Atterbury Trust en Screen Her Save Her bied in Juniemaand ’n spesiale kliniek aan om aandag te vestig op weerbaarheid teen borskanker. Atterbury Trust studente- en projekkoördineerder Danelle Strydom en Atterbury Trust alumnus Linda Coffee vertel meer.

Vertel ons meer van die veldtog, hoe het Atterbury Trust betrokke geraak?
Danelle: Een van Atterbury Trust se alumni is betrokke by die Screen Her Save Her-inisiatief en sy het ons genader. Dit was ʼn maklike besluit, aangesien dit soveel waarde toevoeg tot ons vrouekliniek by Triomf.

Screen Her Save Her se mobiele eenheid “Dolly” reis deur die land om mammogramme toeganklik te maak vir alle vroue in Suid-Afrika. Ons het besluit om “Dolly” by Atterbury Property se Castle Gate winkelsentrum te plaas wat lekker sentraal in Pretoria is – dit gaan juis daaroor om dit vir die publiek maklik te maak.

Wat sê die statistiek oor borskanker in Suid-Afrika? En in watter mate is dit voorkombaar/behandelbaar?
Danelle: SHSH sê borskanker is die algemeenste kanker onder vroue van alle rasse, met ’n leeftydrisiko van een uit 27 in Suid-Afrika. Die risiko vir borskanker neem toe namate vroue ouer word, maar baie vroue onder 40 word met borskanker gediagnoseer. Alle vroue loop ʼn risiko, en veral vroue met ʼn familiegeskiedenis daarvan. Mans kry ook borskanker, maar minder as 1% van alle gevalle wat jaarliks gediagnoseer word, kom by mans voor.

Mammogramme (’n spesiale X-straal om knoppe in die bors op te spoor), voorkom nie borskanker nie, maar dit kan lewens red deur dit so vroeg as moontlik op te spoor. Vroeë opsporing beteken ook dat baie meer vroue wat vir borskanker behandel word, hul borste kan behou. Vroeë opsporing van borskanker bied meer behandelingsopsies, insluitend meer konserwatiewe chirurgiese ingryping, en ’n beter lewenskwaliteit en oorlewingsyfer.

’n Vergelykende studie van vroue wat mammogramme ontvang het teenoor dié wat nie getoets is nie, het gewys dat 75% van kwaadaardighede in die vroeë stadiums met mammogramme gevang word, wat tot ʼn vermindering van byna 30% in sterftes ly.

Hoe gereeld moet mens ’n mammogram ondergaan?
Danelle: Voor 40 behoort alle vroue elke maand ’n selfondersoek te doen, van jongs af moet jy bekend wees met wat normaal is vir jou sodat jy enige verandering kan optel. En na 40 behoort ons behalwe die maandelikse self-ondersoek elke jaar vir ’n mammogram te gaan. 

Vertel ons meer van die goeie werk wat Screen Her Save Her met hulle mobiele eenheid doen.
Danelle: SHSH se mobiele eenheid doen meer as 2 000 mammogramme per jaar regoor Suid-Afrika. Baie hiervan word verskaf aan vroue wat nie hierdie diens kan bekostig of toegang daartoe het nie.

Die mobiele eenheid reis na verskeie provinsies waar toegang tot mammografie beperk of nie beskikbaar is nie. Van die dorpe wat hulle al besoek het, sluit in Komatipoort, Malelane, Hoedspruit, Phalaborwa, Mokopane, Lephalale, Modimolle, Kathu, Langebaan, Malmesbury, Oudtshoorn, George, Plettenbergbaai en Jeffreysbaai.

Elke vrou wat vir ’n mammogram kom, ontvang ook ’n selfondersoekgids en word aangeraai om dit een keer per maand te doen. ’n Bors-selfondersoek vervang nie ’n mammogram nie, maar kan ’n vrou help om veranderinge in haar borste vinnig te identifiseer en mediese advies te kry.

En in die geval  ʼn positiewe diagnose is die span van Screen Her Save Her daar om die pasiënt te ondersteun.  Elke pasiënt se pad vorentoe verskil en SHSH probeer sover moontlik die vroue bystaan en seker maak hulle begin so gou as moontlik met hulle behandelingsreis.

Die impak van ’n borskankerdiagnose is lewensveranderend en daar word nie altyd genoeg aandag gegee om die pasiënte holisties te ondersteun nie. Screen Her Save Her verskaf hierdie ondersteuning deur ’n netwerk van ambassadeurs, vrywilligers en vennootskappe wat die nodige bronne en tyd verskaf.

Linda, jy is ’n inspirasie wat self borskanker deurleef het. Hoe lank gelede was dit, en hoe het jou diagnose gebeur? Wat kan jy deel omtrent jou behandeling?
Ek is in September 2021 op die ouderdom van 31 met drieledige negatiewe borskanker gediagnoseer.  Ek het geen ander simptome, behalwe ’n knop in my bors gehad nie. Later het ek besef dat die erge moegheid wat ek ervaar het, wel ’n simptoom was.

As werkende mamma van ’n amper eenjarige het ek gedink om so moeg te wees, is normaal. ’n Maand na my man aanvanklik die knop gevoel het, het ons dit weer opgemerk en dit het amper verdubbel in grootte. Op daardie stadium het ons besluit dat ek vir verdere ondersoek moet gaan.

My behandeling het ses maande se chemoterapie, ’n dubbele mastektomie en 25 bestralingsessies ingesluit. Dit was amper ’n jaar van ons lewe wat net aan die stryd teen my diagnose toegewy is.

Die stryd teen borskanker is soveel ’n fisiese as emosionele stryd. Dit is moeilik om met jou sterflikheid gekonfronteer te word. 

Wat is jou status nou, en wat doen jy nou anders as voor jou diagnose?
Linda: Ek is September 2022 kankervry verklaar. Ek gaan elke drie maande vir ’n opvolg met die onkoloog. Die eerste vyf jaar is krities.  Ek is verder dan ook besig om die pad van rekonstruksie na die mastektomie te stap, wat sy eie uitdagings inhou. Natuurlik is ek nou baie ingestel op my gesondheid en om self-ondersoek gereeld te doen, om te voel vir enige iets wat nie daar moet wees nie.

Ek leef definitief meer bewustelik. Elke dag (selfs die slegte dae), is ’n seëning. Hierdie was ’n groot wake-up call vir my.

As iemand wat self daardeur is, wat is jou boodskap vir vroue hierdie bewusmakingsmaand? Is daar iets wat jy deur hierdie ervaring geleer het, wat jy wil deel?  
Ek was 31 toe ek gediagnoseer is, daarom is dit belangrik vir vroue vanaf ’n vroeë ouderdom om jaarliks hulle mammogram te kry. Hoe vroeër hoe beter. Early detection saves lives.

Screen Her Save Her se mobiele eenheid is van 19 – 27 Junie by die Castle Gate-winkelsentrum in Waterkloofrif, Pretoria. Om ’n afspraak vir ’n mammogram te maak, skakel 087 055 0587 (opsie 5) of bespreek aanlyn hier(https://calendly.com/ks-med/atterburytrust).  Mediese fondstariewe geld. Privaattariewe beskikbaar op versoek.