Praat met enige Atterbury Trust beursstudent, en daar is ’n goeie kans dat jy verstom sal staan voor die goeie dade en groot harte van hierdie spesiale jongmense, wat dikwels sommer nog op universiteit al werk maak daarvan om ander te help. Finalejaar onderwysstudent Zonika van Zijl is maar 23, maar sy het die hart van ’n digter en maak reeds ’n verskil in die lewe van ’n groep behoeftige hoërskoolmeisies.
Vertel ons meer oor Zonika as sy by die huis is.
Ek is die baba in ons gesin, het ’n sussie wat vier jaar ouer as ek is en onderwysbloed loop deur beide van ons se are. Ek was in Laerskool Saamspan en Hoërskool Hercules in Pretoria en albei skole het my geleer dat daar ’n verskeidenheid mense in die lewe is en dat daar altyd iets is wat jy by iemand kan leer. Ek woon nog by my ouers en is dankbaar vir my ma se kookvernuf!
Hoe het jy van die Atterbury Trust-beurs gehoor?
My sussie het ook ’n Atterbury Trust-beurs gekry, so ek het al geweet ek wil aansoek doen toe ek nog op skool was. Ek is so geseënd om al vir vier jaar deel van die Atterbury-familie te wees.
Wat geniet jy die meeste omtrent studentelewe?
Ek waardeer dit dat dit mens tyd gun on jouself te ontdek en die grootmenswêreld treetjie vir treetjie te begin toetree. Mens word nie net vir die wolwe gegooi nie.
Wou jy nog altyd ’n onderwyseres geword het? Wat was Plan B as jy nie die beurs gekry het nie?
Ek wou van kleins af nog altyd brûe bou. Na skool het ek besef ek wil graag met kinders werk en dat ek iets terapeuties wil gaan studeer. Alle paaie het na onderwys gelei en ek kan sien dat ek gemaak is om kinders te motiveer en te inspireer. Plan B sou wees dat ek werk sou soek en spaar tot ek my studies self sou kon betaal. Om te studeer was nog altyd die plan.
Ons hoor jy bied ’n kursus wat jy self aanmekaargesit het vir hoërskoolleerders aan – vertel ons meer?
Ek bied dit aan by Hoërskool Tuine waar my sussie skoolgee. Ek het ’n groep begin met die naam Fenominal, die meisies is almal tussen 14 en 18. Dit neem die vorm aan van kuiersessies elke Vrydagmiddag waar ons praat oor probleme, en waar die meisies ’n ondersteuningsnetwerk vir mekaar geword het – ons is al amper ’n jaar hiermee besig. Ek gee vir hulle opleiding uit die Bybel met lessies wat ek opstel en dan vir hulle aanbied. Elke meisie het ’n “journey journal” waarin hul elke week huiswerk kry om te doen. Die doelwit is om meisies hul waarde te laat besef en vir hulle ’n hoopvolle toekoms te bou.
Waar het die idee vandaan gekom?
Die idee het by my opgekom toe ek eendag buite die skool gesit en wag het vir my sussie om uit te kom. ’n Meisietjie van so ses of agt het verbygestap het en vir my gesê, “Juffrou is so mooi!”, en heel natuurlik was my reaksie, “Jy’s net so mooi!” Toe antwoord sy, “Nee ek is nie.” Hierdie kort gesprekkie het my laat dink ek wil iets doen om meisies se wanindruk oor hul eie waarde, en hul selfbeeld, te help verander. Ek geniet dit baie en voel dit is waar God my wil gebruik. My groot droom is om kampe aan te bied met motiveringsprekers wat die meisies kan kom toespreek – op die oomblik is daar nie finansies daarvoor nie, maar ek weet dinge gebeur stappie vir stappie. Ek wil self opleiding kry om te weet hoe om sekere situasies te kan hanteer (van die meisies sit met ernstige probleme).
Onderwys in Suid-Afrika het soveel uitdagings in 2017 – wat glo jy is nodig om dinge weer op die regte spoor te bring?
Ek glo dink alle gedrag getuig van wat by die kind se huis aangaan. As ouers hul kinders grootmaak met die doel om hul gesonde volwassenes te maak, sal dissipline nie so ’n groot probleem wees in skole nie. Die kinders sal besef dat hulle hul eie toekoms kan bepaal deur hard te werk. Ek glo ook tegnologie plaas ’n groot demper op ’n kind se verbeelding, en dis belangrik dat ’n kind so lank moontlik kind gehou moet word, met fisiese aktiwiteite eerder as om vasgeplak te wees aan daardie skermpies.
Jy is ook ’n gepubliseerde digter! Hoe het dit gebeur? Is dit ’n passie wat ook al van lankal af kom?
Ek het in 2011 my talent vir skryf ontdek en van toe af het ek nog nie opgehou nie! My eerste digbundel is in die proses om gepubliseer te word, en ek kan nie wag om dit fisies in my hand vas te hou nie. Skryf het my baie geduld geleer en my laat besef dat as jy werklik iets wil hê, sal blote talent mens net sover bring. Harde werk is net so belangrik. Om te skryf voel vir my soos my siel wat asemhaal. Om gedigte te skryf is soos suurstof vir my gees.
Wat is jou droom vir jou gedigte?
My droom met gedigte was nog altyd ’n eenvoudige een: ek wil bloot mense inspireer met my woorde. Hoe meer mense, hoe meer blessed voel ek.
Vertel ons iets meer omtrent jou gedig, My Stukkie Lap – wat was die inspirasie?
Ek het deur die Idees tydskrif geblaai en daar was ’n foto by een artikel van stukkies lap… Dit het my laat dink hoe ek altyd so geïnspireer voel as ek aan lap vat, omdat dit soveel moontlikhede verteenwoordig. En ek het besef dat dieselfde stukkie lap iets anders vir elkeen wat daaraan vat, sal beteken, omdat ons elkeen ons eie storie het. Die verhaal van die nuwe ouma het uit my pen gevloei, en so natuurlik gevoel. Ek is gek daaroor om elke gedig wat ek skryf so realisties as moontlik te laat klink en die mooi in die alledaagse uit te lig. Ek het die gedig vir Idees gestuur, en hulle het dit gepubliseer…
My stukkie lap
Hier sit ek met jou in my hande
En my kop is gevul met idees.
Hoe wonderlik is dit nie
Dat jy ’n magdom dinge kan wees?
Ek knip dan hier en plak
Ietsie daar
En Voîlá!
Jy is klaar.
Ek kyk na jou kraletjie-oë
En in my keel kry ek ’n knop.
Jy, Timmie, is my week oue kleindogter
Se eerste handgemaakte lappop.
Atterbury Trust se beursborge kan bepaal waarvoor hul skenkings aangewend word – jy kan ‘n spesifieke student “aanneem” vir ‘n bepaalde tyd, of ’n studierigting aandui waarin jy jy iemand wil befonds. Vir meer inligting, stuur gerus vir Zahn Hulme ‘n epos by [email protected] of kliek hier om te skenk.