Riaan du Plooy is die adjunkhoof VAN Solidariteit Helpende Hand se nasionale strukture. Die organisasie beywer hom vir gemeenskapsontwikkeling en – opheffing deur 124 vrywilliger-gedrewe takke landwyd wat werk volgens die beginsel van opheffing deur opleiding. Saam met Atterbury en ander hulporganisasies word daar nou saamgespan om die gemeenskapsentrum in Booysens ’n werklikheid te maak.
1. Wie is Riaan agter die skerms?
Ek woon in Wierdapark, is getroud met die liefde van my lewe, Riana, ’n onderwyseres, en het 15-jarige tweelingseuns Johan en Estiaan.
2. Skets vir ons jou agtergrond?
Ek het aan die Wes-Rand grootgeword, by die destydse RAU my grade verwerf in onderwyskunde, en was voorheen ’n sportadministreerder in die voormalige Bophuthatswana en ook ’n skoolhoof in KZN, waar my paaie gekruis het met die van Solidariteit Helpende Helpende Hand.
3. Jou werk in ’n neutedop?
Dit is my voorreg om eerstehands die honderde goed-doen-goed-voel, lewensveranderende projekte wat ons vrywilligers in hul gemeenskappe uitrol, te evalueer en te monitor. Ek is ook aan die hoof van die organisasie se landswye skenkingskantore en gemeenskapsentrums.
4. Vertel ons van Ons Plek, op wie se model die nuwe gemeenskapsentrum in Booysens geskoei gaan word.
Omtrent ’n jaar gelede is ’n groot anonieme skenking aan Helpende Hand gedoen met die bepaling dat dit vir ’n spesifieke Afrikaanse gemeenskap in die Strand, Wes-Kaap, aangewend word. Ons het saamgespan met die Voortrekkers en die gemeenskapsentrum is op hulle terrein gevestig. Ons Plek het op 19 Januarie 2015 oopgemaak en maak reeds ’n merkbare positiewe verskil in die lewens van die kinders in die gemeenskap.
5. Hoekom spesifiek Booysens?
In Pretoria-Wes is daar al jare lank ’n behoefte aan ’n gemeenskapsentrum, vra maar vir enige gemeenskapwerker in die omgewing, veral Dr. Dawie Theron van Eleos, Ds. George Nel van die NGK Booysens en Mariana Kriel, Helpende Hand se Streekorganiseerder vir Gauteng-Noord. Die Booysens Gemeenskapsentrum sal bestuur word op die selfde breë beginsels as die “Boys and Girls Club of America” waar betekenisvolle verhoudings gebou word tussen rolmodel-volwassenes en milieugestremde kinders en jongmense. Ons beoog om ’n positiewe bymekaarkomplek te skep waar almal wat ’n verskil in iemand se lewe wil maak dit in ’n geborge ruimte kan kom doen.
6. Hoe gaan Pretoria se sentrum verskil van, en ooreenkom, met Ons Plek?
Albei gebruik ’n model van opheffing deur opleiding, gefokus daarop om die gesin en gemeenskap te herstel en die siklus van armoede te verbreek. Ons Plek Strand fokus tans op die Afrikanerkinders wat in die naburige informele nedersetting woon – eerstens poog ons om te verseker dat elke kind wel in die skool is, en tweedens verskaf ons ’n veilige plek waar hulle na skool kan tuiswerk doen, en ekstra klasse en verrykingsprogramme kan bywoon. Ons werk saam met die maatskaplike dienste en die plaaslike skole, en die vrywilligers wat ondersteuningsprogramme aanbied word gekies om ons Christelik-Westerse waardestelsel uit te bou. In Pretoria gaan ons ook werkskeppingsprojekte en vaardigheidsopleiding vir werkloses en jong volwasssenes aanbied. Ons moet die befondsingsmodel nog skep, maar ons het soveel wonderlike weldoeners in Pretoria dat dit ’n lekker uitdaging is.
7. Watter lesse het julle met Ons Plek geleer wat hier toegepas kan word?
Dit is belangrik om die mense in wie se gemeenskap jy wil werk, in te sluit van die begin af. Hulle weet die beste wat hulle nodig het, en as hulle geken word in besluite, neem hulle eienaarskap. Mens moenie mense se begeerte om goed te doen onderskat nie. Daar is baie in ons gemeenskap wat graag vrywillig wil help. Ons moet hulle net vind en aan die werk sit.
8. As jy drie bekendes ’n paar tipiese Suid-Afrikaanse belewenisse kon laat geniet, wie sou dit wees, en wat sou jy met hulle doen?
Ek sou graag saam met Shakespeare, skepper van soveel tragiese helde en tragiese dramas, op ’n hoë gebou in Johannesburg se middestad wou sit en kyk na die tragiese tonele van erge armoede en morele verval. Ek wil sien wat hy sou skep uit die sinnelose geweld en minagting vir lewe tydens rooftogte, protesoptogte, xenofobiese aanvalle, ensomeer wat ’n daaglikse verskynsel in ons land geword het.
Ek sou ook graag ’n uur se stille nostalgie oor die goeie ou dae wou deurbring saam met die 1995 SA Rugby Wêreldbekerspan, daar ver in die ou Kalahari, op ’n stil laat namiddag om ’n klein hardekool braaivleisvuurtjie, met ’n jakkals se roep en die rooi sonsondergang in die verte.
En derdens, Koos Du Plessis, met sy kitaar, saam met my oorlede pa en oupa aan die Transkeise Wildekus – die ongerepte natuur en magtige, kragtige see.
9. Gestel jy kon met Helpende Hand enige droomprojek saam met Atterbury aanpak, wat sou dit wees?
Ons sou ’n leersentrum van uitnemede gehalte bou vir volwassenes, waar ’n Afrikaanse matriek aangebied sou word vir mense wat nie hul skoolloopbaan kon voltooi nie. Of ’n buitemuurse sport- en kultuurkompleks, sentraal geleë in die weste van Pretoria, vir die gebruik van die gemeenskap in die omgewing.
10. As iemand dié storie lees en graag betrokke wil raak by die gemeenskapsentrum projek of selfs net in hul eie gemeenskap wil help, wat sou jy voorstel? Waar begin mens?
Deel jou gedagtes. Baie mense wil graag iets doen maar weet nie waar om te begin of presies wat om te doen nie en wag op iemand om net die eerste woord te spreek of die eerste tree te gee. Omring jou met mense wat dink soos jy dink en wil hê wat jy wil hê. Omring jou egter ook met mense wat slimmer is as jy, dit verhoog jou denkpatrone en kreatiwiteit. Sluit aan of ondersteun organisasies met wie se waardes jy kan vereenselwig. Gee die eerste tree. En as enigiemand spesifiek met die gemeenskapsentrum wil betrokke raak, kan hulle my kontak by [email protected], of 012 644 4390.