Die pas afgeloopte Boekejol en Filmrolfees was omtrent ’n plesier vir Pretoria se boekwurms. Ons gesels met organiseerder Dia van Staden.
Hoe het die fees afgeloop?
Die fees het ‘n groter aantal skrywers en aktuele kenners ingesluit as die vorige twee jaar. Die kwaliteit van deelnemers en gesprekvoering was van hoogstaande gehalte. Ek sou graag baie meer mense by die fees wou gehad het. Ons moet egter onthou, BoekeJol is ‘n stadsfees, baie mense werk en daar moet slim gedink word om hulle ook te betrek by die fees.
Wat het jou verras omtrent vanjaar se fees? Was daar ‘n onverwagse treffer?
Twee van die treffers was die eerste besoek van Antjie Krog en Etienne van Heerden aan BoekeJol. Die deelname van die leeskringe van Pretoria was ‘n lieflike toevoeging tot die inhoud en van die program. Ek het vanjaar ook die wonderlikste hulp van studente gehad; die Atterbury Trust se beursstudente, en nog ander van Akademia het van vroeg tot laat die emosies lig gehou. Daar is hard gewerk, maar genoeg gelag ook. Dit was ‘n voorreg om dié hardwerkende jongmense in aksie te sien. Hulle maak my opgewonde vir ons toekoms! En hulle lees!
Som vir ons die Boekejol in getalle op: hoeveel skrywers, nuwe boeke, boekpraatjies, en persele gebruik?
Meer as 60 skrywers het deelgeneem en die oorgrote meerderheid boeke wat in die program ingesluit was, is dié wat gedurende hierdie jaar die lees- en boekrakke laat kreun het. Ons het byna 50 boekbesprekings oor die drie dae van die fees gehou waar die publiek die geleentheid gehad het om die skrywers van nader te leer ken. Ons program is by vier verskillende persele aangebied: Atterbury Teater, Citadeli by Citadel, City Lodge Hotel en Alkantrant biblioteek.
Wat was die gewildste aktiwiteit/praatjie?
Die bekendstelling van Etienne van Heerden se nuwe kragtoer, Die Wêreld van Charlie Oeng by die Atterbury Teater, het baie aandag getrek. Die leeskringe van Pretoria het dit aangebied, en dit het baie goed gewerk – ek sien daarna uit om die samewerking met leeskringe uit te brei. Die digmarathon waar digters soos Antjie Krog, Bibi Slippers en Andries Bezuidenhout deelgeneem het, is weer uiters suksesvol deur Alwyn Roux gefasiliteer. Vrydagaand se vertoning met Helen Zille in gesprek met Marietta Kruger oor haar nuwe boek, “Not without a fight” met musiek deur Gloria Bosman en Anna Davel was ook fenominaal.
Wat het jy dié slag anders gedoen as die vorige jaar? En hoe het dit gewerk?
Die program is uitgebrei, maar my bemarking het die kwaliteit van die betrokke skrywers, gesprekleiers en temas nie sterk genoeg en vroegtydig genoeg bekendgemaak nie. Ons het minder kaartjies verkoop as verwag. Ek het huiswerk om te doen.
Het jy enige lesse geleer wat jy volgende jaar gaan toepas?
Die feit dat daar potensiaal is om ons talentvolle skrywers op ‘n Pretoria-platvorm bekend te stel, moet beter bemark en aangevuur word. Die bekostigbaarheid van die kaartjies sal altyd ‘n prioriteit bly en daarom is daar nie gekarring aan die goedkoop kaartjiepryse nie. Ons sal dit volgende jaar weer so doen. Skole kan ook soveel baat by die insiggewende gesprekke en liefde vir Afrikaans onder ons jongmense kan tot ‘n groter mate gekweek word. Ek sal ook werk aan my netwerke onder passievolle Afrikaanse onderwysers.
Is jy spyt oor enigiets wat jy wou doen maar nie kon nie?
Ek kon as gevolg van die vol program nie met elke skrywer en besoeker kuier of ten minste gesels nie. Ek het dit gemis en dit is een van die kerneienskappe van BoekeJol – persoonlike kontak. Ek wil dit nie weer toelaat nie. Beplanning, beplanning, beplanning! Die BoekeJol-belonings sal gedurende volgende week aangekondig word.
Wat is die lekkerste terugvoering wat jy gekry het van die publiek en van enige van die deelnemers?
Hier is ‘n paar: Bettina Wyngaard: “Boekejol is die tipe fees wat verdien om goed ondersteun te word. Wat gehalte en verskeidenheid betref, staan hulle beslis vir geen ander fees terug nie.” Dia, ek haal my hoed af vir jou. BoekeJol gaan net van krag tot krag. Ek is werklik beindruk met die gehalte van die gesprekke, die musiek, die als! Uitstekend. Hierdie fees het ‘n ‘feel-good’ atmosfeer wat die groter feeste net verloor het. Baie geluk met ‘n stunning fees!”
Dr Eben Cruywagen: “Mag hierdie baie belangrike bydra wat julle lewer tot die kreatiwiteit van ons mense groei van krag tot krag!”
Chris Broodryk: “Dit was opwindend en leersaam om saam met julle ‘n verhoog te kon deel. Dia, baie dankie vir die geleentheid!”
Koko Khumalo skryf: “I truly loved and enjoyed the moment spent with all of you last Friday. Thank you. Thank you for the invite. Much appreciated.”
Etienne van Heerden: “Ek het dit regtig baie geniet, en als het eksie-perfeksie verloop.”
Op watter deel van die fees is jy die trotsste?
Ek is trots op ‘n span vrywilligers wat ongelooflik hard gewerk het, baie stampe en stote gevat het as gevolg van die vol program, maar altyd vriendelik, professioneel en hulpvaardig was. Die fantastiese deelnemers, van skrywers, gaste, sprekers en gesprekleiers, wat soms voor ‘n handjievol mense gesit en gesels het, het dit met uitnemendheid gedoen. Die inligting was fenomenaal. Die volgehoue energie was tasbaar en ek is dankbaar vir so ‘n netwerk van getrouheid en toewyding.
Waar sien jy die fees oor vyf jaar?
Die BoekeJol- en FilmRolfees se doel is nie om enige groot kunstefees te oortref of te word nie. Dit is belangrik om dit intiem te hou met meer kwaliteit as kwantiteit. Oor vyf jaar hoop ek dat ons steeds erkenning kan gee aan ons beste skrywers en kenners op verskeie gebiede. Die Atterbury Trust was vanjaar se borg en hul volgehoue ondersteuning van taal, kultuur en mense sal altyd bydra tot die kwaliteit van die fees.
Hoe het die FilmRol-gedeelte verloop – enige planne om dit uit te brei volgende jaar?
Daar is vanjaar drie rolprente vertoon: Tess, Abraham en Die Rebellie van Lafras Verwey. Die rolprente is deur klein groepies geniet en die terugvoer was bevredigend. Die FilmRol-gesprek was ‘n wonderlike aanbieding met ‘n string van die bestes wat ons filmbedryf bied: Leon van Nierop, Henriëtta Gryffenberg, Berdene Burger, Piet de Jager, Fanie Viljoen, Chris Broodryk en Dawie de Jager. Verskeie relevante temas is met kundigheid bespreek. Leon van Nierop se opmerking na afloop van die geleentheid: “Sulke gesprekke moet meer gereeld geskied.”