Een van ons gunsteling inisiatiewe is die Startwell voedingsprojek wat met die finansiële ondersteuning van hoofborge WeBuyCars en Outsurance in Junie vanjaar onder die vaandel van die Atterbury Foundation afgeskop het. Meer as 2 200 kleuters in behoeftige gemeenskappe in sewe provinsies word tans voorsien van spesiaal geformuleerde pap met ’n hoë voedingswaarde.  Ons gesels met Elsie Helberg, die skoolhoof by AbbAsorg kleuterskool in Promosa, Potchefstroom, oor die verskil van die pap by haar skool maak.

Groeibelemmering is een van die grootste tragedies in ons land. ’n Derde van Suid-Afrika se kleuters onder vyf lei aan hierdie voorkombare, maar onomkeerbare kondisie, wat direk veroorsaak word deur wanvoeding, en omtrent altyd die gevolg is van armoede.

Kinders wat in hulle eerste lewensjare nie genoeg van die regte voedingstowwe kry nie, ontwikkel nie behoorlik nie en sukkel dikwels lewenslank met gesondheids- en intellektuele uitdagings. “As jy die hele tyd aan kos en jou volgende maaltyd moet dink omdat dit nie gewaarborg is nie, is dit onmoontlik om die dissiplines van leer en konsentreer te handhaaf, en boonop ly jou gesondheid daaronder,” sê Elsie Helberg, wat elke dag 49 kleuters van vyf jaar en onder by die ATKV se AbbAsorg Trust kleuterskool versorg.

AbbAsorg is sedert Augustus vanjaar deel van die Startwell voedingsprojek, en die kinders kry elke oggend ’n bord Startwell pap, en soms selfs ’n tweede porsie as ’n kind nog honger is, vertel Elsie. “Die feit dat dit in verskillende geure kom, beteken dat dit nie voel soos dieselfde pap elke dag nie, en die verpakking in emmers maak ook hantering en berging maklik.” Met elke besending kom daar twee monster-pakkies saam met genoeg pap vir drie of vier etes, en sy hou hierdie om skoolvakansie-tyd saam met die behoeftigste kleuters huis toe te stuur.

Die kleuters kom uit huise wat gebuk gaan onder armoede en word merendeels grootgemaak deur enkelma’s of oumas, met ’n klein staatspensioen of R350 Sassa-toelaag as enigste inkomste. Werkloosheid is die norm en kos by die huis is min, tipies maar pap of brood. Die kinders bring nooit iets van die huis af om te eet nie. “Die maaltye wat ons hulle gee, is in baie gevalle die enigste kos met werklike voedingswaarde wat hierdie kleintjies kry,” sê Elsie.

Sy gebruik die Gesondheidsdepartement se Road to Health-boekie waarin sy rekord hou van die kinders se gewig en lengte, en neem veral rondom skoolvakansies kennis van waar elke kind is, sodat sy kan oplet as ’n kind se gewig wys dat daar dalk nie kos met genoegsame voedingswaarde tuis is nie.

Hulle kry nog net vir vier maande die Startwell pap, maar sy het reeds by twee kleintjies oor wie sy veral bekommerd is, ’n klein, maar merkbare verbetering opgetel. Die eerste, ’n vyfjarige dogtertjie, is baie tingerig en klein, en was dikwels siek. Sy is die jongste van drie dogtertjies van ouers wat albei werkloos is met twee R350 Sassa-tjeks as hul enigste inkomste. “Sy was baie afwesig, of haar maag was omgekrap, en in die Road to Health-boekie se groei-grafiek het haar ontwikkelings-getalle nog altyd rondom die rooi lyn geplaas, oftewel gevaarlik laag. Met ons laaste meting was sy by die oranje lyn, so ons hoop om haar by die groen (normale) lyn te kry. Sy is ook minder gereeld siek. Dit het alles gebeur sedert ons haar elke dag die Startwell pap gee.

“Die tweede outjie is ’n driejarige seuntjie met ’n enkelmamma, wat ook daar by die rooi lyn was, en ook opgeskuif het na oranje toe. Sy spier-tonus was baie laag; hy het gesit-lê eerder as regop sit, en met buite speel was hy ook agter die ander. Nou sit hy langer regop in die klas, en buite hardloop hy makliker en kan die bal vang en met die ander kleintjies speel. Dit doen mens se hart goed om die verbetering te sien wat die regte voeding bring.”

Skooltjies soos AbbAsorg is baie afhanklik van liefdadigheidsorganisasies vir befondsing. Elsie is besonder dankbaar vir alle bydraes wat hulle aan die gang hou, en as dit kom met ’n produk van so ’n hoë gehalte soos Startwell is dit ’n groot bonus, sê sy. “Ons hoef byvoorbeeld nie melk en suiker te koop vir die pap nie, so ons beperkte begroting kan nou gerek word, sodat ek van tyd tot tyd vir elke kind ’n bakkie joghurt of ’n ekstra vrug kan koop.”

Die Startwell-projek is ‘n geleentheid vir enigiemand wat omgee om by te dra tot ’n inisiatief wat ’n tasbare verskil maak. Soos Elsie sê, “Honger en wanvoeding breek ’n kind se spoed. Deur hulle met ‘n vol magie huis toe te kan stuur, beteken ons lê ’n gesonde grondslag vir die res van hulle skoolloopbaan. Mens doen dit ter wille van die grootmense wat hulle gaan word, sodat hulle soveel meer vir die land, vir mekaar en vir die samelewing sal kan beteken.”

Dit kos R1020 om ’n kind vir ’n jaar te voed met Startwell se pap, en dis maklik om by te dra: kliek hier: https://atterburytrust.org/shop/voed-n-kleuter-vir-n-jaar/