Die PRG Atterbury Musiekfees is ’n jaarlikse kulturele hoogtepunt in Stellenbosch wat deur Paul Roos Gimnasium, met die ondersteuning van Atterbury, aangebied word. Dié musikale skouspel in Augustus bring die skool se sangers, kore en ’n massa-orkes op een verhoog byeen, saam met ‘n prominente gaskunstenaar.
Ananja Koen, uitvoerende hoof van Atterbury Trust en Cezarre Strydom, musiek-vakhoof by Paul Roos Gimnasium, vertel meer.
Ananja, vertel ons meer oor Atterbury Trust se betrokkenheid by die Musiekfees, en hoekom bly dit vir die Trust belangrik om dit na nege jaar steeds te ondersteun?
Ananja Koen:. Atterbury Property is reeds vir ’n paar jaar as borg by die Musiekfees betrokke. Toe ons ’n Wes-Kaap-kantoor in Stellenbosch gevestig het, het dit vir ons heel natuurlik gevoel dat Atterbury Trust ook deel van hierdie besonderse inisiatief moet word.
By Atterbury Trust glo ons dat die ontwikkeling van jongmense oor veel meer as akademie alleen gaan. Kultuur, musiek en die kunste speel ’n belangrike rol in die vorming van selfvertroue, kreatiwiteit, dissipline en karakter. Die Musiekfees bied aan honderde jongmense die geleentheid om deel te wees van iets besonders en om ervaring op te doen wat hulle nog lank sal bybly.
Cezarre, vertel ons hoe die Musiekfees oor die afgelope nege jaar ontwikkel het?
Cezarre Strydom: Die Musiekfees het in 2015 ontstaan as deel van die skool se 150ste verjaardagvieringe. Die produksie was so suksesvol dat daar besluit is om dit voortaan jaarliks aan te bied. Wat niemand kon voorspel het nie, is hoe vinnig die konsert sou groei en met hoeveel entoesiasme die gemeenskap dit sou ondersteun.
Die droom was nog altyd om die Stellenbosch-gemeenskap saam te bring: 1 300 seuns en ’n orkes van meer as 100 musikante wat almal saam met ’n geliefde Suid-Afrikaanse kunstenaar musiek maak. Die orkes sluit leerders van al die omliggende skole in, asook deelnemers van die Jamestown Sounds-projek en Johnman School.
Wat was die oorsprong-idee agter die fees, en hoekom glo jy dis belangrik dat skole in kultuur en musiek bly belê?
CS: Die doel is om elke leerder die geleentheid te gee om saam met bekende kunstenaars op te tree – ’n ervaring wat min skoolkinders ooit kry. So die fees is nie net vir ’n handjievol musikante nie; maar is iets wat die hele skool saam beleef – leerders sowel as personeel.
Die leerders self stem gewoonlik oor wie die kunstenaar sal wees. Van die mense met wie Paul Roos al opgetree het, is uiters gesogte name soos Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Koos Kombuis, Heinz Winckler, Elvis Blue en Spoegwolf – en vanjaar een van hulle gunstelinge, Rikus Nel.
Kultuur en musiek leer ’n kind dissipline, samewerking en selfvertroue op maniere wat ’n klaskamer alleen nie kan nie. ’n Skool wat daarin belê, belê in afgeronde jong mense. Dit sê ook iets van ons waardes: die week voor dié fees is ons skool betrokke by die Grey College-sportnaweek. Dit spreek boekdele van hoe Paul Roos sport, kultuur en akademie as ewe belangrik beskou.
As opvoeder en dirigent het jy al talle jong musikante sien ontwikkel. Hoe reken jy dra die Musiekfees by tot die ontwikkeling van Paul Roos se toekomstige sterre?
CS: Die Atterbury Musiekfees dien onder meer as vertrekpunt vir die PRG Young Virtuosi-projek, waar ons jong musici al in die laerskool oplei om orkesinstrumente te bespeel. Die orkes het al ses tromboonspelers en agt trompetspelers; kinders wat andersins dalk nooit die kans sou kry om ’n instrument op te tel nie.
Om musiek te bemeester leer jongmense deursettingsvermoë, om te luister en om deel van ’n groter geheel te wees. Die projek het nog baie ruimte om te groei, en ons sien uit na wat die volgende paar jaar inhou.
Atterbury ondersteun al vir baie jare projekte wat jongmense en die kunste ontwikkel. Wat beteken hierdie vennootskap vir die Musiekfees en Paul Roos se leerders?
CS: Sonder Atterbury se ondersteuning sou hierdie produksie eenvoudig nie kon plaasvind nie. Die ondersteuning strek reeds oor generasies, en die vrugte daarvan is duidelik sigbaar.
Een van ons Young Virtuosi-trompetspelers is tans in sy eerste jaar B.Mus. aan die Universiteit Stellenbosch. Ons het ook ’n saksofoonspeler in sy tweede jaar, en ’n koorsangstudent wat die E’bosch-skolekoorfees reël. Ek dink nie die Stellenbosch-gemeenskap besef altyd hoe groot die impak van die Atterbury Paul Roos Musiekfees werklik is nie.
Waarna sien julle die meeste uit tydens vanjaar se fees, en wat hoop julle die gehoor sal na die aand saam huis toe neem?
CS: “Boerepompie”… nee wag, “Hardekole”… nee wag – daar lê vanjaar soveel verrassings voor dat ek nie kan kies nie! Een van ons soliste is ’n oud-leerder wat tans in New York musiekteater studeer en die ander is deel van Cape Town Opera se span. Daar is regtig baie om na uit te sien. Maar die hoogtepunt bly natuurlik daardie oomblik wanneer die massakoor sing, en die saal se mure amper bars van trots – vir Paul Roos en vir Stellenbosch.
Die Musiekfees vind op 19 en 20 Augustus by Paul Roos Gimnasium plaas. Kaartjies is beskikbaar by: https://www.seatme.co.za/events/prg-atterbury-musiekfees-2026