Skip to content

‘Jy hoef nie ’n expert te wees nie – jy moet net omgee’

Die groter Atterbury-familie dra die werk van Atterbury Trust na aan die hart, en baie spanlede raak op verskillende maniere betrokke. Een van hulle is Atterbury Property se ontwikkelingsbestuurder, Ruan van Rooyen, wat sy tyd beskikbaar stel as mentor vir beursstudente. Ons het met hom gesels oor waarom hierdie betrokkenheid vir hom so besonders is. 

Hoe lank is jy al by Atterbury Property werksaam?
Ek is nou al vier jaar deel van die span, en dit is ‘n omgewing waar ek elke dag iets nuuts leer. Atterbury is ‘n plek waar mense regtig omgee – nie net vir projekte nie, maar ook vir mekaar en vir die gemeenskappe waarin ons werk.

Vertel ons hoe jy by die Trust betrokke geraak het? Wat het jou aangetrek?
Ek het die geleentheid gehad om by studente-onderhoude in te sit, en dit was ‘n oomblik wat my oë oopgemaak het. Ek het eerstehands gesien hoe ongelooflik hierdie jongmense is, maar ook hoe groot die behoefte aan mentorskap werklik is. Dit het iets in my aangeraak, omdat mentorskap ook in my eie lewe van groot waarde was.. Ek weet watter verskil dit kan maak om iemand aan jou kant te hê wat jou begelei en glo in wat jy kan bereik. Dit het net sin gemaak om betrokke te raak en iets terug te gee.

Hoe lyk jou mentorskap in praktyk, en hoe werk dit saam met wat die Trust-span reeds doen?
Die Trust-span bestaan uit vroue, en ek het besef dat daar in sekere gevalle waarde kan wees in ’n aanvullende manlike perspektief, veral vir mansstudente. My betrokkenheid is minder gereeld en is gefokus op kwaliteit incheck en aktiwiteite, of ons nou  Padel speel of ‘n biertjie geniet – ek probeer om van tyd tot tyd met hulle in te skakel op ‘n ligter noot. Waar dit duidelik is dat daar regtig nood is probeer ek net ‘n oor wees om te luister of te help planne te maak.

‘Jy hoef nie ’n expert te wees nie – jy moet net omgee’

Het jy gevind dat daar spesifieke mentorskap-behoeftes onder die beursstudente is? Kan jy enige spesifieke voorbeelde met ons deel?
Dis vir my belangrik dat die ouens voel hulle kan oopmaak teenoor my en hulle behoeftes deel. Van die ouens het gesels oor hoe hulle graag leiding sou wou hê met hul finansies. Die Trust-span het toe oorgegaan na aksie en ‘n finansiële kursus vir die studente in plek gekry. Hierdie sal al die derde jaar wees van die ‘Laat jouself Geld’ kursus. Verder was daar ook al studente wat uitgereik het en gevra het dat ek sal kyk na hulle CV’s. So daar waar ek van hulp kan wees probeer ek altyd instaan.

 Hoe sou jy ander mense motiveer om ook soos jy betrokke te raak – hoekom is dit vir jou lekker om ‘n mentor te wees?
Eerlik gesê, dit vra nie veel nie. Jy hoef nie ‘n lewensafrigter of ‘n expert te wees nie – jy moet net omgee en bereid wees om tyd af te staan. Soms is dit net ‘n WhatsApp om te sê, “Hoe gaan dit?” of ‘n uurtjie se Padel-speel wat vir iemand ‘n groot verskil maak. Ek kry persoonlik baie energie daaruit – dit hou jou ook met jou voete op die grond en herinner jou waar jy vandaan kom. As jy kan teruggee, moet jy dit doen. Jy sal verbaas wees hoe min dit van jou vra en hoeveel dit vir iemand anders kan beteken.

Daar is baie mense wat graag deel wil vorm van iets betekenisvol, maar nie altyd weet hoe om betrokke te raak nie. Die Trust verwelkom enige persoon wat graag ’n rol wil speel of op enige manier wil bydra. Stuur gerus ’n e-pos aan Bianca Rykaart, die studentekoördineerder: biancar@atterbury.co.za.