Die nuwe semester het vandeesweek met groot jolyt by die Isa Carstens Akademie Pretoria afgeskop, met die inlywing van die splinternuwe kampus wat Atterbury saam met Piet Jordaan van Monceros en Gerhard en Isabel Roos vir die akademie gebou het. Ons het met Isabel, die doyenne van die akademie, gepraat oor die nuwe begin.
Baie geluk met die nuwe kampus! Wat beteken dit vir jou dat Isa Carstens Akademie nou hierdie prominente nuwe posisie in Pretoria het?
Dit maak my baie trots! Ek het nie gedink dat dit moontlik was nie, maar soos Madiba gesê het, “It always seems impossible until it is done.” Die Pretoriakampus was die natuurlike groei van die kampus en hoofkantoor in Stellenbosch wat al 38 jaar bestaan. Dit hou ons steeds nederig en maak ons versigtig opgewonde. Harde werk sal dit steeds bly.
Vertel ons hoe julle destyds by Atterbury uitgekom het?
Ons het vir Gerhard Jooste, deel van die destydse Atterbury Kaap, in 2001 ontmoet toe ons die koshuis in Stellenbosch beplan het. Hy het ons aan Atterbury bekend gestel waarna die groep saam met ons Stellenbosch se heel eerste privaatkoshuis gebou het. Sedert daardie jaar, 2004, het Lucille Louw op die direksie van die Stellenboschkoshuis gedien en daarvandaan het die besigheidsverhouding gegroei tot waar dit vandag is.
Wat dink jy van die nuwe kampus? Wat sou jou ma, die oorspronklike Isa Carstens en die stigter van die besigheid, hiervan gedink het?
Die nuwe kampus is wonderlik. Die beste is dat ons die klasse so kon ontwerp dat daar genoeg spasie is en baie lig. Die energie in die nuwe gebou is baie positief, dis ruim, die veiligheid van ons studente is goed en dit is boonop baie mooi ook. My ma sou beslis baie trots gewees het. Sy sou elke dag hier gewees het van vroegoggend tot laat saans, want sy het altyd gesê, “My work is my joy!”
Hoe lank is jy reeds betrokke by die onderneming en hoe het jou rol oor die jare ontwikkel?
Ek het die Isa Carstenskursus in 1979 gedoen toe dit nog net ʼn jaarlange kursus was. Daarna het ek by my ma se salon op Stellenbosch gewerk en later ook my eie salon gehad. Ek het in 1987 by die Isa Carstens Akademie in Stellenbosch aangesluit nadat ek my salon verkoop het. Ek het as lektrise begin en na so vier jaar ook by die administrasie betrokke geraak. In 1996 het ek die bestuur oorgeneem met my ma steeds daagliks in die kantoor as mentor en steunpilaar. In 1997 het my man, Gerhard Roos, ook aangesluit en my ma het uitgetree; hoewel sy steeds baie nou betrokke was tot haar afsterwe in 2002.
Wat is vir jou die grootste verskil tussen toe en nou?
Die vlak van opleiding! Dit was ‘n senutergende en uitdagende reis om te groei van ʼn een-jaar kursus tot drie-jaar-vlak opleiding. Ons is baie opgewonde oor ons nuwe vlak 7-kwalifikasie wat gelykstaande is aan ʼn graadkursus. Die grootste uitdaging tot dusver was om ons aanbiedinge by die Raad van Hoёr Onderwys geakkrediteer te kry en ook om die akademie by die Departement van Hoёr Onderwys geregistreer te kry as ‘n hoёr-onderriginstansie. Hierdie riglyne is eers vanaf 1999 van krag aangesien daar in die vroeё ‘80s daar nie verpligte registrasies vir privaatonderrig was nie.
Hoeveel studente het julle destyds per jaar gehad, teenoor vandag?
Ons het in 1978 met nege studente begin en ons kan nou 72 kandidate per jaar registreer, ‘n totaal van 216. Die Pretoriakampus is in sy sesde jaar en het vanjaar in totaal 88 studente geregistreer, so daar is nog plek om te groei.
Oor die jare het julle baie deskundiges opgelei wat seker ook reeds wye draaie gegooi het… kan jy iemand uitsonder op wie jy spesifiek baie trots is?
Ek dink dadelik aan Elmien Scholtz, student in 1979, en nou die eienaar van BioSculpture naelprodukte; Debbie Merdjan, student in 1981, wat nou die Camelot Spagroep en opleidingskool besit; en Lisa Smith, student in 1990 en vandag eienaar van Theravine spaprodukte.
Ons hoor daar is so ‘n mooi seremonie om nuwe studente in te lyf. Vertel ons meer?
Ons wil baie graag ‘n Isa Pretoria-kultuur vestig waarop student positief kan voortbou. Een element daarvan is die kersligseremonie by ons eerstejaars-verwelkomingsprogram. Voor die seremonie skryf elke eerstejaar aan haarself ‘n brief oor wat sy verwag van haar tyd by Isa en wat sy graag wil bereik. Hierdie briewe word tydens die kersligseremonie in ‘n tydskapsule verseël. Die studenteraad lees vir die eerstejaars die “Isa Code of Ethics” voor, en dan steek hulle elk ‘n kersie by die studenteraad se groter kerse aan en ontvang hul Isa borsspeldjie. Die tydkapsule word langs hulle eerstejaarsboom op die kampus begrawe, en op die laaste dag van hulle derde jaar weer uitgegrawe, wanneer die studente elk weer haar brief van destyds terugkry, om op te reflekteer.
Vir meer inligting oor die Isa Carstens Akademie en die Pretoriakampus, besoek gerus http://www.isacarstens.co.za/ of skakel 012 348 0125.