Dit is vandag moeilik om Woolworths se betaaltou voor te stel sonder die rakke en rakke (en rakke!) tydskrifte, maar dit is slegs 100 jaar gelede toe die heel eerste vrouetydskrif vir Afrikaanse vroue die lig gesien het. Die Boerevrou was ’n baanbreker wat tussen 1919 en 1931 uitgegee is en nou die onderwerp is van ’n baie spesiale gedenkboek wat deur Atterbury Trust bestel kan word. Ons het gesels met Dr Jeanette van Rensburg, wat Die Boerevrou Gedenkboek 2019 saamgestel het.
Wat was die inspirasie vir hierdie projek? Dit was ’n akademiese doktorale projek, maar wat wou jy graag hiermee vasvang? Hoe sal jy die boek beskryf?
Die Boerevrou was vir vyf jaar tot so ’n mate deel van ons gesin se lewens dat ek ’n yslike leemte gevoel het nadat ek die studie voltooi het. Ek het selfs begin droom van sommige van die historiese lesers en Mabel Malherbe, die eienaar-redaktrise. Die doel van my studie was destyds om die tydskrif aan die vergetelheid te ontruk en te bewys dat ’n vrouetydskrif ’n gesaghebbende primêre bron vir kultuurgeskiedenis is. Ek dink ek het nie ’n ander keuse gehad as om hierdie ongelooflike vonds met die wêreld te deel nie. En watter beter onderwerp is daar om ‘n “bookazine” oor uit te gee as ’n ou tydskrif? Dit maak geskiedenis toeganklik vir almal, want dit is visueel stimulerend en die teks is in korter eenhede verdeel wat vinnig en maklik lees.
Wat is die grootste ooreenkomste, en verskille tussen hierdie oer-Afrikaanse tydskrif en vandag se moderne Sarie, Rooi Rose en ander?
Die verskille is min en meestal kosmeties van aard, byvoorbeeld ander druk- en verspreidingsprosesse. Ooreenkomste is daar egter baie. Die Boerevrou het gepubliseer wat haar lesers wou lees, het raad gegee en vrae beantwoord. Die lesers het ’n sosiale netwerk gevorm wat mekaar leer ken en waardeer het. Hulle het resepte uitgeruil, oor die pos saam geboer met bye en hoenders, rokpatrone en modes bespreek en mekaar tot maatskaplike betrokkenheid aangemoedig – alles vir die eerste keer in Afrikaans.
Vrouetydskrifte vang die drome en lewensuitkyk van vroue vas in die era waarin hul leef – wat het jy geleer oor ons oumagrootjies wat jou dalk verras het?
Ek het geleer dat ons oumagrootjies die behoefte gehad het om iewers te behoort. Hulle het aktief meegedoen aan die skep van ’n Afrikaner-identiteit. Hulle politieke en godsdienstige oortuigings kom duidelik na vore in die tydskrif en hulle was trots daarop om deel te hê aan die ontwikkeling van Afrikaans as skryftaal.
Kan jy dalk ‘n interessante feite of storie deel wat jou besonder geraak het gedurende jou navorsing?
’n Mens voel aangeraak deur die feit dat Mabel Malherbe Engels groot geword het en Engels met haar kinders gepraat het en tog baie tyd, energie en geld opgeoffer het om vir Afrikaanse vroue die geleentheid tot ’n ondersteuningsnetwerk te gee toe hulle dit baie nodig gehad het.
Vertel ons meer omtrent jou proses om die boek saam te stel – wat was jou prioriteite? Hoe het jy besluit wat om in te sluit en wat om uit te los?
Ek het die hoofstukke van my proefskrif fyner ingedeel en soos artikels hanteer omdat ek graag die gevoel van ’n tydskrif wou skep. My niggie, Jeanene, is ’n regsgeleerde en het kans gesien om die teks te lees en aan te dui in watter diskoerse non-historici nie belangstel nie. Sy moes my ook oortuig om sekere gedeeltes, wat onduidelik sou wees vir die algemene publiek, oor te skryf, te verander of selfs weg te laat. Daarna het ek besluit watter foto’s ek graag by elke gedeelte sal wou gebruik. Ek en die skilder Jenny Boon het self die stilering gedoen en al die foto’s verlede Oktober van voorwerpe uit ons eie huise geneem. Jenny het ook die meeste redigering van die foto’s gedoen. Intussen het Charlene Kotzé die reusetaak van die taalversorging aangepak en seker gemaak dat datums, afkortings, getalle ensovoorts eenvormig geskryf is. Sy moes ook seker maak dat daar geen spasie-foute in die teks is nie. Hierna kon Paula Dubois met die bladuitleg begin. Sy het vir my kwotasies by drukkers gekry, wat verlede jaar Augustus al bespreek was vir hierdie jaar Februarie. Paula het volgens ’n bladplan gewerk wat ek opgestel het, omdat ek vooraf presies bepaal het hoeveel woorde elke “artikel” is en hoeveel bladsye elk moet beslaan. Sy het my droom om die boek soos ’n tydskrif te laat lyk, ’n werklikheid gemaak deur daaraan ’n unieke karakter te gee met spesifieke kleure en selfs ’n eie skrif-styl. Daarna het die massas proefleeswerk weer op Charlene se lessenaar geland. Paula het baie nou saam met die retoesjeurder en die drukkers gewerk en die proewe persoonlik gaan afteken. Ons almal het na die projek as ons babadogtertjie verwys, wat op Donderdag, 7 Februarie 2019 in Kaapstad gebore is.
Hoeveel van die fisiese eksemplare van die oorspronklike tydskrif het bewaar gebly en waar is hulle vandag?
Dis moeilik om te sê hoeveel eksemplare van die oorspronklike tydskrifte nog bestaan. Ek het destyds uit UP en die Staatsbiblioteek in Pretoria se versamelings gewerk. UP se versameling is nie volledig nie. Die versameling by NALN in Bloemfontein is volledig en in ’n baie goeie toestand. Ek weet die Nasionaal Kultuurhistoriese Museum in Pretoria se biblioteek het ook ‘’n versameling en ek veronderstel die Nasionale Biblioteek in die Kaap ook. Dan het die APA-biblioteek onlangs ’n skenking gekry van al die eksemplare van 1920 tot 1925.
Hoe het jy besluit op die omslag van jou boek, en hoe het dit gestalte gekry?
Ek wou ook graag die gedagte van “oud en nuut” saamvat, soos op Sarie se eerste voorblad. Aangesien die gedenkboek die look and feel van ’n moderne tydskrif moes hê, kon ons nie bloot ’n skets of foto van die Voortrekkernooientjie-standbeeld (wat altyd op die ou tydskrif se voorblad gepryk het) gebruik nie. Dit moes ’n lewendige voorbladmodel wees. Toe my dogter aanbied om met Voortrekkerklere te poseer, het ek die idee gekry om ’n moderne meisie deur die spieël na haar “outydse” self te laat kyk. Ek dink baie mense kan met haar identifiseer omdat ’n mens jouself in jou voorgeslag kan of wil sien.
Hoe lank het die projek jou geneem, en is jy tevrede met die eindresultaat?
Die boek verkoop goed en die terugvoer wat ek kry, wissel van positief tot aangrypend. Ek is baie tevrede met die resultaat van ongeveer ses maande se harde werk deur ’n ongelooflike talentvolle span vroue. Die resultaat is nie net ’n treffende en verteerbare geskiedenisboek nie, maar ook van die aangenaamste herinneringe van my lewe. Elke medewerkster kon op een of ander manier aanklank vind by iets of iemand in Die Boerevrou se geskiedenis en daarmee identifiseer. Die Boerevrou het nie destyds teleurgestel nie, en definitief ook nou na 100 jaar my wildste drome oortref.
Atterbury Trust is dankbaar aan Dr Jeanette van Rensburg wat onderneem het om R50 per eksemplaar van die koopprys van R250 van Die Boerevrou Gedenkboek 2019 aan die Trust se beursfonds skenk as die boek deur Atterbury Trust bestel word. Die boek is ook by uitgesoekte winkels beskikbaar. Die bestelvorm is op die Atterbury Trust webtuiste beskikbaar – https://atterburytrust.org/boervrou-boek-bestelling/