Die Terugploeg-familie is ’n ryke tapisserie van mense met groot harte, slim planne en diep sakke; mense soos Barend Vorster van Mahela Boerdery in die Letsitele-area wat boer met onder andere vrugte en wild, en welwillendheidsprojekte sien as ’n belangrike deel van sy besigheid.

Hoe het jy by Terugploeg betrokke geraak? Wat is dit omtrent hierdie spesifieke inisiatief wat jou aangetrek het?
Tydens die begin van die eerste grendeltydperk het ’n vriend by name Herman Marx my geskakel en bewus gemaak van die dringende behoefte aan voedsel wat bestaan onder van die behoeftige mense in Pretoria en omgewing.  Met ’n paar oproepe het ons vinnig ’n paar palette vrugte en groente bymekaar gemaak om die vragmotor wat stene in die omgewing kom aflaai het, weer vol vrugte en groente terug te stuur na Pretoria. Die bereidwilligheid van die boere om hulp te verleen en sodoende ’n verskil te maak in mense se lewens, was ongelooflik. Soos die grendeltyd verleng is en die nood groter geword het, het ons aanhou gee. Ons help graag steeds waar ons kan.

Dit is nie die enigste welwillendheidsaksie waarby julle betrokke is nie – kan jy ons bietjie vertel waarmee julle anders hulp verleen?
Ons verleen hulp in ons onmiddelike omgewing aan behoeftiges deur die kerke, skole, Agri Letaba en die strukture wat na ons mening die nodige verskil kan maak. Ons het ’n laerskool op die plaas met 250 leerders by wie ons op verskillende vlakke betrokke is om seker te maak die kinders kry goeie onderrrig. Verskeie kleuterskole tel hieronder. Ons verleen ook finansiële hulp aan die plaaslike maatskaplike werker. Dan skenk ons ook gereeld vrugte aan ons arbeidsmag om seker te maak hul gesinne kry die nodige vrugte en natuurlik genoegsame vitamien C in die proses.

Jy het gesê die boere in jou omgewing sal gee as daar gevra word… en dat Terugploeg se logistieke element die voordeel het dat dit sulke prosesse soveel sal kan aanhelp. Hoe sal dit in werklike terme werk daar in Letsitele en die groter Tzaneen-omgewing met jou en jou bure?
Die produkte glo ek kan deur die boere voorsien word en met die hulp van Terugploeg se logistiek sal dit soveel beter wees om die produkte gelewer te kry. Die boer sal makliker kan gee op die plaas as hy nie nog hoef uit te werk hoe om dit afgelewer te kry nie.

Mahela Boerdery is ’n familieplaas, reg? Vertel ons wie is almal betrokke en hoe lank julle al boer?
Mahela se bestaan het begin in 1942 toe my oupa Ben Vorster begin boer het as een van die pioniers in die Letsitele omgewing. Ons is tans vier broers betrokke in die boerdery-groep met my pa, Edward, wat steeds betrokke is. Mahela produseer sitrus, piesangs, avokado’s, makadamias, kiwis en lietsjies. Ons is ook betrokke by wild- en beesboerdery.

Hoekom het julle besluit om aan die Terugploeg-inisiatief deel te neem?
Dit is vir ons as groep belangrik om ’n bydrae te lewer aan ’n geloofwaardige inisiatief waar ons ’n betekenisvolle verskil kan maak.

Hoe groot reken jy kan hierdie inisiatief raak – wat sou jou droom wees vir Terugploeg, en jou betrokkenheid?
Ek glo die inisiatief kan uitbrei na ander dele van ons land. Ons as boere kan help met die skenk van produkte, maar die res van ons vriende moet hulp verleen met die organiseer van hoe en waar en wanneer, soos Terugploeg doen. Geen mens in ons land verdien om honger te gaan slaap nie.