Grendeltyd het studente besonder hard geslaan, en vir diegene wat vanjaar graadvang, het dit onder meer beteken hulle kon nie soos graduandi nog altyd gedoen het, hul graad by ’n rektor ontvang tydens ’n regte ouskoolse gradeplegtigheid nie. Maar Atterbury Trust beursstudente is vindingryk bo alles; lees hoe 21-jarige Stephanie Eksteen virtueel gradeplegtigheid gehou het…
Vertel ons waar jy was toe die grendeltyd aangekondig is… en hoe het dit jou akademiese lewe geaffekteer?
Ek was pas terug in die koshuis na ’n Sondagaand van groepwerk saam met mede-honneurs studente toe ek die nuus gekry het. Ons het die volgende dag gehoor dat alle klasse en toetse vir die kwartaal uitgestel is, en ons vakansie het toe dadelik begin, ’n week vroeër as beplan.
Grendeltyd het nie op daardie stadium my akademie so erg affekteer nie. Ek het regtig moeite gedoen om die aanpassing te maak om produktief by die huis te werk. Dit was ook makliker omdat ek vir my honneurs meestal navorsingsprojekte moet voltooi wat ek in elk geval op my eie doen. Ek kon deur gedissiplineerd te bly relatief op die normale jaarprogram aangaan soos dit vir ons aan die begin van die jaar uiteengesit is. Die kommunikasie met dosente en medestudente was die eintlike struggle en dit het groepwerk en groepstake baie moeilik gemaak. Iets wat mens binne ’n halfuur vinnig in die biblioteek kon afhandel, het nou baie langer geneem omdat kommunikasie net soveel stadiger was. Daar was ook ’n hele paar misverstande en noue ontkomings en ek sukkel partykeer nou nog met sekere goedjies. Maar die feit dat ek half geforseer was om in die huis te bly, my boude op die stoel te plak en te werk, het oor die algemeen my akademie besonder goed gedoen oor die afgelope paar maande!
Watter graad het jy verwerf, en wat was die plan vir 2020 voor die pandemie getref het? Vir hoe lank het jy ’n Atterbury Trustbeurs gehad?
Ek het in 2019 my BSc in Verbruikerswetenskappe verwerf by die NWU se Potchefstroom kampus en ek was vir al drie jaar van my graad ’n Atterbury Trustbeursstudent. Ek het dit so baie geniet dat ek besluit het om vanjaar my honneurs in Verbruikerswetenskappe te doen en nog ’n jaar op die PUK te spandeer. Al wat regtig verander het, is dat ek tans van die huis af studeer.
Hoe het die virtuele gradeplegtigheid gebeur?
Een van my sussies (ons is ’n drieling!) het aan die begin van die jaar, voor die grendeltyd aangekondig is, graad gevang en dus het my gesin eerstehandse ervaring oor presies hoe dit werk en afspeel. Hulle het dus besluit dat ons sommer vir my in ons agterplaas ons eie “DIY” gradeplegtigheid gaan hou! Ons het sommer vinnig-vinnig vir my ’n kamerjas en serp as toga aanmekaargeslaan en ’n strandhoed gereël om die uitrusting af te rond. Verder het ons almal net mooi aangetrek en ’n selfoon vol gelaai om baie foto’s te kon neem. O ja, en ek het ’n wortelkoek gebak om die geleentheid te vier!
Wie het almal jou “gradeplegtigheid” bygewoon?
My enigste gaste was my ouers en my twee sussies. Dit was vir my baie spesiaal, want my een sussie sou nie die regte gradeplegtigheid in Potch kon maak nie; so met dié het ek my hele gesin by my gehad om my graad te vier. Later, soos ek foto’s begin deel en oplaai het op sosiale media, het soveel van my vriende en familie vir my boodskappe van gelukwensing gestuur, so eintlik het ek baie meer gaste gehad wat saam met my gevier het as wat ek oorspronklik besef het.
Wat was die hoogtepunt van die dag vir jou?
Ons het dit gehou op dieselfde datum wat die “regte” een sou wees, so ek was tog ’n bietjie hartseer en teleurgesteld dat ek nie die tradisionele gradeplegtigheid sou kon hê soos vele ander Pukke voor my nie, maar die moeite en liefde wat my gesin ingesit het om dit te laat gebeur was beslis die hoogtepunt van my dag. Dit was ook baie meer persoonlik en intiem en ek het nie gevoel soos net nog een van duisende studente wat op daardie dag graadgevang het nie.
Wat het jy die meeste gemis?
Definitief al die vriende wat ek oor die drie jaar gemaak het met wie ek graag die dag wou deel. Hulle het my van dag tot dag bygestaan en ek voel asof hulle na regte amper saam met my die graad moes vang vir al die liefde, ondersteuning en moed inpraat van die algelope drie jaar! En dan ook die foto’s neem voor die Calvyn, PUK se befaamde fontein; dit het net nog altyd vir my gevoel soos ’n perfekte en unieke afsluiting tot mens se studentelewe op PUK, en ek sou graag eendag daarna wou terugkyk en met my kinders en kleinkinders deel.
Wat is volgende vir jou… begin jy werk, gaan jy verder swot?
Ek beoog om einde Oktober klaar te maak met my honneurs en dan is ek baie opgewonde om te begin werk soek, sodat ek bietjie op my eie voete kan staan. Ek is tans besig om CV’s uit te stuur, maar ek oorweeg ook nog om dalk my meestersgraad aan te pak, en langafstand deur die PUK te doen. Een keer ’n PUK, altyd ’n PUK!
Dink jy mense sal weer teruggaan na hoe dinge was voor die pandemie? Wat reken jy sal verander en hoe gaan dit jou lewe beïnvloed?
Ek glo daar is sekere goed wat definitief sal teruggaan na hoe dit was voor die pandemie. Ons as Suid-Afrikaners tel die dae voor ons weer kan braai, rugby kyk en saamkuier na hartelus en ek dink nie dit sal ooit verander nie, al hou die pandemie ook hoe lank aan!
Hierdie jaar gaan egter ’n blywende invloed op ons almal hê en daar is ’n paar goed wat ek dink wel gaan verander in die toekoms. Die pandemie het my van vooraf geleer om in die oomblik te lewe, om dít te doen waaroor jy dalk twyfel, want eendag gaan jy wens dat jy het. Dit het my ook geleer om die mense naaste aan jou te waardeer en dat tyd so vreeslik kosbaar is! Hierdie ervaring gaan die manier hoe ek die toekoms aanpak, verander en vorm en dit is my hoop vir alle mense.
Atterbury Trust ondersteun tans sowat 180 aktiewe studente met beurshulp. Enige donasie is van onskatbare waarde, en ons reik ‘n A18-sertifikaat uit vir belastingdoeleindes. Kliek op Donasiewinkel om die verskillende pakkette te sien wat ons aanbied.