Skip to content
Menu
0
Close Cart
Your cart is empty. Go to Shop

Wanneer passie vir bosveld groter doel kry

Vir baie Suid-Afrikaners is jag meer as net ’n stokperdjie en gaan dit oor tradisie, die natuur en kosbare tyd saam met familie en vriende. Maar wat gebeur wanneer hierdie passie ook ’n geleentheid word om terug te gee?

JagBoek™ het ontstaan uit ’n eenvoudige idee: om jag- en buitelugervarings meer toeganklik te maak. Die platform verbind mense met jagplase en bied geleenthede vir gesinne en vriende om die bosveld saam te geniet, hetsy deur jag, visvang, voëlkyk of ander buitelugaktiwiteite. “Die jaggemeenskap beteken vir ons saamkuier, stories deel en ’n liefde vir die natuur uitleef.”

Dit was deur GROOTfm 90.5 en Die GROOT Ontbyt dat die JagBoek™-span met Atterbury Trust se Terugploeg-inisiatief kennis gemaak het. Terugploeg werk daagliks daaraan om voedselnood te verlig deur voedselskenkings in te samel, te verwerk en aan organisasies en gemeenskappe in nood te versprei. Die fasiliteit bied ook vleisverwerkingsdienste, wat ’n besondere aanknopingspunt met die jaggemeenskap skep.

Vir JagBoek™ was dit ’n natuurlike vennootskap. “Ons glo dat jag en gemeenskap hand aan hand kan gaan. Ons wou ’n vennoot hê wat ons passie vir teruggee deel.”

Sedertdien het JagBoek™ reeds ’n gedeelte van die opbrengs van ‘n kliënteveldtog aan Terugploeg geskenk. Hulle help ook om bewusmaking oor Terugploeg se werk te skep en verwys navrae oor vleisverwerking na die fasiliteit. ’n Deel van hul KAP HOM!-biltongreeks word boonop deur Terugploeg hanteer.

Die JagBoek™-span het reeds eerstehands gesien hoe ’n eenvoudige vleisskenking ’n gemeenskap se sopkombuis vir ’n lang tydperk kan ondersteun.

“Die dankbaarheid en verligting op daardie mense se gesigte is iets wat ons nooit sal vergeet nie.” Dit is juis hierdie ervaring wat hulle graag met ander jagters wil deel. Dit hoef nie groot te wees nie. Selfs ’n enkele karkas of ’n paar kilogram vleis kan ’n gesin se week verander. Elke bydrae tel.”

JagBoek™ hoop om die samewerking met Terugploeg verder uit te bou deur teruggee ’n vaste deel van hul toekomstige projekte te maak en meer jagters en plaseienaars aan te moedig om betrokke te raak.

Hulle werk ook aan ’n nuwe inisiatief, EersteJag, wat daarop gemik is om kinders wat nie jagmentors het nie, of nog nooit die geleentheid gehad het om te jag nie, aan die bosveld en jagervaring bekend te stel.

Vir die span is die boodskap eenvoudig: “Jag is ’n voorreg, maar ook ’n verantwoordelikheid. As ons saamwerk, kan ons nie net die natuur en tradisie bewaar nie, maar ook ’n verskil maak in mense se lewens.”

By Atterbury Trust glo ons dat betekenisvolle verandering moontlik word wanneer mense hul hulpbronne, kennis en passie saamspan. Vennootskappe soos dié met JagBoek™ wys hoe iets wat mense reeds liefhet, ook ’n geleentheid kan word om ander te help.

Want soms begin omgee met iets so eenvoudig soos om te deel wat jy het.

Jou passie vir die bosveld kan ’n verskil maak.

Raak betrokke by Terugploeg: www.atterburytrust.org

Op soek na jou volgende bosveldavontuur?

Ontdek jag- en buiteluggeleenthede vir die hele gesin en leer meer oor JagBoek™ se inisiatiewe.

Ontdek JagBoek™: www.JagBoek.com