Atterbury Trust

Ons gee om

By Atterbury word sukses nie net gemeet aan die groei van eiendomsbates en pragontwikkelings nie, maar ook aan die groei van Suid-Afrika se belangrikste hulpbron – sy mense. ’n Kerndeel van ons besigheidsfilosofie is om terug te ploeg in die gemeenskap deur geleenthede te skep. Die Atterbury Trust is reeds met die stigting van Atterbury Property in 1994 in die lewe geroep, met die hoofdoel om die opleiding van Afrikaanssprekende behoeftiges te ondersteun.

Die Atterbury Trust ken beurse vir tersiêre studies aan minderbevoorregte studente toe. Die belangrikste kriteria vir die toestaan van hierdie beurse is finansiële behoeftigheid en geïdentifiseerde potensiaal. ’n Verdere doelstelling van die trust is om Afrikaanse skole en kleuterskole in minder-gegoede westelike voorstede van Pretoria finansieel te ondersteun met die instandhouding en opgradering van fasiliteite, asook met die subsidiëring van salarisse van onderwysers.

Ongeveer 730 studente van regoor Suid-Afrika het sedert 1999 beurse van Atterbury Trust ontvang. Die meer as 600 studente wat reeds hulle studies suksesvol voltooi het, lewer tans ’n bydrae tot die ekonomie van ons land as ingenieurs, ouditeure, onderwysers, regslui en in vele ander professionele rigtings.

’n Tweede doelstelling van die Atterbury Trust is die bevordering en uitbouing van kuns en kultuur. Die Atterbury Teater by Lynnwood Bridge in Pretoria is in Mei 2011 voltooi. Die teater het vanuit die staanspoor by die ontwikkeling van talent betrokke geraak deur middel van kwaliteitproduksies, asook die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie.

Die wyer gemeenskap word gedien deur die Triomfkliniek wat in 2014 sy deure geopen het. Daar is ‘n hele aantal vrywilligermedici van verskeie dissiplines betrokke en saam het hulle reeds aan meer as 4 000 behoeftige Afrikaanse mense gratis mediese sorg gebied. Atterbury Trust dra die operasionele kostes van die kliniek en befonds ook ‘n klinieksuster en administratiewe beapmte.

Terugploeg is ‘n voedselverskaffingsinisiatief wat sy oorsprong tydens die grendeltyd gehad het. Daar word op ‘n gereelde basis kos geskenk deur goedhartige boere en hierdie kos word op ‘n verantwoordelike en verantwoordbare wyse via liefdadigheidsorganisasies. Daar is reeds meer as 200 ton kos in die eerste jaar van Terugploeg uitgedeel – voorwaar hulp wat werk!

Word asseblief ’n donateur van die Atterbury Trust

Atterbury Trust is as ’n Publieke Voordeelorganisasie (public benefit organisation of PBO) geregistreer. Dit beteken dat donasies wat deur maatskappye en/of individue aan die Atterbury Trust gemaak word, belastingaftrekbaar is. (Lees meer hier.)

Die Atterbury Trust bankbesonderhede vir skenkings is onderaan hierdie bladsy.

Die sukseskoers van Atterbury Trust se studente is meer as 95%. Die infrastruktuur rondom werwing en talentidentifisering, monitering van akademiese vordering, mentorskap en lewensafrigting, sowel as die administratiewe funksies rakende beursbetaling, is oor tyd gevestig en verfyn. Ons lewer bystand met die fasilitering van vakansiewerk en werksgeleenthede vir gegradueerdes.

Die trust ondersteun tans ongeveer 130 studente wat aan universiteite regoor Suid-Afrika studeer. Gesien in die lig van die groot aantal aansoeke wat jaarliks deur ons ontvang word, kan ons soveel meer studente help indien daar meer fondse tot ons beskikking sou wees.

Dit is waarmee jy kan help

Ons doen vervolgens ’n beroep op jou om asseblief ’n skenking aan die Atterbury Trust te maak. Dit sal die trust in staat stel om nog meer studente te kan help.

Atterbury Trust beoog om vanjaar R1 Miljoen van eksterne donateurs in te samel. Dit is genoeg om vir ten minste tien bykomende studente beurse te kan gee.

Dit is jou geld, jy kan besluit wat ons daarmee doen

Maatskappye of individue wat skenkings maak is welkom om te bepaal in watter studierigtings hulle bydraes spandeer moet word. Ons onderneem om donateurs met gereelde nuus oor die akademiese en emosionele vordering van studente te voorsien.

Deur hande met ons besigheidsvennote te vat, kan ons ’n nóg meer betekenisvolle impak hê. Die Atterbury Trust se infrastruktuur is ook beskikbaar om werwing van studente namens ander firmas te doen. Sodoende word wyer toekomstige beurs- en werksgeleenthede vir behoeftige studente verseker. Groter betrokkenheid van die breë sakegemeenskap by hierdie inisiatief word ook verder so bevorder.

Bankbesonderhede vir skenkings

Rekening Atterbury Trust

Nedbank 1497004187

Takkode 149745

’n Artikel 18 A-sertifikaat sal aan skenkers uitgereik word vir die belastingvoordele van ’n skenking.

PayFast skenkings

Deur middel van PayFast kan jy maklik aan Atterbury Trust skenk.

skenk nou

Untitled-1

Untitled-1

Untitled-1