Skip to content
Menu
0
Close Cart
Your cart is empty. Go to Shop

Vroue wat ’n verskil maak: Kundigheid, deernis en diens

Vir dr. Nina du Toit gaan medisyne oor veel meer as ’n beroep. Dit is ’n plek waar kundigheid, deernis en diens bymekaarkom – en waar ’n mens dit wat jy ontvang het, kan gebruik om ’n tasbare verskil in iemand anders se lewe te maak.

As oor-, neus- en keelspesialis werk sy met ’n groot verskeidenheid pasiënte – van klein kindertjies met mangel- en oorprobleme tot jongmense met sinusprobleme en ouer pasiënte met gehoorverlies.

“Ek het vroeg geweet ek hou van teater en daarvan om met my hande te werk. Oor-, neus- en keelchirurgie is baie fyn chirurgie. Ons doen baie onder die mikroskoop – dit is regtig klein, mooi en presiese werk.”

Maar tussen die tegniese vaardigheid en fyn chirurgie lê daar vir haar ook iets groter: die mens aan die ander kant daarvan.

Geleentheid om terug te gee

Toe dr. Nina besluit het om die staatsdiens te verlaat en privaat te praktiseer, was dit nie vir haar ’n eenvoudige besluit nie.

“Dit was vir my amper ’n etiese dilemma. So ’n groot deel van ons land se mense word in die staat versorg en daar is net so min dienste om by almal uit te kom.”

Die skuif was om persoonlike redes – vir haar gesin en lewenstyl – maar die vraag oor mense wat steeds hulp nodig het, het by haar gebly.

Toe kom Triomf Kliniek oor haar pad.

“Dit was vir my ’n wonderlike geleentheid om weer terug te gee, al het ek my lewenstyl vir my gesin aangepas.”

Haar beroep is ook verbind aan haar geloof en die verantwoordelikheid om haar talente te gebruik.

“Ek voel die Here het my ’n talent gegee wat ek elke dag kan toepas en waarmee ek kan dien. Triomf is vir my ’n geleentheid om dit te kan doen, en ek is regtig dankbaar om betrokke te wees.”

Elke persoon maak saak

Dr. Nina glo toegang tot goeie mediese sorg behoort nie net vir sommige mense beskore te wees nie.

“Ek dink mediese sorg is ’n basiese mensereg. Soos elke kind wat moet kan skool toe gaan en elke persoon wat ’n bord kos voor hulle moet kan hê.”

Die werklikheid is egter dat kwaliteit mediese sorg nie altyd almal bereik nie. Daarom is sy dankbaar vir organisasies wat help om dié gaping kleiner te maak.

“Elke klein bietjie maak ’n verskil. Elke een persoon wat gesonder is, maak vir daardie persoon, maar ook vir ons land en ons ekonomie, ’n verskil.”

‘Tannie snollie-dokter’

Wanneer dr. Nina oor haar tyd by Triomf praat, is dit nie noodwendig een groot oomblik wat uitstaan nie, maar eerder ’n versameling klein oomblikke.

Veral die kinders bly haar by.

“Dit is asof selfs die vierjariges besef hierdie is ’n plek waar hulle gehelp gaan word. Ek kry sommer drukkies van vreemde kleintjies wat my amper glad nie ken nie.”

En dan is daar een klein pasiënt wat vir haar ’n nuwe titel gegee het.

Op pad om haar te sien, het ’n ander dokter hom gevra waarheen hy op pad is.

“Ek gaan na tannie snollie-dokter toe,” was sy antwoord.

“Nou verwys ek maar na myself as die tannie snollie-dokter,” lag sy.

Opregte belangstelling

Wanneer dr. Nina dink aan ’n vrou wat haar gevorm het, staan haar ma uit – veral oor die manier waarop sy ander mense eerste stel en opreg in hulle belangstel.

“Sy vra vrae wanneer sy met jou gesels en sy onthou wat jy sê. Sy stel eerlikwaar opreg belang in mense.”

Dit is iets wat dr. Nina ook in haar eie werk uitleef: om nie net na ’n pasiënt se simptome te kyk nie, maar na die mens voor haar.

As vrou en ma bring sy ook ’n besondere begrip na haar werk met kinders en hul ouers.

“Ek het ook klein kindertjies en ek kan met die ma identifiseer – die slapelose nagte, nog ’n kursus antibiotika en hoe moeilik dit is wanneer jou kind siek is.”

Vir die kinders is sy dalk eenvoudig “nog ’n mamma of nog ’n tannie” – iemand by wie hulle veilig kan voel.

“Ek dink daardie meegevoel wat ’n mens as ’n mamma en as ’n vrou kan hê, veral wanneer dit by die kindertjies kom, is regtig besonders.”

Om ’n verskil te maak vra nie altyd dat ’n mens méér moet hê nie. Soms vra dit bloot dat jy dit wat reeds aan jou toevertrou is – jou kennis, vaardighede, tyd en vermoë om werklik na iemand te luister – bereid is om met ander te deel.

Vir dr. Nina gebeur dit een pasiënt op ’n slag. Soms met fyn chirurgie onder ’n mikroskoop. Soms met ’n bekommerde mamma. En soms met ’n drukkie van ’n vierjarige wat net weet dat die “tannie snollie-dokter” hom gaan help.