Coenie de Villiers en Deon Meyer se unieke vertoning Karoo-Suite, ’n liefdeslied aan die Karoo, het reeds diep spore in baie Afrikaanse harte getrap. Toe die idee gebore is om ’n gedenk-koffietafelboek saam te stel wat hierdie onvergeetlike werk kan laat voortleef in tasbare vorm, het Atterbury Trust onmiddellik ingestem om die boek se koste te dra. Ons hoor meer by Zahn Hulme.

Hoekom die besluit om die boek te borg?
By Atterbury Trust is ons passievol oor Afrikaans, en opvoeding. Ons bevind ons in ‘n tyd van toenemende ekonomiese en sosiale druk waar kuns en kultuur dikwels as ‘n luukse beskou word. Die kunste is so dikwels die eerste slagoffer as begrotings gesny word. Omdat Afrikaans, of minstens een vorm daarvan, met ’n geskiedenis van onderdrukking en apartheid geassosieer word, het ons die ongelukkige situasie dat daar van amptelike regeringskanale min ondersteuning verwag kan word. Die bevordering, ondersteuning, en die toekoms van Afrikaans is dus in die hande van Afrikaanssprekendes.

En met dié dat mens kuns en kultuur – drama, musiek en letterkunde –  deur taal ervaar, is dit vir ons by Atterbury Trust uiters belangrik om Afrikaans te ondersteun waar ons kan. Ons is nie net trots Suid-Afrikaans nie, maar veral trots Afrikaans. Hierdie projek verwesenlik al daardie ideale en dit is so mooi dit gee mens hoendervleis… dit was ’n baie maklike besluit om te neem.

Is daar ’n groter plan met die opbrengs van die verkope?
Ja, daar is, en die idee is juis dat dit opvoeding – die ander belangrike pilaar van die Atterbury Trust – kan baat. Coenie en Deon het al die materiaal gratis beskikbaar gestel en ons dra die drukkoste, sodat die totale opbrengs na die Atterbury Trust-beursfonds kan gaan, spesifiek om Karookinders te help studeer. Ons kon oor die afgelope 20 jaar reeds meer as 600 studente help om verder te gaan studeer, en hierdie intellektuele skat wat die Trust met die bystand van al ons weldoeners vir die land se toekoms kan bou, is ’n nalatenskap waarop Atterbury geweldig trots is.

Wat word alles in die boek vervat?
Die boek is opgedra aan die kinders van die Karoo, en dit bevat al die pragtige foto’s en die sewe stories wat Deon Meyer vir die Suite geskryf het oor sowat 100 glansbladsye, met voorwoorde deur Deon en Coenie. Die Karoo-Suite-vertoning wat in geheel by die Atterbury Teater opgeneem is, is op ’n CD wat inpas in die boek se omslag. Daar is ’n beperkte oplaag van net 1 000 boeke gedruk; elkeen is genommer en is geteken deur Coenie en Deon – dit is ’n wonderlike versamelaars-item, en ’n ideale Kersgeskenk.

Watter van Atterbury Trust se ander kultuurverwante projekte is jou gunsteling?
Dis moeilik om te kies – dis regtig ’n mosaïek en elke element dra by tot die groter prentjie. Die Atterbury Teater is so ’n spesiale deel daarvan omdat dit al sewe jaar lank ‘n wêreldklasplatform bied waar Suid-Afrikaanse kunstenaars en gehore die beste vermaak kan aanbied en geniet. Hierdie opname van Karo- Suite is juis ook in die teater gemaak. En dit het ook die tuiste geword vir ander projekte wat na aan ons hart lê, soos die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie. Ons is ook baie trots om as borge te kan betrokke wees by Die Cool Capital Biënnale se skolekunskompetisie, en VivA se Afrikaanse taal-app.

Waar kry ek die boek, en hoeveel kos dit?
Die boek word vir R750 verkoop en sal beskikbaar wees by die uitvoerings van Karoo-Suite wat van 19 tot 21 September in Kaapstad by Artscape en op 30 September om 14:00 en 17:00 by die Atterbury Teater plaasvind. Dit kan ook bestel word deur ’n epos te stuur aan [email protected].