Vanjaar se algehele wenner van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie was 19-jarige Chanda Lupambo, ’n boorling van Johannesburg, leerling van die befaamde Dr Nina Schumann en eerstejaar musiekstudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy vertel ons meer.
Hoe lank al speel jy al klavier?
Ek was 12 toe ek begin speel het, so dit is nou al sewe jaar.
Kom jy uit ’n musikale familie?
Nee nie regtig nie; ek is ’n enigste kind en nie my ouers of grootouers het besondere musiektalente nie.
Neem jy gereeld aan kompetisies deel? Het jy al ander pryse ook gewen?
Ek het al aan ’n paar kompetisies deelgeneem, maar hierdie is beslis my grootste prestasie tot dusver. Die vorige een was ‘n bronsmedalje in die Hennie Joubert Klavierkompetisie in Maart vanjaar.
Wat maak hierdie kompetisie spesiaal?
O, dis die hele omgewing daarvan; en die respek vir die deelnemers, want dit word meer behandel soos ’n geleentheid vir almal op op te tree, sonder enige van die negatiewe en toksiese mededingende aspekte wat ek glo meeste kompetisies bederf. Dit was beslis my gunsteling kompetisie sover.
Hoe het jy voorberei hiervoor?
Ek het voorberei soos ek vir enige kompetisie sou; deur soveel as moontlik te oefen as wat my skedule as BMus-student toelaat, wat gemiddeld vier of vyf uur per dag is.
Het jy verwag jy sal wen?
Ek het glad nie eers daaraan gedink nie. Ek neem aan kompetisies deel eintlik vir die ervaring van optree voor ’n gehoor, so wen was beslis nie my verwagting of dryfveer nie, en ’n lekker verrassing!
Watter kategorieë het jy gewen, en wat was jou totale prysgeld?
Ek het die kategorie 19 jaar en jonger gewen, beste uitvoering van ’n moderne werk, en dan ook die algehele wenner; wat my in totaal R44 500 in die sak gebring het.
Wat gaan jy met die prysgeld doen?
Dit word gespaar vir toekomstige musiek-planne!
Hou jy van ander soorte musiek behalwe klassieke musiek ook? Wat was die laaste musiek wat jy gekoop het?
Ek hou ook baie van jazz en R&B, en ek kan nie onthou wat ek laaste gekoop het nie; dit was seker ‘n R&B album!
Wat is jou droom vir jouself?
Ek wil my Meestersgraad en doktorsgraad verwerf en uiteindelik ‘n konsertpianis en ‘n musiekprofessor word.