Lood Bester en Ananja Koen kyk terug op vyf jaar van Terugploeg – die mense wat dit moontlik maak, die mense wat daardeur bereik word en waarom daar steeds plek is vir elkeen van ons om saam terug te ploeg.
Die Terugploeg-fasiliteit buite Pretoria is vyf jaar gelede met ’n eenvoudige doel gebou: om dit wat beskikbaar is, te gebruik om ’n verskil te maak waar die nood groot is.
Vandag is dit veel meer as ’n gebou. Dit is ’n plek waar ’n vrag groente, ’n skenking van ’n boer of surplusvoorraad van ’n onderneming weer ’n pad vind na ’n kinderhuis, kleuterskool, ouetehuis of gemeenskapsorganisasie wat dit nodig het.
Vyf jaar later bly die beginsel eenvoudig: elkeen het iets waarmee hy kan terugploeg. Dit kan ’n vrag groente wees, wildsvleis of bloot die bereidwilligheid om dit wat jy het te deel.
TERUGPLOEG SE IMPAK
Sedert stigting in 2021 is:
- 1039 ton kos ingesamel en versprei
- meer as 4 miljoen etes verskaf
- 142 organisasies ondersteun
- 22 ton vleis verwerk by die Terugploeg-slaghuis
Lood, as jy as medestigter terugkyk na waar julle begin het en waar Terugploeg vandag is, waarop is jy die trotsste – en wat beteken hierdie vyf jaar vir jou?
Lood Bester: Eerstens is ek verskriklik trots op die feit dat ons dit reggekry het om die Terugploeg-fasiliteit te bou. Deur die ondersteuning van ons ongelooflike donateurs het ons daarin geslaag om sowat R6,5 miljoen in te samel en hierdie fasiliteit vir die toekoms te bou.
As ek terugkyk oor die afgelope vyf jaar, is ek natuurlik trots op die miljoene etes wat ons kon voorsien, al die vleis wat ons verwerk het en die ongelooflike hoeveelheid donasies wat ons ontvang het. Ons boer selfs met blaarslaai wat ons deur ons vennote verkoop, en die inkomste wat daaruit gegenereer word, gaan alles terug in Terugploeg.
Maar waarop ek die trotsste is, is die feit dat ons ’n wesenlike verskil in mense se lewens maak.
Ek was toevallig verlede week by die Terugploeg-fasiliteit. Daar het ’n groot vrag aangekom en oral het karre, bussies en bakkies gestaan van organisasies wat kos kom haal het. Die hele fasiliteit was vol produkte en ander goedere wat geskenk is. Dit is ongelooflik om dit te sien en te besef wat Terugploeg oor vyf jaar geword het.
Waarop ek net so trots is, is ons personeel – die Trust-personeel wat Terugploeg werklik hul eie gemaak het. Dit is vir my lekker dat ek en Herman [Marx] wat oorspronklik die medestigters was, nie meer op ’n dag-tot-dag-basis betrokke hoef te wees nie. Niemand sit en wag dat ons iemand moet bel vir ’n vrag groente of vrugte, of om ’n ander behoefte aan te spreek nie. Dit gebeur vanself, en dit is ’n groot kompliment aan almal by die Atterbury Trust.
Jy sê altyd dat Terugploeg eintlik net die voertuig vir weldoeners is. Wat is jou boodskap aan mense en ondernemings wat graag wil betrokke raak en saam met ons ’n verskil wil maak?
LB: My boodskap aan al ons donateurs is eerstens: verskriklik baie dankie. Sonder julle sou niks hiervan moontlik gewees het nie.
Julle ondersteuning was van die begin af onbaatsugtig. Wanneer ons die telefoon optel, kom daar ’n vrag groente, bakstene, boumateriaal of wat ook al die behoefte op daardie stadium mag wees. Aan almal wat Terugploeg en die Atterbury Trust tot nou toe ondersteun het: verskriklik baie dankie. Ek kan dit nie genoeg sê nie.
Vir enigiemand wat graag betrokke wil raak, dink ek Terugploeg en die Atterbury Trust het oor die jare bewys dat ons ’n voertuig is wat verantwoordelik omgaan met alles wat aan ons toevertrou word. Ons bestuur dit na die beste van ons vermoë om seker te maak dat die hulp by die regte mense uitkom.
Daarom wil ek ’n beroep doen: As jy nog nie by die Atterbury Trust of Terugploeg betrokke is nie, raak asseblief betrokke. Maak kontak met ons personeel.
Saam met ons donateurs maak ons ’n wesenlike verskil – en dit kan gesien word. As jy belangstel, kan ons jou na enige van die organisasies neem wat ons tans ondersteun. Jy kan self met die mense praat en eerstehands sien wat ons doen.
Ek weet daar is baie mense wat graag wil teruggee, maar nie altyd weet waar om te begin of wie hulle kan vertrou nie. Terugploeg bied daardie voertuig.
Raak asseblief betrokke. Ons sal dit opreg waardeer.
Ananja, kan jy ons meer vertel van die mense wat uiteindelik deur Terugploeg bereik word?
Ananja Koen: Ons fokus veral op kinders en bejaardes – mense wat dikwels nie die vermoë het om self ’n inkomste te verdien of in hul eie basiese behoeftes te voorsien nie.
Terugploeg werk hoofsaaklik deur gevestigde organisasies wat reeds daagliks na hierdie kwesbare groepe omsien. Dit sluit onder meer in kinderhuise, kleuterskole, ouetehuise en ander gemeenskapsorganisasies. Deur hierdie organisasies te ondersteun, help ons hulle om hul beperkte hulpbronne verder te rek en meer mense te bereik. Die nood is ongelukkig enorm. Vir baie van die organisasies waarmee ons werk, is dit ’n voortdurende uitdaging om bloot genoeg kos op die tafel te sit.
Hoe maak julle seker dat hulp uitkom waar dit werklik nodig is?
AK: Dit is een van die belangrikste beginsels waarop Terugploeg gebou is. Wanneer ’n boer, besigheid of individu ons met ’n skenking vertrou, het ons ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat dit verantwoordelik aangewend word en die mense bereik wat dit werklik nodig het.
Ons span besoek die organisasies wat ons ondersteun gereeld en bou langtermynverhoudings met hulle. Ons wil hul werklike behoeftes verstaan en seker maak dat skenkings sinvol versprei word. Terselfdertyd vertrou ons die organisasies op grondvlak. Hulle ken hul gemeenskappe en begunstigdes en weet waar die nood op enige gegewe tydstip die grootste is.
Hoekom kos en nie geld nie? Wat maak ’n vrag anders as ’n tjek?
AK: Suid-Afrika sit met ’n geweldige teenstrydigheid: daar is enorme voedselnood, maar terselfdertyd gaan miljoene ton kos jaarliks verlore.
Volgens navorsing deur die WNNR gaan ongeveer 10,3 miljoen ton eetbare kos jaarliks in Suid-Afrika verlore of word dit vermors. Dit is ongeveer 34% van die kos wat plaaslik geproduseer word.
Aan die ander kant werk ons met organisasies wat elke dag probeer om voedsame etes aan kinders, bejaardes en ander kwesbare mense te voorsien. Vir baie van hierdie organisasies is kos, naas personeel, een van hul grootste uitgawes.
Dit is waar Terugploeg ’n baie praktiese rol speel, ons probeer daardie twee wêrelde bymekaarbring. Elke vrag kos wat ons kan herverdeel, beteken minder vermorsing én onmiddellike verligting vir ’n organisasie wat daardie geld nou aan ander noodsaaklike behoeftes kan bestee.
Wat kan ’n gewone mens of ’n boer prakties doen om by Terugploeg betrokke te raak?
AK: Een van die mooiste dinge van Terugploeg is dat enigeen iets het waarmee hulle kan terugploeg.
Dit hoef nie ’n groot skenking te wees nie. Dit kan ’n maandelikse finansiële bydrae wees, ’n paar bokse nie-bederfbare produkte, vars produkte van ’n plaas, of surplusvoorraad van ’n besigheid wat andersins verlore sou gaan.
Boere kan vars produkte skenk wat steeds geskik is vir gebruik, selfs al voldoen dit nie noodwendig aan die voorkoms- of groottevereistes van die formele mark nie. Jagters kan ook wildsvleis deur ons laat verwerk en ’n gedeelte daarvan beskikbaar stel aan mense wat andersins selde die geleentheid sou hê om vleis te eet. Ons wil mense eintlik uitdaag om anders te kyk na wat hulle reeds het. Wat vir jou ’n oorskot is, kan vir iemand anders van groot waarde wees.
Vir meer inligting oor Terugploeg en hoe jy kan betrokke raak of kan bydra, stuur gerus vir ons ‘n epos na hello@atterburytrust.org















