Nadat die Trust in 2020 die moeilike besluit moes neem om nuwe beurse vir die 2021 akademiese jaar tydelik op te skort en eerder eers seker te maak dat ons in staat is om die bestaande beursstudente steeds te ondersteun, was daar onlangs goeie nuus vir ’n klein handjievol beursaansoekers. Atterbury Trust se finansiële bestuurder, Ananja Koen vertel meer.

Wonderlike nuus! Hoe het julle dit reggekry?
In hierdie besonder uitdagende jaar het ons by die Trust eerstehands gesien hoe ons mede-Suid-Afrikaners die spreekwoordelike “boer maak ’n plan” uitleef. Danksy ruimhartige skenkers en medewerkers is ons tans besig om ’n splinternuwe Terugploeg-gebou op te rig waar ons sal kan werk skep; en danksy boere wat groente, vrugte en vleis skenk, kan organisasies mense in behoeftige gemeenskappe kosgee. Die vindingryke Atterbury Teaterspan het met die sluit van die teater verlede Maart met innoverende e-konserte begin, ’n karwas by Lynnwood Bridge geopen en ook die Hibernasie Stasie “pop-up shop” in die teaterfoyer ingerig, waarmee die teaterverlies vir die jaar beperk is.

Dis te danke aan al die individue en maatskappye wat kontant, dienste en goedere geskenk het, almal wat die Atterbury Teater ondersteun het, Trust alumni-beursstudente wat hul maandelikse terugbetalings getrou nakom en ook die wat hul terugbetalings verhoog het, en deurdat ons waar moontlik kostes besny het, dat ons gesien het dat ons wel ’n bedrag vir nuwe studentebeurslenings vir 2021 kon beskikbaar stel.

Hoeveel nuwe beurse het julle toegeken – en presies hoeveel studente is tans met julle hulp aan die studeer?
Ons kon 15 nuwe studentebeurslenings in 2021 toeken, en ondersteun dan in totaal vanjaar 132 studente. Tot op hede is daar 704 studente wat sedert 1999 hul tersiëre studies kon aandurf danksy die Trust se hulp.

Ons weet dis altyd moeilik om te kies, maar wat het vanjaar se klein handjievol gelukkige kandidate laat kwalifiseer vir die beurse? Wat het hulle in gemeen?
Die keuring is werklik een van die moeilikste take wat ons het, omdat die meeste van die aansoekers geen ander opsie vir befondsing het nie. Ons keuringsvereistes is baie streng weens die baie beperkte begroting: ons kyk hoofsaaklik na finansiële behoeftigheid, akademiese prestasie  en veelsydigheid, asook studierigting.  Dit is vir ons baie belangrik dat ons Afrikaanse studente keur wat ’n verskil in ons land se toekoms gaan maak en dat hul in staat sal wees om na afloop van hul studies ’n goeie werk te kry. Wat vanjaar se kandidate in gemeen het, is hul veggees om nie op te gee nie, ongeag hul omstandighede. Ek is in sommige onderhoude stomgeslaan deur die realiteit wat ons studente in die gesig staar en dat hul ten spyte van uitdagende omstandighede en finansiële druk steeds akademies uitstekend vaar, deeltydse werk doen om noodsaaklike kostes te dek en mens inspireer met hul positiewe ingesteldheid teenoor die lewe en sy uitdagings.

Hoe lyk die onderverdeling van kursusse en instansies met die nuwe beursstudente, en hoe lyk die geslagverdeling vanjaar?
Die vroulike geslag lei met nege teenoor ses; en daar is drie mediese en vier onderwysstudente, twee doen B Com, en een elk ingenieurswese, aptekerswese, veeartsenykunde, argitektuur en LLB. Die meeste van hulle  – vyf – swot aan Universiteit van Pretoria en die ander is tussen Universiteit van Stellenbosch, Noordwes Universiteit, Universiteit van Witwatersrand, Sefako Makgatho Mediese Wetenskappe Universiteit, Aros en Akademia.

Hoeveel het julle jaarliks nodig om die beursprogram aan die gang te hou?
Die gemiddelde koste per student beloop tans R49 600 per jaar en die begrote uitbetalings aan ons aktiewe studente vir 2021 is ongeveer R5.1 miljoen. Die uitbetalings word grotendeels befonds deur ons alumnistudente se maandelikse terugbetalings en bydraes van donateurs. Daar is tans 324 alumnistudente wat maandeliks moet terugbetaal aan hul rentevrye studentebeurslenings – dit dra by tot die volhoubaarheid van die Atterbury Trust en stel ons in staat om meer studente te help.

Hoe kan mense wat kan help, skenk? Wat is die opsies?
Skenk gerus aanlyn by ons Donasiewinkel https://atterburytrust.org/donasiewinkel/ – jy kan daar kies watter projek jy wil ondersteun. Ons bankbesonderhede is op die webtuiste beskikbaar https://atterburytrust.org/. Alle donasies kwalifiseer vir ‘n Artikel 18A sertifikaat wat aftrekbaar is vir belastingdoeleindes.