Atterbury Trust-student, Angelic Louw
“Om te dien is nie ‘n swakheid nie, dit is een van ‘n vrou se grootste kragte.”
Vir Angelic Louw, ‘n mediese student en ontvanger van Atterbury Trust-ondersteuning, begin die betekenis van vrouwees by een eenvoudige, maar kragtige woord: Ezer – helper.
“Baie mense sien dit as ‘n swak woord,” vertel sy. “Maar vir my is dit een van die sterkste beskrywings van ‘n vrou. Dis iemand wat ‘n huis in ‘n tuiste verander, wat mooi skep uit dit wat sy het en wat ander dien met liefde.”
Hierdie ingesteldheid is diep gewortel in die voorbeeld wat haar ma vir haar gestel het.
Hoewel haar ma onder moeilike omstandighede grootgeword het en nie altyd toegang tot geleenthede of goeie onderwys gehad het nie, het sy nooit toegelaat dat haar eie uitdagings Angelic se toekoms beperk nie.
“Sy het my altyd aangemoedig om verder te kyk en geleenthede aan te gryp. Al het sy nie al die antwoorde gehad nie, het sy my geleer om dit self te gaan soek.”
Daardie les het Angelic uiteindelik na ‘n loopbaan in medisyne gelei.
“Ek het nie nog altyd geweet ek wil ‘n dokter word nie, maar ek het gevoel dis waar die Here my roep. Ek wil mense help wat nie altyd toegang het tot die sorg wat hulle nodig het nie.”
Vir haar gaan medisyne oor veel meer as ‘n beroep of ‘n titel. Dit gaan oor mense.
Sy glo vroue bring iets besonders na die mediese wêreld: empatie, begrip en die vermoë om werklik saam met pasiënte ‘n pad te stap.
“Ek hoop mense onthou my nie eendag omdat ek ‘n dokter was nie, maar omdat ek hulle laat voel het hulle is gesien, gehoor en versorg.”
Een van haar grootste drome is om ‘n verskil in openbare hospitale te maak.
“Ek wens mense hoef nie bang te wees om hospitaal toe te gaan nie. Ek droom van ‘n plek waar mense nie net goeie mediese sorg ontvang nie, maar ook hoop, liefde en waardigheid ervaar.”
Aan jongmense wat wag vir hul groot geleentheid, het Angelic ‘n eenvoudige, maar kragtige boodskap:
“Jou toekoms is in jou hande. Bid, vertrou die Here, maar wees ook bereid om die eerste tree te gee. Moenie wag dat iemand anders jou lewe verander nie. Begin waar jy is en vat die eerste stap.”
Hierdie Vrouemaand vier Atterbury Trust vroue soos Angelic – vroue wat met geloof, deernis en moed hul gawes gebruik om hoop te bring en ‘n blywende verskil in ander se lewens te maak.