Vyftien jaar gelede het die Fairtree Atterbury Teater sy deure vir die eerste keer oopgemaak en sedertdien ‘n tuiste geword vir kunstenaars en gehore. Teaterdirekteur Matthys Maree kyk terug op 15 suksesvolle jare van kuns, kultuur en gemeenskap
Atterbury Teater het pas sy 15de bestaansjaar herdenk. Hoe is dit gevier en word daar nog iets spesiaal beplan?
Ter viering van hierdie mylpaal het ons op 15 Mei ‘n spesiale konsert deur Charl du Plessis aangebied, bygewoon deur eregaste van die Atterbury Trust, teaterpersoneel en lojale teatergangers. Die media was ook goed verteenwoordig, sodat die res van Pretoria en Suid-Afrika in die feesvieringe kon deel. In ons “always-on“-kultuur, waar daar byna nooit ‘n oop aand op die kalender is nie, was hierdie viering ‘n besondere geleentheid om stil te staan by 15 jaar se sukses.
Hoe lank is jy nou al betrokke by die teater en hoe het jou rol daar oor die tyd verander?
Ek is sedert die ontstaan van die teater betrokke en het boonop die voorreg gehad om vir ongeveer twee jaar vooraf reeds deel van die ontwerpproses te wees. Atterbury se ingesteldheid was nog altyd om dit so bedryf-vriendelik as moontlik te maak, en daarom is ek die geleentheid gegun om van ’n kunste/vermaakbedryf-perspektief insette te lewer tydens hierdie fase. In die 15 jaar het seisoene wel verander, prosesse en strukture, is geoptimaliseer en later jare het ons ook uitgebrei na ander besigheidsgeleenthede en netwerke binne die groter kunstekonteks en noodsaaklike korporatiewe vennootskappe.
Hoe sou jy die bydrae van Atterbury Teater tot die gemeenskap en die kunste oor die afgelope 15 jaar beskryf?
Na 15 jaar is die mees gepaste term vir die teater waarskynlik ’n tuiste. Mens voel tuis iewers waarheen jy herhaaldelik teruggaan met ’n gevoel van behoort. En nie net vir ons wat daar werk nie, maar ook vir kunstenaars wat binne die lojale mark van Pretoria herhaaldelik hul produksies hier kon aanbied. Die Fairtree Atterbury Teater het inderdaad ‘n huishoudelike naam geword, selfs veel wyer as ons opvanggebied in Gauteng. Vir talle kunstenaars bied dit die geleentheid om produksies voor te berei vir opkomende feeste, of om na afloop van feeste verdere myle te kry uit produksies waaraan so lank en hard voorberei is. Oor die afgelope jare het ons ook geweldige groei in skoleproduksies gesien. Dis veral tydens hierdie geleenthede waar die teater talle vertonings per dag moet hanteer, met gehore wat binne minder as ’n uur uitbeweeg om weer plek te maak vir die volgende gehoor. Dis ’n goed geoliede masjien met tegnici en personeel wat dikwels in ’n kort tyd die byna onmoontlike vermag.
Wat sê kunstenaars self oor die teater?
Nataniël se terugvoering skets die prentjie duidelik:
“Ek doen honderd verskillende goed, maar my regte werkplek bly in die teater en die getal gesonde, funksionele en groeiende teaters in SA kan jy op die vingers van een hand tel. Die afgelope paar jaar beskou ek die Fairtree Atterbury Teater as my familie – dis naby waar ek woon; dis waar ek die meeste op die verhoog verskyn; dis die jongste geselskap in terme van personeel – die verhoog, agter die verhoog, onder en bo die verhoog – hulle is jonk, hulle is opgewonde! Dis ’n vrolike plek, dis gesond en, wat so skaars soos hoendertande is, dit GROEI. Daar is elke jaar nog meer mense, om elke hoek en draai is daar nog ’n besigheid. Hier bou hulle, daar ontwerp hulle, hier reël hulle ’n funksie, daar is ’n ateljee waar hulle goed opneem. In die foyer is ’n restaurant; as jy net glimlag gee sy vir jou ’n toasted cheese. As jy jou toon stamp, reël hulle vir jou ’n event – hulle kan nie wag vir ’n okkasie nie. Ek sê vir julle baie baie geluk met wat julle in 15 jaar reggekry het, ek is baie lief is vir hulle en ek hoop ek bly baie lank deel van die familie.”
Wat was vir jou persoonlik twee van die teater se hoogtepunte oor die afgelope 15 jaar?
Die een sou sekerlik wees toe ons gedurende grendeltyd ’n virtuele kunsuitstalling gehad het waar ons kunswerke op die teaterstoele uitgepak het toe mense nie daar kon sit nie. Dit was so ’n ongelooflike tyd van saamstaan en vasbyt wat ons almal sal bybly. Om enige individuele vertoning uit te sonder sou onmoontlik wees. Ek glo egter dat die tafel – vir wat nou, 15 jaar later, steeds ’n landmerk in Pretoria is – uitsonderlik gedek was met Laurika Rauch en haar man Chris Torr se produksie “Stuur Groete aan Mannetjies Roux”. Pretoria was nog nooit weer dieselfde nie!
Hoe word die teater se volhoubaarheid verseker? Wat word nog hier aangebied behalwe verhoogproduksies?
Volhoubaarheid is absoluut die wagwoord in ‘n land waar ons nie kan bekostig om slegs reaktief na ons bedryf te kyk nie. Daar word talle artikels geskryf en pleidooie gerig – almal met meriete – oor die toestand van die kunste in Suid-Afrika. Ons het ’n kernspan wat gereeld bymekaarkom om krities te kyk na die toekoms en te beplan hoe ons ons teatergangers beter kan dien, maar ook vir ons kunstenaars en teater ’n stabiele heenkome kan bied vir jare om te kom. Eerstens moet ek verwys na Fairtree wat as ons vennoot die pad saamstap. Ons gedeelde waardes en gemeenskaplike kultuur vorm ’n natuurlike en unieke platform wat vir beide partye waarde toevoeg. Verder het ons sustersmaatskappye binne die teaterkompleks soos Odyssey Creative –lokalisasie ateljees wat Internasionale oorklanking, klank- en videowerk doen. Optog Media, ‘n digitale agentskap vir alle digitale dienste, asook Seatme: ’n nasionale kaartjieplatvorm wat vele ander teaters, skole, feeste en instansies bedien met kaartjie- en besprekingsdienste.
Hoe lyk die toekoms vir die teater? Enige planne/hoogtepunte wat voorlê wat jy met ons kan deel?
Soos in ‘n gesin met uiteenlopende kinders wat verskillende belangstellings het, is daar verskeie opwindende vooruitsigte binne die onderskeie besighede geaffilieer met die Fairtree Atterbury Teater. Ons is selfs in die proses om nog kantoorspasie by te voeg om die groeiende personeelkorps te huisves. Die dae van die teater se jaarkalender is reeds vol, maar die potensiaal vir verdere dienste aan hierdie gemeenskap is nog ver van versadig. Ons leef in ’n tyd waar verhoudings al hoe belangriker word, en juis hierin lê talle geleenthede. Die teater self sal egter altyd die Moederskip bly en bied – soos vir die kunste – ook ‘n tuiste vir vele ander inisiatiewe om die mense van ons stad te dien vir die volgende 15 jaar.
Vir meer oor die kunste, kultuur en gemeenskap wat die Fairtree Atterbury Teater help bou, besoek die teater se webblad; www.atterburytheatre.co.za