Skip to content

Van BBBEE-verpligting tot blywende impak

Atterbury Foundation NPC maak dit vir maatskappye maklik om ’n impak in die gemeenskap te maak op ’n meetbare, sigbare wyse. Ananja Koen, uitvoerende hoof van Atterbury Trust en Danelle Strydom, bemarkingsbestuurder van Atterbury Trust, vertel meer.

Suid-Afrikaanse maatskappye bestee jaarliks miljarde rande aan BBBEE-inisiatiewe. Wat is die geleentheid wat julle raaksien?
Ananja: Die meeste besighede vra elke jaar hoe hulle hul BBBEE-verpligtinge gaan nakom. Ons glo die beter vraag is: Hoe kan mens daardie verpligting omskep in regte, volhoubare verandering? Deur Atterbury Foundation gee ons maatskappye die kans om hul sosio-ekonomiese ontwikkelingsfondse te belê in projekte waar die impak sigbaar en meetbaar is.

Hoe bepaal julle die fokusareas waarop julle die ondersteuning rig?
Danelle: Ons fokus op vier kernareas. Eerstens ons rentevrye studiebeurslenings vir behoeftige studente. Tweedens Leersaam, ons ondersteuningsprogram vir leerders in die grondslagfase. Derdens Voedsaam, wat daagliks voedingsondersteuning by kleuterskole bied. En dan infrastruktuurprojekte by skole en vroeë-kinderontwikkelingsentrums.

Vertel ons meer van die beursleningsprogram.
Danelle: Ons ondersteun tans 62 studente, van wie 20 tans studeer.  Die program dek studiekoste, registrasie en boekegeld, teen ongeveer R75 000 per student per jaar. Maar ons verskaf veel meer as net finansiële ondersteuning: die program sluit in mentorskap, netwerkgeleenthede en toegang tot Atterbury se beduidende ondersteunersnetwerk. Ons wil hê studente moet nie net hul kwalifikasie verwerf nie, , maar ook gereed wees vir die werkswêreld.

Julle plaas groot klem op vroeë kinderontwikkeling. Waarom?
Danelle: Omdat die eerste paar lewensjare ongelooflik belangrik is. Navorsing wys keer op keer dat vroeë ontwikkeling ’n direkte invloed het op ’n kind se vermoë om later te leer en te presteer. As ons vroeg ingryp, maak dit dikwels ‘n blywende verskil in ‘n kind se lewe.

Van BBBEE-verpligting tot blywende impak

Hoe pas Leersaam by dié doelwit in?
Danelle: Leersaam bied remediërende ondersteuning aan 313 leerders by sewe skole. Baie kinders sukkel met leeragterstande, terwyl hul onderwysers reeds onder geweldige druk werk. Deur ekstra ondersteuning te gee, help ons leerders om op standaard te kom en gee ons onderwysers ook die nodige ondersteuning. Die koste is ongeveer R200 per leerder per maand, maar die langtermynwaarde daarvan is enorm.

Voeding speel ook ’n groot rol in julle werk.
Ananja: Absoluut. ’n Honger kind kan eenvoudig nie leer nie. Deur ons Voedsaam-program kry 2 244 kleuters by 58 kleuterskole in sewe provinsies daagliks ’n voedingsryke ontbyt. Die koste is sowat R85 per kind per maand. Wat ons besonder opgewonde maak, is dat ons binne 18 maande ’n verbetering van 34% aangeteken het in die risiko van groeibelemmering onder die kinders wat deel van die program is.

Hoekom is dit vir julle belangrik om ook infrastruktuurprojekte te ondersteun?
Ananja: Kinders het veilige en stimulerende ruimtes nodig om te ontwikkel. By Angels of Grace in Hammanskraal het ons byvoorbeeld onlangs gehelp met skadunette, ’n nuwe dek en behoorlike sanitêre geriewe en dit het só ’n verskil gemaak is die kinders se ervaring. Ons het ook al infrastruktuurverbeterings by Sun Rise Day Care Centre aangebring, en die 53 kinders daar is ook deel van ons voedingsprogram. By Akkerland Kleuterskool in Jonkershoek help ons met alles van registrasie en ondersteuning vir die onderwysers, tot die verbetering van die terrein en die voedingsprogram. Elke stap dra positief by tot die impak.

Van BBBEE-verpligting tot blywende impak

Wat staan vir julle uit van hierdie projekte?
Ananja: Mens dink so maklik dat ’n projek groot en dramaties moet wees om die moeite werd te wees, maar ons ervaring wys regtig die teendeel. Soms is dit ’n nuwe badkamer, ’n veilige speelarea of selfs ’n verjaardagkoek vir ’n kleuter wat die meeste impak het. Selfs klein dinge skep waardigheid, ’n gevoel van behoort en geleenthede. Dis waar ware gemeenskapsontwikkeling begin.

Wat is julle boodskap aan besighede wat hul BBBEE-fondse wil aanwend?
Ananja: Moenie net kyk na punte op ’n telkaart nie. Kyk na die verskil wat jy kan maak. Wanneer maatskappye saam met Atterbury Foundation werk, word hulle deel van ’n verhaal van transformasie, hoop en geleenthede. Elke bydrae help om kinders te voed, leeromgewings te verbeter, opvoeders te ondersteun en jong mense toegang tot beter geleenthede te gee. Wanneer ons in die jeug belê, belê ons in Suid-Afrika se toekoms.

Vind meer uit oor hoe jou maatskappy betrokke kan raak by Atterbury Foundation NPC. Stuur gerus ‘n e-pos na ananja@atterbury.co.za of besoek https://atterburytrust.org/atterbury-foundation/ vir meer inligting.