Atterbury Trust se hande word sterk gemaak deur die groothartige samewerking van vennote soos OUTsurance, met wie ons reeds geruime tyd al ’n betekenisvolle pad stap.
Ilana du Toit, Bemarkingsbestuurder: Finansies en Borgskappe by OUTsurance, vertel waarom die maatskappy juis die Trust as vennoot gekies het in hul teruggee-reis, en wat hul betrokkenheid by die kleuterskole-voedingsprojek vir hulle beteken.
Wat het OUTsurance aanvanklik aangetrek tot Atterbury Trust se kleuterskole-voedingsprojek?
Daar is ’n groot persentasie kinders van ses jaar en onder wat nie elke dag voldoende voeding kry nie. Dit het ’n direkte impak op hulle produktiwiteit en ook hul algemene gesondheid. In baie gevalle lei dit tot groeibelemmering, wat ’n lewenslange impak het op hierdie kinders se kognitiewe en fisiese ontwikkeling. Die feit dat hierdie voedingsprojek spesifiek fokus op kinders in kleuterskole, het direk tot ons gespreek en ons wou graag hierby betrokke raak.
Wat beteken dit vir julle om die tasbare verskil te sien wat voeding in jong kinders se lewens maak?
Dit is ongelooflik om die positiewe impak te sien, nie net op kinders se groei nie, maar ook op hulle ontwikkeling en algemene gesondheid. Behalwe vir die verandering wat mens op ’n fisiese vlak kan sien, is ons veral beïndruk met die terugvoeroor die ontwikkeling van belangrike kognitiewe vaardighede: kinders konsentreer beter, is meer betrokke en leer nuwe vaardighede vinniger aan.
Wat sou julle vir ander maatskappye sê wat oorweeg om by gemeenskapsprojekte betrokke te raak?
Ons sal ander altyd aanmoedig, want die nood is só groot en die impak wat gemaak word, verander nie net die lewens van behoeftiges nie, maar ook dié van ons personeel wat as vrywilligers by ons onderskeie projekte help. Interessant genoeg vind ons dat personeel wat deel is van gemeenskapsprojekte daarna nóg meer wil doen en weer hulle hande sal opsteek om betrokke te raak, hetsy as vrywilligers of deur self projekte te identifiseer en te nomineer.
Watter waarde bring vennootskappe soos dié met Atterbury Trust en StartWell vir julle organisasie?
Dit gee ons die geleentheid om ’n groter en meer volhoubare impak te maak as wat ons op ons eie sou kon regkry. Die uiteindelike waarde lê daarin dat dié wat hulp die nodigste het direk voordeel trek uit gekombineerde fondse, gedeelde kundigheid en vaartbelynde logistiek. Die vennootskap verseker dat hulp meer effektief, meer doelgerig en met groter impak gelewer kan word.
OUTsurance beskryf gemeenskapsbetrokkenheid as deel van julle DNS. Waarom is dit vir julle belangrik?
Een van ons kernwaardes is “menslikheid” en gemeenskapsbetrokkenheid sluit direk hierby aan. Ons verbind daartoe om dáár te wees vir mekaar: as kollegas, vir ons kliënte en vir die gemeenskappe waarbinne ons leef en werk. Ons reik dus graag uit na ons direkte gemeenskap en doen ons beste om ’n verskil te maak in die lewens van dié wat dit die nodigste het.
Hoe motiveer julle die span om betrokke te raak en te bly?
OUTsurance se gemeenskapsprojekte verskil van meeste ander maatskappye. Dit staan bekend as “Staff Helping SA OUT” en is direk gefokus op ons personeel se betrokkenheid by projekte – beide fisies en finansieel. Ons personeel dra by tot die SHSAO-fonds, en OUTsurance verdubbel enige personeelbydraes in ’n verhouding van twee tot een. Dit beteken vir elke rand wat bygedra word deur ’n personeellid, dra ons R2 by tot die fonds. Projekte word ook deur personeel genomineer en die betrokke personeellid wat die nominasie gemaak het, is dan ook projekbestuurder. Hierdie model motiveer personeel om projekte te identifiseer in hulle gemeenskappe, eienaarskap te neem en direk betrokke te raak en te bly.
Hoe beïnvloed gemeenskapsinisiatiewe die kultuur binne OUTsurance?
Dit het beslis ‘n invloed. Ons vind dat dit ons personeel bymekaar bring rondom iets wat buite die normale werksomgewing staan. Wanneer mense betrokke raak by interne projekte wat die gemeenskap bevoordeel, verander die dinamiek. Personeel werk saam op ’n ander manier, leer mekaar beter ken en bou sterker verhoudings, nie net binne hulle eie span nie, maar ook met ander departemente. Hulle gee hulle álles en die onderskeie departemente daag mekaar uit om nóg meer te doen en nóg meer by te dra. Dit is asof ons personeel die waarde van “menslikheid” régtig kan uitleef deur deel te wees van iets groter as hulself – met die wete dat hulle ’n verskil kan maak in die lewens van dié wat dit die nodigste het.


