Skip to content

Dankie Surisa!

Wanneer Surisa Schwalb by ’n vertrek instap, loop haar breë glimlag haar ver vooruit. Vir Surisa is niks ooit te veel gevra nie, sy is ’n doener!  Beslis iemand wat werk maak van welwillendheid vir ander. Háár medemens. Háár passie. Háár omgee.

Of dit nou ’n kollega, ’n student, ’n skool of ’n gemeenskap was wat ondersteuning nodig gehad het, sy het dit altyd met ’n oop hart en ’n gewillige gees benader. Omgee is nie net iets wat sy doen nie, dit is wie sy is.

Ná sowat vier jaar se werksywer vir ons in die Wes-Kaap gaan sy nou vir eers weer haar verpligtinge aan haar gesin voltyds uitleef. Sy sien uit daarna om kosbare tyd saam met haar jong woelwaters deur te bring.

As geoktrooieerde rekenmeester met die hart en siel van ’n eerlike gewer, het Surisa ’n blywende positiewe verskil help skep vir die mense en instellings wat vir ons saak maak. Finansies en behoorlike, aanspreeklike bestuur kan somtyds as ongenaakbaar voorkom, maar nie met Surisa aan die stuur nie. Haar empatie, vermeng met uitstekende finansiële verantwoordbaarheid, maak van haar iemand wat soos ’n handskoen by Atterbury Trust se werkswyse inpas.

Buiten haar professionele bydrae laat sy ook ’n groot leemte as kollega en vriendin. Sy is iemand wat lig bring waar sy gaan, al is dit soms teen ’n groot spoed. En as jy ooit gewonder het hoe belangrik iets vir haar is, hoef jy net haar beproefde kommunikasieproses te onthou: eers die e-pos, dan die WhatsApp, en kort daarna die oproep om seker te maak die saak kry aandag! Haar entoesiasme en vasberadenheid om dinge te laat gebeur, het ons almal aan die gang gehou en sal beslis nog lank deel van ons herinneringe aan haar bly.

Surisa het haar veral toegespits op twee kernareas van ondersteuning, naamlik opvoeding en die behoorlike, daaglikse verskaffing van voedsame voeding aan kinders.

Uit ons kantoor in Dorpstraat, Stellenbosch, het Surisa haar kant gebring met hierdie opbouende projekte, waaronder die ondersteuning van Wes-Kaapse studente wat deur middel van Atterbury Trust en Atterbury Foundation beurslenings ontvang. Net soos vir ons almal, was dit vir haar belangrik om nie net welwillendheid te bewerkstellig nie, maar ook om seker te maak dat dit werk. En daarin het sy uitnemend geslaag. Sy was instrumenteel om te verseker dat hierdie beurslenings studente met potensiaal help om aan hul toekomsdrome te bou.

Sy was nou betrokke by ons kleuterskole-voedingskema, ’n program vir vroeë kinderontwikkeling wat groeibelemmering help bekamp. ’n Honger kind kan nie leer nie. Daarom ontvang meer as 2 300 kleuters landswyd elke dag voedsame ontbytpap.

Nog ’n projek wat besonder baat gevind het by haar betrokkenheid, is Akkerland in die Jonkershoekvallei. Toe die skool in 2023 finansieel onder druk was, het Surisa saam met die Atterbury Foundation en ons vennote gehelp om nuwe hoop en stabiliteit te bring. Vandag funksioneer die skool op volle kapasiteit, met verbeterde ondersteuning en nuwe geleenthede vir die kinders wat daar leer.

Wanneer ons terugkyk op die afgelope vier jaar, sien ons nie net projekte, statistieke of mylpale nie. Ons sien mense wie se lewens geraak is. Ons sien gemeenskappe wat sterker staan. Ons sien studente wat geleenthede gekry het. En in soveel van hierdie verhale was Surisa se hand en hart teenwoordig.

Dankie, Surisa, vir jou harde werk, jou toewyding, jou menslikheid en jou vriendskap. Dit was ’n voorreg om saam met jou te werk.

Ons sê vir nou totsiens, maar nie vaarwel nie.