As deel van ons moedermaatskappy se verkenning van die Oos-Europese mark, het Gideon Oosthuizen, een van Atterbury Europa se direkteure, al baie interessante reiservarings gehad. Hy vertel ’n staaltjie oor sy eerste besoek aan Bratislawa, die hoofstad van Slowakye…
“Ek het in Oktober 2013 in alle erns begin met die proses om die mark in Oos- Europa beter te verstaan. Omdat dit redelik naby is aan Wene, was Bratislawa redelik maklik om te besoek en ek het dit gou ingepas saam met een van die ander besoeke. So het dit gebeur dat ek die eerste keer dat ek in Bratislawa was, per trein daar aangekom het, van Wene af. Ek klim toe by die hoofstasie af en soek ’n taxi om my na my hotel te neem, wat naby aan die historiese distrik, die sogenaamde ‘Old Town’, geleë was.
“Oudergewoonte is mens maar effens versigtig as jy die eerste keer ’n nuwe stad besoek, veral in die voormalige Oosblok lande. Die stories loop soms maar oor hoe mens ingedoen kan word, en ’n mens se persepsies oor die streek is gevorm en beïnvloed deur ons grootwordjare, en die feit dat dit ’n wêreld verwyderd was van alles waaraan ons gewoond was.
“Ek klim dus in die taxi en groet skaars voor ek die adres gee en dadelik vra: ‘How much, you think?” Ek het toe reeds geleer dat Engels nie juis die taxibestuurders in die streek se sterk punt is nie, so geen lang, ingewikkelde sinne vir my nie. ‘It will be approximately 25 Euros, Sir!’ kom die flinke antwoord in verbasend goeie Engels. En daar ry ons. Die man vra my waar ek vandaan kom, ek sê Suid-Afrika, en hy vra wat maak ek daar, en ek sê ons maatskappy is besig om in Oos-Europa uit te brei en ek reis deur die streek met die doel om ’n gevoel te kry vir die stede en of daar geleenthede vir ons kan wees.
“Toe vat die man vlam! Hy begin my alles van Bratislawa vertel, hy ry kruis en dwars en wys my dit en dat; al die toeriste-aantreklikhede, maar ook die uitleg van die stad, waar is die besighede, waar bly die mense, watter openbare vervoer gebruik hulle …. hy gaan net aan en aan. Ek hou my een oog op die metertjie en sien ons trek naderhand al oor 40 Euro, maar ek sê liewer niks; ek voel dat die toer die geld werd is, en as die ou my vir ’n ride vat (letterlik) dan doen hy dit met soveel oorgawe dat ek hom maar sal vergewe. Toe die taxi se meter 50 Euro slaan, stop hy voor my hotel. Hy vroetel skielik met die knoppies en stel die meter terug na 25 Euro – soos hy vooraf gesê het dit sal wees – draai om en sê met ’n groot glimlag: ‘That will be 25 euros, Sir, and I hope your business venture in Bratislawa will be very successful!’
“Nou ja, as dit mens nie ’n goeie indruk van ’n plek gee nie, wat sal? So het een man se entoesiasme bygedra om my persepsie van Bratislawa, en sommer ook die hele streek, positief te help vorm. Net soos Atterbury, is hulle oop vir besigheid!”