Atterbury Trust-beursstudent Casper Vermeulen is onlangs aangestel as bestuurder van die Terugploeg Karwas, en is besig om die klein onderneming om te draai, en terselfdertyd baie te leer. Hy vertel ons van sy studieplanne, en die waardevolle sakelesse wat met hierdie geleentheid gepaardgaan.

Vertel ons hoe jou paadjie met dié van Atterbury Trust gekruis het?
My ma is bevoorreg om vir Atterbury te werk, so dis hoe ek van die Trust se werksaamhede gehoor het, en kon aansoek doen vir die Trust se studiebeursprogram. Dit was wonderlik om vir ‘n beurs te kwalifiseer.

Ons verstaan jy het nog ’n vak of wat om klaar te maak. In watter rigting het jy geswot, en beplan jy om uiteindelik die graad te voltooi?
Ja, ek is inderdaad nog besig met my B Com in ondernemingsbestuur. Ek is van plan om dit volgende jaar te voltooi, moontlik deeltyds.

Hoe het jy by die Terugploeg Karwas betrokke geraak, en wat presies is jou rol daar? Is dit ’n nuwe onderneming?
Die Karwas is nie heeltemal nuut nie, maar ek verstaan dat daar probleme opgeduik het met die vorige bestuur daarvan. Dit is hoe die geleentheid na my kant toe gekom het – omdat ek deel van die Trust se beursfamilie is, het hulle geweet ek het die kapasiteit, en het my genader om te hoor of ek sou belangstel om die bestuur oor te neem. Ek is aangestel as algemene bestuurder en my verantwoordelikhede sluit alles in wat die besigheid se sukses sal verseker; van personeelbestuur en logistiek tot finansiële bestuur.

Vertel ons van die Karwas – waar is julle geleë, hoeveel ouens werk daar, hoeveel karre was julle; wat is julle besigste dae/tye?
Ons is geleë in die kelderparkering oorkant die Klubhuis, by Club Advokatekamers se parkering. Ons het drie werkers wat was. Ons was gemiddeld so 12 tot 15 karre elke dag en ons besigste dae is op Maandae, ná die naweek en op Vrydae, voor die naweek.

Hoe pas die Karwas en die Terugploeg-inisiatief by mekaar in?
Een van Terugploeg se kernpilare is om werk te skep en geleenthede te verskaf; en die Karwas pas presies daarby in; dit skep werksgeleenthede en besigheidsmoontlikhede.

Wat is vir jou die grootste uitdaging van hierdie nuwe posisie, en wat geniet jy die meeste? Hoe gaan dit sedert jy daar begin het?
Vir my is die prioriteit om seker te maak dat elke kliënt se kar deeglik gewas word en te sorg dat dit betyds klaar is – gelukkige kliënte kom terug en verwys ander mense, en so groei mens die besigheid. Sommige mense het nie tyd vir wag nie, so dis maar altyd stresvol op besige dae, en dis baie uitdagend. Ek geniet die feit dat ek elke dag met nuwe mense werk en ook elke dag iets nuut leer oor die bestuur van ’n besigheid. Dis baie goeie ervaring wat ek in ’n kort tyd opbou, want ek leer iets van alles. Ek het ook groot planne om die Karwas verder te bemark.

Waar sien jy jouself oor vyf jaar – wat is jou droom?
My droom is om my B Com-graad te voltooi en sukses te behaal in besigheid… dalk eendag ’n klomp karwas-ondernemings in al Atterbury se winkelsentrums te bestuur!

Hoe reken jy sal ons mense motiveer om Terugploeg Karwas te ondersteun – kan jy een (of twee!) goeie redes gee hoekom mense hul karre na julle toe moet bring?
Ons gee baie aandag aan detail en heg groot waarde aan ’n kliënt se eiendom. Ek dink dis belangrik om ’n verhouding te bou met die kliënt en daarom hou ek jou op hoogte terwyl jou voertuig by ons is. Ons streef na 100% kliëntetevredenheid.

Vir spesiale diens vir jou vuurwa by Terugploeg Karwas, bespreek jou karwas by Casper Vermeulen by 074 272 8812.