’n Nuwe akademiese jaar bring blink nuwe Atterbury Trust beurstudente na vore … en watter voorreg om te weet ons speel ’n rol om ’n veelsydige, toegewyde student met agt onderskeidings in matriek op die pad te sit om sy droom na te jaag – om ’n dokter te word, en mense te kan help. Ons het met die briljante 19-jarige Gareth Lubbe van Affies gesels op die vooraand van sy eerste jaar by Tukkies
Baie geluk met jou uitstekende matriekuitslae! Het jy dit verwag? Hoe het jy voorberei?
Dankie! Kyk, my plan was om so goed moontlik te presteer, maar die uitslag was steeds ’n aangename skok! Dis eerlikwaar alles te danke aan die ure se moeite en ondersteuning van my onderwysers en ouers; maar bowenal deur genade…
Ek het regdeur die jaar hard geleer en elke toets gesien as ’n geleentheid om die werk op alle vlakke te leer ken. Ek het ook probeer om elke dag te werk, maar die beste vorm van voorbereiding was om ou toetse te doen, en hersiening. Dit het veral in wetenskap goed gewerk waar ek ’n finale punt van 97% behaal het.
Was medies altyd bo aan jou lys van studierigting-wense?
Dit kom al vanaf Graad 9 toe ons die menslike liggaam in biologie behandel het – ek kon van toe af nie genoeg van anatomie en fisiologie kry nie. Toe ek klein was wou ek altyd ‘n wetenskaplike word. My ouers moes vir my Stephen Hawking se boeke koop en ek het my Graad 4-juffrou gesmeek om vir my Einstein se e=mc2 formule te verduidelik! Vir ’n rukkie wou ek ook ‘n veaarts word nadat ’n vriend se ma ons op ’n toer van Onderstepoort gevat het. My ouers moes vir my diere-organe by die slaghuis koop om te dissekteer. Dis te danke aan my ouers, wat my altyd in alles ondersteun het, dat ek vandag kan swot om ‘n dokter te word.
Ek het finaal geweet dis my rigting toe ek by my tannie in die plastiese chirurgie-eenheid by Robert Mangaliso Staatshospitaal in Kimberley gaan “shadow” het. Wat my die meeste getref het was die pyn en lyding van behoeftige pasiënte en die frustrasie van dokters wat hul bes probeer om met gebrekkige hulpbronne mense te genees. Ek het daar besef dat ek as dokter nie net ’n impak op mense se lewens sal kon hê nie, maar ook die kans sou hê om ons land te verbeter. Ek het my roeping gevind.
Wat sou jy gedoen as jy nie keuring gekry het nie… ons weet hoe bitter min plekke daar is?
Ek sou nie opgegee het op my droom om ’n dokter te word nie. As ek nie keuring vir MbChb gekry het nie sou ek BSc Biologiese Wetenskappe gaan swot het en na die eerste semester probeer oorskuif na medies/MbChb soos wat ’n handvol studente doen.
Vertel ons iets omtrent jou gesin – wat doen Ma en Pa, is daar broers en susters en waar pas jy in?
My ouers gee beide onderwys by arm laerskole in die weste van Pretoria – my pa by Laerskool Generaal Nicholaas Smit en my ma by Laerskool Booysens. My pa is een van die stigterslede van Kairos en hy’s betrokke by talle liefdadigheidsprojekte in Pretoria-Wes. Sy omgee en bemoeidheid met mense het my begeester om ’n dokter te word. My ma het ’n sterk persoonlikheid en is een van die slimste mense wat ken. Sy het dit reggekry om uit baie moeilike omstandighede te ontsnap en ’n goeie lewe vir haarself te bou. Sy het my geleer dat, ongeag hoe moeilik die lewe mag raak, mens nooit moet opgee nie. Ek het ook ’n jonger sussie in Graad 11 by Affies Meisies.
Vertel ons hoe jy by die Atterbury Trust beursprogram uitgekom het.
Ek het deur die Triomf Kliniek daarvan gehoor – soos ek genoem het is ons gesin baie betrokke by die gemeenskap en die grootskaalse impak wat die kliniek op mense se lewens het, het my geïnspireer. Daarom het ek probeer om op een of ander manier by Atterbury Trust betrokke te raak. Die hoof by my pa se skool het ons ook later aangeraai om by die beursprogram aansoek te doen. Ek het vir talle ander beurse ook aansoek gedoen, en as nie een hiervan uitgewerk het nie sou ek waarskynlik ’n studentelening probeer aangaan het.
Ons hoor jy is was ook baie bedrywig op buitemuurse gebied… vertel meer? Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek was deel van die Affie koor en ook ons skool se sêr-groep, die A-mineure. Verder het ek openbare redevoering/redenaarskuns gedoen en was in twee produksies van Affies Meisies – Beauty and the Beast en Sneeuwitjie. Ek het ook aan verskeie kunswedstryde deelgeneem, insluitend ons skool se eie Affie-Artes en die Pretoria Kunswedstryd. Daar was ook talle olimpiades buite skoolverband en ’n klompie kreatiewe skryfkompetisies. Een van my interessantste buitemuurse aktiwiteite was Moot Court/Skynhof: ’n kompetisie waarin leerders kon deelneem aan ’n hipotetiese hofsaak.
Ek lees en skryf graag; veral opstelle oor kontemporêre kwessies wat ek glo in die openbare belang is. Verder help ek ook my pa met sy liefdadigheidsprojekte.
Waarna sien jy die meeste uit wat die studentelewe betref?
Al die uitdagings wat voorlê! Universiteit gaan my op alle vlakke uitdaag – ’n ideale geleentheid vir persoonlike groei. Ek sien ook uit daarna om met ander kulture, denkwyses en opinies in kontak te kom sodat ek my eie denkpatrone kan aanpas en verbreed. En natuurlik sien ek ook uit na meer onafhanklikheid, wat mens se verantwoordelikheidssin sal versterk.
Daar word geweldige druk op mediese studente geplaas wat werk-las betref… dink jy mens kan daarop voorberei, en indien wel, het jy ’n spesifieke plan om by te bly?
Dis nie net moontlik om vir die werkslas voor te berei nie, maar noodsaaklik. Ek het klaar ’n plan opgestel wat gebaseer is op die raad van ’n aantal dokters en mediese studente; en ek het ’n aanlyn- voorbereidingskursus van Tuks vir nuwe studente voltooi. Ek gaan ten volle van die universiteit se ondersteuningsraamwerk gebruik maak om my akademies, fisies en geestelik by te staan. En ek sal wyd raad vra as ek voel die werkslading raak net te veel.
Het jy ’n spesialis-droom, of weet jy nog nie watter mediese rigting jy eendag wil inslaan nie?
Nog nie, ek weet net ek wil definitief spesialiseer. Ek sal die veld kies na gelang van die behoeftes van Suid-Afrikaanse pasiënte en my eie vermoëns.
Wat beteken die Atterbury Trustbeurs vir jou? Hoe sou jy potensiële skenkers inspireer om by te dra tot die beursfonds?
’n Ekonoom sal sê dat ’n mens geld belê om later meer geld terug te kry. Uit daardie oogpunt maak dit meer sin om in ’n besigheid te belê as in ’n mens. Maar ek glo mens belê geld uit hoop: die hoop vir ’n beter lewe vir jouself, jou familie, jou land en selfs die hoop vir ’n beter wêreld. En vir enigiemand wat nog hoop is die beste belegging ’n student, want ons vat hoop en skakel dit om in realiteit. Al wat ons benodig is die regte gereedskap en met ’n skenker se bydrae kan ons dit aanskaf.
As jy so daarna kyk is die Atterbury Trustbeurs ’n geleentheid wat ek gekry het om my drome waar te maak en om op my eie manier ’n beter toekoms te skep vir ons wêreld. Die beurs het ook aan my bewys dat finansies nie ’n beperking op mens se drome moet plaas nie en dat daar steeds mense is wat omgee oor die jeug.
Mens kan dit nie beter uitdruk as Gareth nie!. As jy wil belê in hoop vir ons land se toekoms, maak gerus ’n bydrae tot Atterbury Trust se beursfonds, en kry ook die belastingvoordeel van ’n Artikel 18A-sertifikaat. Kliek hier om meer uit te vind.