Op die lowergroen grasperk van Rust en Vrede Versnit ons weer saam
Om te Versnit is om te gee. Gewoonlik is ’n versnit ’n fyn vermenging van verskillende druiwe kultivars om tussen die beste variante ’n nuwe smaak sensasie te skep. Maar dan is daar Versnit, ’n jaarlikse vermenging van die beste Afrikaanse kunstenaars, die beste geselskap op die lowergroen grasperk van die beste wynplaas, alles vermeng met ’n glasie van die beste wyn.
Oor die nege jaar van Versnit het daar ook ’n nuwe werkwoordvorm ontstaan. Nou se dae beteken “om te Versnit” ook om om te gee. Omgee vir minder bevoorregte Afrikaanse jongmense sodat dié met potensiaal met studiebeurse gehelp kan word om ook hul beste te kan bereik.
Versnitvriende het soos gewoonlik op Saterdag, 18 Januarie 2020 by Rust en Vrede ’n musiek-piekniek van formaat gehou. Die wind het gewaai en die nuus dat dit ook in die Karoo reën het dié klein ongerief mooi in perspektief gestel. Met die gewaardeerde ondersteuning van Jean Engelbrecht van Rust en Vrede en Lexus kon Versnit 2020 suksesvol plaasvind.
Suksesvol nie net omdat dit weer ’n uitsonderlike geleentheid was nie, maar ook omdat Versnitvriende hul harte oopgemaak het met noemenswaardige skenkings aan Atterbury Trust, sodat nog meer studente in die toekoms gehelp kan word. Alles in die gees van om te Versnit.
Die vertonings van ons land se heel beste Afrikaanse kunstenaars was iets om te aanskou… en te hoor. In die laaste middagstrale en vroeë aandgenot het Stef Bos, Corlea, Ruhan du Toit, Elvis Blue, Roan Ash en Riana Nel betower deur sang en gees. Hierdie aand van musiek, wyn, samesyn en omgee het gesmelt in ons harte… van genoegdoening.
Versnit vereer elke jaar een spesiale mens wat oor baie jare heen hul merk op ons gemoed gelaat het. Hierdie jaar was dit Koos Kombuis se beurt. Compére Johan Badenhorst het André le Roux du Toit, of later sommer André Letoit en toe Koos Kombuis se storie agter die bult gaan haal en vertel van sy Lloyd Ross / Shifty Records dae, sy Voëlvry toer en sy liefde. Liefde vir musiek, liefde vir Afrikaans en liefde vir sing en dig.
Op sy beurt het Stef Bos vertel van hoe hy amper terloops Kombuis oor die draadloos in België “ontmoet” het toe hy sing van “Onder in my Whiskeyglas”. Bos en Kombuis het later wel in die regte lewe ontmoet, vriende geword en tydens Versnit saam vermaak. Net soos hulle twee kan.
Toe Koos grappenderwys oor sy spesiale Versnittoekenning ’n pittige kwinkslag kwytraak, besef al die Versnitters weer wat ’n voorreg dit is om te kan omgee, in die skyn van die maan met die wind wat huil in die nuwe somermaand met ander wat ook meegesleur word op die maat van die mooiste Afrikaanse klank.
Om sy kort toespraak te open oor die waardering wat hy het om die 2020 Versnittoekenning te kan ontvang, skerts Kombuis goedhartig só met een van baie rugbylegendes wat gemaklik op die grasperk sit-lê en luister: “Ek voel nou soos Schalk Burger wat gereeld vir die ref moes sê: Nou’t jy my ontkant gevang.”
So voel baie van ons wat aan die begin van die jaar ook so half ontkant gevang word deur die skielike snel pas ná Desember se lomerigheid.
Die Koos-vertoning, alleen en saam met sy Bos-vriend was ’n hoogtepunt. ’n Legende op die gras saam met die nuwe jongspan van die toekoms. Almal aan die regte kant van omgee.
Hier, by Versnit, vind ons aanklank. By mekaar, met ons taal, ons medemens, ons besef wat potensiaal kan doen as dit ontgin word en al is dit swaar, hoe ons elkeen kan baat vind by gee en ontvang, ons leer weer van van nederigheid en van genot, ’n oorvloed van emosie in Stellies, die dorp van ons geluk en ook dalk dié van ons toekoms, as mede-reisigers op die wenpad, met ons ligte aan in die donker uur.
Om te Versnit. Wat ’n voorreg is dit nie.
As jy ook ’n bydrae wil maak in die gees van om te Versnit, gebruik hierdie skakel, want ons weet jy gee ook om: https://atterburytrust.org/skenk-nou/