As uitvoerende hoof van die Atterbury Trust weet Ananja Koen hoe belangrik dit is om die regte mense aan jou sy te hê as jy betekenisvol wil teruggee aan die gemeenskap. Die Trust-span bestaan uit omgeemense wat met passie en toewyding hul dagtaak aanpak om ’n tasbare verskil te maak in die lewens van diegene wat dit die nodigste het. Hier deel hulle meer oor die hartsprojekte wat hulle inspireer om elke dag ’n verskil te maak.
Ananja, wat reken jy is die geheim agter Atterbury Trust se sukses?
Ananja Koen: Na my mening lê Atterbury Trust se sukses in die volhoubare manier waarop ons projekte ontwikkel, die sterk vennote wat ons hande sterk maak en die verantwoordbare manier waarop ons die Trust bestuur. Maar bo alles lê ons grootste bate in ons mense.
Ek werk saam met ’n span vir wie dit nie net oor ’n werk gaan nie, maar oor mense. Mense wat elke dag met passie, deernis en oortuiging hul deel doen om ’n verskil te maak.
Watter Trust-projek van die afgelope jaar was vir elk van julle persoonlik die betekenisvolste, en hoekom?
Danelle Strydom: Ons Acappella kompetisie is vir my ‘n hoogtepunt. By die Atterbury Trust lê drie kernaspekte ons na aan die hart: studente, gemeenskap en kultuur. Die Atterbury Acappella-kompetisie is so spesiaal want dit weef hierdie drie elemente op unieke wyse saam..
’n Atterbury Trust beurs-alumnus het ’n vurige pleidooi gelewer het om studente-uitvoerings van a cappella weer na die verhoog te bring.
Ons het dié geleentheid met entoesiasme aangegryp en die kompetisie bied sedert 2023 ’n waardevolle platform vir jong musiektalent om hul liefde vir musiek en verhoogkuns ten volle uit te leef.
Bianca Rykaart: Die Mandela-dag-projek by Tjokkers in Krugersdorp was vir my spesiaal – om die vreugde op elke kind se gesiggie te sien oor ‘n paar skoene en ‘n nuwe baadjie. Mens besef net weer om dankbaar te wees oor die klein goedjies. Hulle vreugde was aansteeklik en dit was baie lekker om tyd saam met hulle te kon spandeer.
Liaune Goedhals: Dit was vir my so betekenisvol toe ons een van die kleuterskole in Hammanskraal wat ons deur die Voedsaam-projek ondersteun, verder kon help met noodsaaklike infrastruktuurverbetering. Daar is badkamers en lopende water geïnstalleer, iets wat hulle voorheen glad nie gehad het nie. Die skoolgebou is geverf, nuwe deurhandvatsels is aangebring en skadunette is oor die speelarea opgerig – die kleintjies het voorheen geen skaduwee gehad as hulle buite gespeel het nie. Al dié verbeterings was noodsaaklik aangesien die skool nie aan die departement van onderwys se standaarde voldoen het nie en hulle moontlik die skool se deure sou moes sluit.
Leonie du Preez: GRO! 😊
Hanneke Vallentgoed: Vir my was dit nog net ‘n voorreg om saam die span te werk en elkeen te leer ken. Ek hoop om in die toekoms te help om verskil te maak waar dit die nodigste is.
Jana Wilbers: Vir my is die studente-onderhoude elke jaar een van die besonderste ervarings. Dit lê my baie na aan die hart om elke student se unieke storie te hoor en te sien hoe positief en vasberade hulle bly, ten spyte van moeilike omstandighede. Hulle deursettingsvermoë en geloof in ’n beter toekoms is werklik inspirerend. Wat dit nóg meer spesiaal maak, is dat hul droom nie net oor hul eie sukses gaan nie, maar ook oor die verskil wat hulle eendag in ander mense se lewens wil maak.
Juané Vermaak: Ek geniet elke jaar die Trust se Mandeladag-uitstappies. Dit is vir my lekker om minderbevoorregte kinders te bederf en te sien watter verskil die Trust in soveel kinders se lewens maak. Ons is geneig om in ons eie lewens verlore te raak en vergeet soms dat dit ongelooflik swaar gaan en nie alle kinders die geleenthede en voorregte het wat ons gehad het toe ons grootgeword het nie. Dit is altyd vir my lekker om opnuut bewus te raak van hoe belangrik dit is dat ons ons harte vir die gemeenskap oopmaak en ‘n verskil probeer maak waar ons kan.
Johann Limbach: Ek is nog nie lank genoeg hier om een projek te kan uitsonder nie, maar dis vir my besonders om te sien hoe die Trust gemeenskappe ondersteun en werklik ‘n verskil maak.
As befondsing nie ‘n oorweging was nie, watter droomprojek sou elk van julle graag wou aanpak vir die Trust?
Bianca: Ek sal graag behuising as opsie vir ons studente wil aanbied. ‘n Veilige kommune wat ‘n omgewing bied waar studente kan fokus op hulle studies en mekaar kan ondersteun. Dit breek my hart as ek weet studente moet onder baie moeilike omstandighede by hul ouers of familie woon of as studente baie ver van kampus af bly.
Juané: Ja! Stel jou voor ons kan studentebehuising bou hier in Pretoria, waar Atterbury Trust-studente gratis kan bly terwyl hulle studeer. As ons eie studente dit nie volmaak nie, sou ons die ekstra kamers kon aanbied teen ’n verlaagde koste aan ander verdienstelike studente wat nie koshuisgeld kan bekostig nie. So ’n projek sou baie na aan my hart wees, omdat dit nog ’n manier is om ’n verskil in ons studente se lewens te maak en vir hulle ’n platform bied om mekaar ook te ondersteun.
Hanneke: My droomprojek sou wees om ons eie pasiënte op ons eie te kan help deur ooreenkomste met ‘n paar dokters vir basiese klein prosedures. Ook om in Mia se kombuis, veral in die winter, sop te kan kook vir die kleuterskole en/of studente wat hulle kan vries om later te eet – goeie, gesonde kos met genoeg van alles in om pensies vol te maak. Miskien kan ek my eie grênd kombuis kry!
Leonie: Verseker ‘n stap in die Drakensberge. As ek saam met die studente onder die sterre by die berge kan slaap sal dit vir my ‘n geestelike oomblik wees.
Danelle: Ek dink dit sal vir my wees om ook ander behoeftes raak te sien daar waar ons reeds ’n pad saam met ’n organisasie of student stap. Dit kan byvoorbeeld ’n student wees wat met ’n mediese uitdaging worstel of ’n skool wat ondersteuning benodig vir ’n infrastruktuurprojek. Om dan daardie sirkel te voltooi deur verantwoordelike en doelgerigte hulp te bied, sou vir my baie betekenisvol wees.
Jana: Ek dink nie daar is iets wat ek noodwendig anders sou doen nie – my grootste wens sou eenvoudig wees om nog meer te kan help en ons impak selfs verder uit te brei. Om daar waar ons nood raak sien, onmiddellik te kan ingryp, hoop te kan bring en in mense se lewens te kan saai, sonder dat befondsing ooit ’n beperking is.
Liauné: Nadat ek by die Hammanskraal-kleuterskool gesien het hoeveel vreugde ons opgraderingsverbeterings vir die onderwysers by hul werkplek bring, en die kinders se blydskap oor hulle nuwe skool, wens ek ons kon elke organisasie, skool, ouetehuis en kinderhuis help om hul fasiliteite op te gradeer en dieselfde vreugde bring.
Johann: Ek sou graag ’n projek wou sien wat direk daarop gerig is om jongmense te help om hul potensiaal te ontdek deur middel van vaardigheidsontwikkeling, sport en mentorskap. Ek glo dat die regte ondersteuning op ’n jong ouderdom ’n groot verskil kan maak.