suksesvolle loopbaan te bly nie.